Skip to main content

Josua 7

Die Here wys met die nederlaag teen Ai dat sy heiligheid ononderhandelbaar is

Teks en konteks

Josua-hulle lei na die oorwinning oor Jerigo duidelik aan ‘n oormaat misplaaste selfvertroue. Só asof daar nie ‘n ingrype van God was om die oorlog in hulle guns te beslis nie! Hulle leer dié les ook moeilik, want met die afvaardiging van Gibeon doen hulle steeds nie moeite om die Here te raadpleeg vóór hulle hulle optrede beplan nie (Jos 9).

Maar, dit is nie al nie. Sonder die medewete van die leiers van die volk, trouens van enigiemand anders, het Akan van die goed wat aan die Here gewy was, gevat.  En al was dit ‘n enkele persoon wat “troueloos gehandel” het (dieselfde woord word vir die ontrouheid van owerspel gebruik – Num 5:12-13) met die buit van Jerigo, ontvlam die toorn van die Here teen die hele volk Israel.

Josua is nie bewus daarvan nie, maar maak verder die fout om die verkenners se verslag oor Ai te aanvaar, en nie die Here te raadpleeg nie.  Menslike strategiese oorwegings oorheers dus in die veldtog met noodwendige destruktiewe gevolge. Die manne van Ai verslaan die kleiner mag wat teen hulle opgetrek het, en maak 36 Israeliete dood.

Dit het die volk se moed gebreek en Josua en die ander leiers tot verootmoediging gedryf met hulle gesigte in die grond voor die ark van die Here. Hulle het nie net gerou oor die manne wat dood was nie, maar ook oor die feit dat hulle moes vlug voor hulle vyande.

In sy gebed verkwalik Josua die Here vir die Intog, wat aanvanklik so goed verloop het, om hulle net daarna in die land te versaak sodat hulle voor hulle vyande moes vlug. Let op dat sy gebed tog uiteindelik nie net by hulle ervaring bly nie, maar eindig by die feit dat dit God se Naam in gedrang sal bring, soos Moses ook talle kere in die woestyn aan die Here uitgewys het.

Die Here is egter helder in sy antwoord op die gebed van Josua. Hulle hoef nie te rou en met hulle gesig in die grond te lê nie. Hulle moet regstel wat verkeerd is. Die voorskrifte van die verbond is oortree. Hulle het gesondig en goed gevat wat aan die Here behoort. Daarmee het hulle self nou mense geword wat die toorn van die Here verdien en vernietig moet word!

Dit dra die boodskap dat die teenwoordigheid van die Here ‘n heilige teenwoordigheid is. Waar Hy by sy mense is, beskerm en bewaar Hy hulle en laat Hy hulle voorspoedig wees in alles wat Hy hulle beveel. Maar waar nie volgens sy voorskrifte opgetree word nie, sal die volk van die Here nooit staande kan bly nie.

Hulle moes dus hulleself reinig deur die goed wat gevat is, terug te besorg, en die familie van Akan, die man wat waarskynlik deur die Unim en Tummim of een of ander vorm van ‘n lotery aangewys is, uit te wis.

Dit is vir my swaar om te lees dat Akan sy sonde bely: “ek wou dit (silwer en goud) baie graag hê”, maar dat hy en sy familie steeds uitgewis word. Hierdie oortreding van die tiende gebod (jy mag nie begeer nie) word nie oorgesien of vergewe nie (Eks 20:17; Deut 5:21). Soos Eva ook in die tuin na die boom van die kennis van goed en kwaad gekyk het, die vrugte begeer het, en die straf daarvoor moes dra (Gen 3:6).

Maar, Josua se opmerking daaroor bring perspektief, letterlik vertaal: “Hoekom het jy oor óns gebring moeilikheid? Moeilikheid bring die Here oor jóú vandag!” Sonde het gevolge, en in dié geval het 36 manne gesneuwel weens Akan se sonde. Omdat dit ander families in rou gedompel het, en die heiligheid van die Here aangetas het, word die hele familie uitgewis en die buit van die Here teruggeneem.

Daarom het Israel die plek die naam van Akorlaagte gegee, want Akor beteken “moeilikheid”, “onrus” of “ramp”. Eers daarna het die Here se toorn bedaar.

Boodskap en betekenis

Uit hierdie verhaal kom die volgende twee perspektiewe.

1. Akan se verhaal bevestig dat God sonde nie sonder meer oorsien nie

Josua se hantering van die sonde van Akan vind nie net ‘n weerklank in die OT nie. Agab se nageslag word gestraf weens sy sonde teen Nabot (1 Kon 21:21). Daniël bely die sonde van die voorgeslagte asof dit die mense van sy tyd se sonde is (Dan 9). Ná die terugkeer uit ballingskap begelei die Leviete die hele volk in skuldbelydenis op ‘n vasdag, nie net vir hulle eie sondes nie, maar vir dié van die voorgeslagte (Neh 9:2).

Hierdie hantering van sonde vind egter ook ‘n weerklank in die NT met Petrus se hantering van die sonde van Ananias en Safira (Hand 5). Omdat hulle ‘n deel van dit wat hulle vir die Here beloof het, teruggehou het, word hulle uitgewis.

Ons sal goed doen as ons nie dié gedagtes verban na die OT of die oorgangstyd met die NT nie. Dit geld elke gelowige, maar ook selfs die geloofsgemeenskap. Wanneer gelowiges in gebreke bly om die sonde van gemeentelede te hanteer, dra dit immers destruktiewe gevolge vir die hele gemeente.

Vergelyk twee van Paulus se verskeie opmerkings hieroor.

In die geval van onwaardige deelname aan die nagmaal het dit ook fisiese gevolge in die gemeente – swakkes, sieklikes en sterfgevalle (1 Kor 11:27-32). Die gemeente word opgeroep tot selfondersoek en ‘n waardige deelname aan die nagmaal. Dit het veral ingesluit hoe met die armer lede van die geloofsgemeenskap by die nagmaal omgegaan is.

In die geval van bloedskande beveel hy die gemeente om daarmee te handel deur berisping en die vermyding van geloofsgemeenskap met die oortreders (1 Kor 5:2). Vergifnis en bemoedig kom egter ook in spel as die aanvanklike handeling die gewenste gevolg gehad het (2 Kor 2:5-11; 13:5-10).

Die heiligheid van God binne die gemeenskap van die gelowiges is nie onderhandelbaar nie. Nie in terme van ons geestelike lewe nie.  Ook nie in terme van ons gedrag nie.  Sonde moet hanteer word, want daarsonder sal ‘n geestelike lewe altyd mank gaan aan oortuiging en vrug.

Daarvan sal die verhaal van Ai vir altyd ‘n getuienis bly.

Maar Ai word ook ‘n baken van hoop, soos die volgende hoofstuk sal vertel …

2. Die Akorlaagte word ook ‘n poort na ‘n nuwe toekoms

Die OT verwys ook terug na die Akorlaagte op twee plekke, maar verkondig daarmee saam die hoop wat die Here in die toekoms sal bring om die “moeilikheid” van die verlede om te keer waar mense vrede en voorspoed sal beleef in hulle nougesette navolging van die Here se wil:

  • Jesaja 65:10 “Die Saronvlakte sal ’n weiveld wees vir die kleinvee, die Akorlaagte ’n lêplek vir die beeste, vir dié uit my volk wat vra na my wil.
  • Hosea 2:13-19: “Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as ’n Baäl beskou nie. Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie. Dié dag sal Ek vir Israel ’n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en ’n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees. Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Die gevolge van die sonde word deur sy onverbreekbare trou verbreek, want in sy genade bind Hy ons aan Homself sodat ons sy liefde kan beantwoord, iets wat in die NT met die koms van Jesus ‘n werklikheid geword het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda