Skip to main content

1 Konings 21

Die Here handhaaf geregtigheid vir Nabot teenoor Agab

Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes. Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad. Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.

Isebel tree uit die Fenisiese en Kanaänitiese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor toe hy nie wil toegee nie.

Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie. As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord.

Agab se bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, wat deel is van “sy bloed”, se lyk word wel hier neergegooi – 2 Kon 9) en Isebel sou in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9). Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelik wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.

Teks en konteks

Agab kom op die oog af met ‘n heel aanvaarbare aanbod na Nabot: “Gee jou wingerd vir my vir ‘n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou ‘n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.”

Nabot weier egter volstrek: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

Nabot het die Here geëer as die ware eienaar van die land, soos die wet dit uitgespel het, en geglo dat Hy volle seggenskap oor eiendom én lewe gehad het. Selfs die koning het geen reg gehad om inbreuk te maak op die eiendom en lewe van sy onderdaan nie.

Omdat die grond as ‘n erfdeel van die Here beskou is, mag dit nie uit familiebesit vervreem word nie. Deur dié beginsel is die reg van die enkeling in Israel gewaarborg en is verhoed dat grond in die hande van ‘n paar rykes kom en uiting gegee aan die ideaal van Miga 4:4 wat dit later só sou opsom: “Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom.”

Daar was ‘n hele aantal riglyne daaroor in die wet:

  • Levitikus 19: 14: “Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie. Dit is grenslyne wat voorheen deur die voorgeslag vasgestel is vir die eiendom wat jy sal besit in die land wat die Here jou God jou as besit sal gee.”
  • Die beginsel is duidelik in Levitikus 25:23 neergelê: “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.”
  • Selfs al sou dit uit noodweer gebeur dat die grond verkoop sou word, het die Here bepaal in Levitikus 25:24: “Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld.”
  • Daarbenewens het die volgende beginsel gegeld in Levitikus 25:25: “Wanneer ‘n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop.” Iets wat mens in werking sien in die boek Rut, waar Boas die grond van Naomi en Rut terugkoop. En in die herstel – of jubeljaar moes enige grond wat van die oorspronklike eienaar weggeneem is, in elk geval weer teruggegee word:
  • Daarby het Levitikus 25:28 bepaal: “In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem.”

Agab het egter verkies om die beginsels gerieflikheidshalwe te vergeet, want die begeerte na die stukkie wingerd was darem net te groot. Hy verontagsaam dus die duidelike wil van die Here en verkies om die verleiding van sy begeertes na te streef. Hy gee homself oor om die verkeerde te doen deur hierdie aanbod vir die wingerd van Nabot in weerwil van die duidelike wil van die Here dat dit nie mag gebeur het nie.

Daarmee verontagsaam hy die beginsels wat die Here gegee het wat vreedsame en gelukkige naasbestaan moontlik gemaak het. Daarby tas hy ook die eer van God aan deurdat Hy God se reg op die totale lewe van sy kinders in die wind slaan.

Nabot kies daarenteen om God se wil uit te voer: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

Let op dat hy nie sê, “Ai, ek is so lief vir hierdie stukkie grond, ek is verknog aan my wingerd.” Nee, in sy weiering om dit te verkoop gee hy erkenning aan God se wil, eer hy God se beginsel vir sy lewe. God het gesê: “Geen grond mag permanent verkoop word nie … ” en dit is genoeg vir Nabot. Aan hierdie beginsel wil hy getrou bly.

Dit gaan dus nie vir Nabot slegs oor die wingerd wat vir die geslagte bewaar moet word nie, maar oor die Here wat dit as lewensbeginsel aan Israel gegee het. Aan God se wil en beginsel vir die lewe, wil Nabot getrou bly. So gee hy eer aan die Here.

Agab was hieroor kwaad en bedruk. Sy begeerte na die wingerd is nie bevredig nie en nou kry hy nie rus vir sy siel nie. Selfs sy eetlus is aangetas en hy lê depressief op sy bed.

Onvergenoegdheid is ‘n sonde wat eintlik sy eie straf inhou, want dit los jou nie, dit vreet aan jou binneste. Agab is ‘n ryk man met die rykdom van Kanaän tot sy beskikking, maar dit is vir hom niks werd sonder Nabot se wingerd nie. Verkeerde begeertes stel ons bloot aan voortdurende wroeginge, want dit woeker altoos voort in ons. Vandag is dit Nabot se wingerd, môre is dit weer iets anders. En ons verkoop onsself vir die bevrediging van ons verkeerde begeertes.

Op die toneel verskyn vervolgens Isebel, die pragtige maar beginsellose vrou van Agab. Agab wil homself darem nog weerhou van ‘n erger sonde, maar Isebel het geen gewete nie. Sy is dadelik omgekrap deur die – in haar oë – halsstarrige Nabot en besluit om sondermeer iets daaraan te doen.

Sy stel haar man gerus met die woorde in vers 7: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.”

Hiermee tree sy op volgens die Fenisiese en Kanaänitiese regsopvatting, waarvolgens die koning van die land volle seggenskap oor die lewe en eiendom van sy onderdane gehad het. God se wil en beginsel dra dus by haar geen gewig nie. Ek wil dit hê, want ek wil dit hê, en niemand gaan in my pad staan nie.

Op geslepe wyse reël sy egter eers ‘n vasdag en laat Nabot heel voor sit. Met die hulp van twee valse getuies – nogal volgens die Israelitiese voorskrifte van die wet wat geen beslissing aanvaar het, sonder dat daar deur twee persone getuienis afgelê is – laat sy Nabot stenig en oorhandig triomfantelik die buit aan Agab. Volgens 2 Konings 9:26 het sy ook gesorg dat dieselfde doodslot Nabot se seuns tref, sodat daar geen direkte erfreg ter sprake sou wees nie en Agab doodeenvoudig die grond as koning in besit kon neem.

Hoe verskriklik dat mag so misbruik kan word en dat die godsdiens en die reg so ingespan kan word in diens van die kwade.

En Agab? Kom hy in opstand teen die verkragting van die wet en die beginsels van die Here? Nee, hy is maar te bly dat sy begeerte na die grond vervul is, en hy gaan eis dit vir homself op.

So is dit met die sonde. Sonde baar sonde. Verkeerde begeertes bring verdere verkeerde begeertes na vore. Dit vang jou vas en maak dit al hoe moeiliker om die regte te begin doen.

Maar God slaap nie. Hy sien die getrouheid van Nabot raak en die verkragting van die reg deur Agab en Isebel. Omdat sy eer aangetas word, tree Hy op. Elia, as mondstuk van die Here, soek Agab op by die wingerd en konfronteer hom met die woorde:

“Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë gaan Ek ‘n ramp oor jou bring en jou vernietig. Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei.”

Ook Isebel spring nie vry nie. Oor Isebel het die Here gesê: “Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël,” – soos letterlik gebeur het volgens 2 Konings 9:30-37.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Nabot se wingerd is ‘n besondere menslike drama. ‘n Mens kan so maklik identifiseer met die intrige tussen die koning Agab en sy onderdaan Nabot asook tussen die koning en sy vrou Isebel. Dit is immers sulke eg menslike emosies wat hier uitgebeeld word. En in ons identifikasie met die verskillende persoonlikhede, kom ons die betekenis van die lewe agter en die belangrikheid van ‘n oop, eerlike en beginselvaste lewenswyse.

Daarby is die verhaal ‘n duidelike getuienis van die werklikheid van God se bestaan en sy intense betrokkenheid by alles wat op aarde tussen mense gebeur. Die verhaal sê: “God bestaan en Hy slaap nie! Soos by Nabot, so ook by ons! God is hier en Hy laat Homself geld in ons lewens. As sy eer aangetas word, tree Hy op.”

Dit tref my ook weereens hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik. In die vorige hoofstuk het die Here hom twee keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom. Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.

Die verhaal leer ons dus dat getrouheid aan God se beginsels vir die lewe meer beteken as die nastreef van verkeerde begeertes en veral die misbruik van mag om jou wil op ander af te dwing. Nabot staan as simbool van die belangrikheid van ‘n oop, eerlike en beginselvaste lewenswyse.

Laat ons ons lewens en die beskerming daarvan aan God toevertrou. Ons sekuriteit lê nie in die handhawing van ons regte nie, maar in die toevertrou van ons lewe aan God. Onskuld of opregtheid kan ook nie altyd ons beskerming wees nie – dit was ook nie vir Jesus ‘n beskerming nie. Maar laat ons daarby ons verheug in die wete dat God nie slaap nie. Al kos dit ook langs die pad ons dood – soos vir ‘n Nabot en ‘n Jesus en ‘n Stefanus en enige ander martelaar vir Christus – God sal reg laat geskied.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar