Skip to main content

Esra 7

God stuur Esra as Skrifgeleerde om die onderrig en regspraak vanuit die wet van God te behartig

Esra kom nou self op die toneel in 458 vC in die 7de regeringsjaar van Artasasta ’n hele 58 jaar na die tempel voltooi en ingewy is deur Serubbabel.

Teks en konteks

Esra is ’n direkte afstammeling van Aäron. Hy verskyn op die toneel as Skrifgeleerde wat onderleg is in die eksegese van die wet van Moses. Let op hoe hy die regte kwaliteite het – geslagsregister en geleerdheid – maar dat dit steeds die Here is wat sy hand oor Esra gehou het, sodat die koning hom alles gegee het wat hy van hom gevra het.

Dit neem hom ongeveer 4 maande om die trek van Babel na Jerusalem te onderneem onder die beskermende hand van die Here, saam met ’n aantal ander Jode, veral mense wat in die tempeldiens gebruik kon word: priesters, Leviete, tempelsangers, poortwagte en tempelslawe.

Esra het bekend gestaan as iemand wat hom gewy het aan die wet van die Here. Letterlik staan daar dat sy hart op die studie van die wet gerig was. Meer in die besonder was Hy ’n praktiese teoloog. Hy wou die teorie van die wet in die praktyk toepas en die geloofsgemeenskap elke voorskrif en bepaling leer wat nodig is om gehoorsaam aan die Here te wees.

Vervolgens hoor ons van die volmag wat die koning aan hom verleen het, geskrywe in Aramees. Interessant genoeg lyk dit uit die skrywe van die koning asof hy baie goed ingelig was oor die wet en voorskrifte van die Here.

Sy opdrag behels ses aspekte:

  • Hy verleen goedkeuring aan enige Jood om saam met Esra na Jerusalem te gaan.
  • Hy gee opdrag aan Esra om deeglik ondersoek in te stel na die stand van sake in Jerusalem.
  • Hy gee ook ’n vrywillige gawe wat vir die tempel gebruik kan word, beide vir die offerkultus en vir enige ander benodigdhede. Interessant genoeg tel wyn onder die offers, soos dit ook op ’n paar ander plekke in die OT genoem word (Eks. 29:40; Hos. 9:4).
  • En hy gee die parameters waarbinne Esra die Wes-Eufraat provinsie se ondersteuning in terme van geld, voedsel en offers kan verwag.
  • Hy skeld ook die hele personeel wat aan die tempel verbonde is van enige belasting, heffing of tol kwyt.
  • Sy opdrag aan Esra behels verder dat hy ook die regspraak moet hanteer vir al die Jode van die Wes-Eufraat aan die hand van die wet van God, d.w.s. nie net in Juda en Jerusalem nie. Dit moes insluit dat mense die wet van God geleer word wat dan ook ’n rigsnoer vir die lewe sou word. Ongehoorsaamheid aan die wet van God kon streng gestraf word.

Esra was baie verheug daaroor, veral oor die goedgesindheid wat die Here by die koning en sy personeel teenoor hom geskep het. Dit het hom vol moed gemaak om die leiers van die Jode te inspireer om saam met hom te trek.

Boodskap en betekenis

Hoe mooi staan dit nie in vers 6 nie: “Die koning het alles wat hy gevra het aan hom gegee, omdat die Here, sy God, se hand oor hom was.”

Dit is God wat die verandering bring. Ons taak is om naby Hom te leef sodat ons beskikbaar kan wees vir wanneer die Here se tydsberekening in werking tree.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar