Skip to main content

2 Samuel 6

God se wil moet in alles die deurslag gee

2 Samuel 6 handel oor Dawid wat die ark van die verbond na Jerusalem toe bring nadat hy sy koningskap daar gevestig het. Dit gebeur nie sonder twee tragedies nie. Die eerste is Ussa wat sterf omdat hy die ark nie op die regte manier gehanteer het nie. Dawid sorg dan die verskuiwing van die ark presies volgens God se riglyne hanteeer word. Die tweede is Migal wat Dawid se koningskap in twyfel trek met haar minagtende woorde en met kinderloosheid gestraf word. Dawid wys daarmee dat hy eerder God sal eer as om na haar pype te dans. Ons lees die verhaal eers uit die hoek van 2 Samuel 6 se weergawe daarvan. In die volgende drie plasings gee ons aandag aan 1 Kronieke 13, 15 en 16 se weergawe daarvan.

Teks en konteks

Interessant dat Dawid met militêre mag optrek om die ark van die verbond te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9). Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word. Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval. Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon waar God hom laat “val” het voor Hom – 1 Sam 5). God se heiligheid word daardeur onderstreep.

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n onsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het. Dit leer my dat God se wil in alles die deurslag moet gee. Oor alles moet Hy geraadpleeg word.

Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Dawidstad in (1 Kron 15:11-15).

Moses het lank terug beveel dat die Here ‘n plek sal uitkies dat “sy Naam daar kan woon.” (Deut 26:2) Die plek waar dit moes wees, is egter nie toe al uitgespel nie. Dawid kry die voorreg om die plek uit te kies as God se gesalfde, die voorloper van die Messias. Hy kies Jerusalem weens ‘n paar antieke tradisies wat met die stad verbind is.

Van die redes waarom Jerusalem gekies is, kan wees dat die ewige koningskap van Melgisedek met die stad verbind is (Gen 14:18; Ps 76:3; vgl Ps 110 en Hebr 5-7); dit is ook die plek waar God Homself aan Abraham openbaar het in die landstreek van Moria (Gen 22:2); dit is ook die plek waar God Hom aan Dawid op die dorsvloer van Arauna openbaar het (2 Sam 24:16). Die dorsvloer word dan uiteindelik die plek waar die tempel gebou is deur Salomo (2 Kron 3:1).

Jerusalem is ook Salem (Gen 14:18; Ps 76:3; vgl ook Hebr 7:2), Jebus (Jos 15:8; 18:28; Rigt 19:10; 1 Kron 11:4–5), Sion (2 Sam 5:7; 1 Kron 11:5; 2 Kon 19:31), die stad van Dawid (2 Kron 5:2) en die stad van God (Ps 46:6) genoem.

Dawid offer ‘n bul en vetgemaakte kalf elke ses treë, en dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is. Dit kan een van die redes wees vir Mikal se misnoë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het. Let op hoe Mikal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap. Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.

Boodskap en betekenis

Drie tradisies word hier met mekaar vervleg in die keuse van Jerusalem as die stad van Dawid, die stad van God.

PRIESTERLIK: Die eerste is die priesterskap van Melgisedek, die koning van (Jeru)Salem, die priester van God die Allerhoogste, wat die ewige versoening in spel bring. Jesus sou as die Messias uiteindelik ‘n Hoëpriester wees in die orde van Melgisedek, ‘n priesterskap wat vir ewig versoening sou bewerk vir sy mense, soos Hebreërs 5-7 daaroor uitwy.

KONINKLIK: Die tweede is die verbond met Abraham waarin God nie net belowe dat Abraham ‘n land, nageslag en groot betekenis sal hê nie (Gen 12:1-3) – dinge wat in Hebreërs 11 met die hemelse Jerusalem verbind word – maar ook vir hom ‘n offerlam voorsien in die plek van Isak, ‘n voorafskaduwing van die Lam van God wat aan die kruis in ons plek gesterf het. Daar is ook ‘n koninklike kant hieraan, want God het ook belowe dat daar konings uit Abraham se nageslag sou voortspruit (Gen 17:6).

PROFETIES: Die derde is die verbond met Moses waarin God sy riglyne vir die lewe in ‘n reeks gebooie gebaseer op die Tien Gebooie gegee het wat op ‘n profetiese manier vir ons die sin en betekenis van die lewe voor God sou uitspel. Dit is hierdie wet wat God uiteindelik in ons harte ingeskryf het sodat ons van binne af aan Hom gehoorsaam kan lewe (Jer 31:31-34; Hebr 8:8-13).

Met die ark van die verbond nou in Jerusalem word dit nou die plek waar God sy teenwoordigheid aan almal kon openbaar. Hy is uiteraard oral teenwoordig, maar op ‘n spesiale wyse in die plek waar sy Naam aanbid en geëer sou word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.