Skip to main content

1 Korintiërs 14

’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens

Na alles wat Paulus oor die gawes en die liefde gesê het, fokus hy in hoofstuk 14 op wat in die eredienste moet gebeur en maak basies twee punte:

  1. Alleen die gawes wat verstaanbaar en opbouend is, moet in die eredienste beoefen word (1 Kor. 14:1-25), en
  2. Alles moet gepas en ordelik in die erediens gebeur (1 Kor. 14:26-40).

Teks en konteks

Alleen verstaanbare en opbouende gawes mag in eredienste beoefen word – 1 Korintiërs 14:1-25

Paulus plaas die gebruik van gawes in die gemeente in die konteks van die liefde waarin gestreef word na dié gawes wat in die gemeente tot almal se voordeel is. Die gawe van profesie word uitgesonder as van besondere belang vir opbou, bemoediging en vertroosting.

Paulus brei uitvoerig uit oor die onsinnigheid van onverstaanbare tale in die erediens eerder as die verstaanbare opbouende karakter van bv. die deel van ‘n openbaring, insig, kennis, profesie, of lering wat duidelik verbind kan word met van die gawes wat hy in 1 Korintiërs 12 beskryf het.

Geleerdes onderskei gewoonlik tussen die verstaanbare tale van Handelinge 2:4-6 – die mense uit die ongeveer vyftien taalgroepe wat daar was, het ervaar dat die apostels in hulle eie taal (dialek) met hulle praat – en die onverstaanbare (sommige sê ekstatiese) tale wat in 1 Korintiërs 12-14 genoem word – waar uitleg nodig was.

Dit is egter dieselfde woord wat gebruik word in beide Handelinge en Korintiërs: glōssais (tonge/tale) sonder enige kwalifikasie. Dit is net uit die konteks wat ‘n mens die onderskeid in betekenis kan aflei.

in Handelinge 2:4 is dit duidelik dat die “ander” tale wat die dissipels gepraat het, deur die aanwesiges verstaan is. Elkeen het die boodskap in sy moedertaal (“eie dialek”) gehoor. Dit was dus verstaanbare en bekende tale.

In 1 Korintiërs 14:2-5 is dit duidelik dat die persoon met hierdie gawe van tale:

  • met God gepraat het,
  • sonder dat ander dit kon verstaan,
  • geheimenisse van die Gees geopenbaar het, en
  • homself opgebou het, eerder as ander.

Vandaar die opdrag dat die boodskap uitgelê moet word, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.

Boonop is tale eintlik ’n teken vir die ongelowiges, soos die Here dit al in Jesaja se tyd voorspel het (Jes 28:11-12 – die verwysing na die “Wet” dui op die hele Skrif – vgl. Joh 10:34 waar Jesus dieselfde doen deur ‘n aanhaling uit die Psalms aan die “Wet” toe te skryf).

Nie dat Paulus die gebruik van tale afkraak nie, hy gebruik dit immers self. Maar hierdie onverstaanbare tale is bedoel vir die binnekamer, nie soseer vir die eredienste en byeenkomste nie, omdat dit ’n gebedstaal is. Natuurlik behalwe as daar uitleg is, wat dié onverstaanbare taal in ‘n verstaanbare formaat tot opbou van die gemeente verander.

Paulus sal dus eerder vyf woorde met sy verstand wou praat as 10 000 woorde (bedoelende “ontelbare” woorde) in ’n onverstaanbare taal. Dit is die volwasse manier om in eredienste op te tree, wat nie net vir gelowiges iets beteken in terme van hulle opbou nie, maar ook vir ongelowiges of buitestaanders wat daardeur aangespreek word.

Alles moet gepas en ordelik in die erediens gebeur – 1 Korintiërs 14:26-40

Dit beteken dat wanneer die gemeente bymekaar is, dit gepas en ordelik moet gebeur. Elkeen wat ’n bydrae het om te lewer, moet mekaar met liefde hanteer en die een na die ander optree.

Let op hoe wyd die verskeidenheid van bydraes is waarvan Paulus hier praat: ’n psalm, onderwysing, openbaring, sowel as ’n onverstaanbare taal en uitleg daarvan (anders moet die een wat die taal praat stilbly). En daar kan meer as een met dieselfde gawe optree, maar nie te veel nie. Daar moet ook onderskeiding wees deur die bydraes te beoordeel, want dit moet onderrig en bemoedig.

Paulus se opdrag dat vroue in die erediens moet stilbly, is weereens iets wat deur die gebruike van daardie tyd verklaar kan word. Vroue het in daardie tyd, soos die gebruik vandag nog in Oosterse kerke is, apart van mans in die kerk gesit het, baie keer op die balkon, en dan blykbaar te veel vrae gevra het van hulle “eie mans”, sodat dit die gang van die erediens onderbreek het.

Wat Paulus dus verbied, is ’n onderlinge gepratery, nie ’n optrede binne die gemeente deur vroue nie. Paulus het geen probleem gehad dat vroue as bidders en profete optree in die gemeente nie, soos ons reeds in hoofstuk 11 gesien het.

“Laat alles egter gepas en ordelik verloop.”

Boodskap en betekenis

Paulus wys in hierdie hoofstuk hoe geestelike gawes in die praktyk van eredienste beoefen moet word. Die gawe van profesie word uitgelig saam met gawes soos kennis, lering en bemoediging, omdat dit verstaanbaar was en ander opgebou het. Daarteenoor is onverstaanbare tale sonder uitleg van geen waarde in die publieke byeenkomste van die gemeente nie.

Paulus leer ons dus dat nie alle gawes geskik is vir elke konteks nie. In die erediens moet die gemeente se opbou, nie individuele selfvervulling, die doel wees. Tale sonder uitleg het ’n plek in persoonlike gebed, maar in die gemeente is verstaanbare bydraes die weg wat gevolg moet word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…