Skip to main content

Psalm 87

Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore

Psalm 87 brei uit op die stelling in die vorige Psalm: “Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal u Naam eer.” (Ps 86:9 – 2014 vertaling).

Die Psalmis se visie is dat Sion die sentrum van al die nasies se aanbidding van die Here sal word, ’n droom wat deur verskeie van die profete geëggo word.  Trouens, die Joodse volk word in ballingskap gestuur, omdat hulle nie die droom van die Here wou omarm nie – dit is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees (Jes 2:1-5; Miga 4:1-7).

Teks en konteks

Vers 1 – Die Psalmis begin sy lied met die beskrywing van die vestiging van God se plek, Sion, op die heilige berg (die meervoud word in die oorspronklike teks gebruik).

Vers 2 – God se liefde vir sy plek onder die volk word in die oorspronklike teks beskryf as dat Hy “die poorte van Sion” liewer het as “al die wonings van Jakob”.   Dit is omdat God in die tempel vrye gemeenskap met sy mense kon geniet, iets wat in die NT oral moontlik geraak het met die koms van die Heilige Gees.  Interessant genoeg sien ’n mens in Handelinge dat die byeenkomste van die gelowiges daarom al hoe meer in die huise van gelowiges plaasgevind het, want die tempel was nie meer die enigste plek waar God Hom aan mense openbaar het nie.

Vers 3-4 – Sion as die “stad van God” word verheerlik, nie net omdat God daar is en Hy die plek lief het nie, maar omdat dit ook die plek is van al die nasies wat Hom (er)ken.  Rahab (Egipte) en Babel word genoem, twee plekke waar Israel slawe en ballinge was, sowel as Filistea (kusstreek aan die Middellandse See), Tirus (kusstad in Lebanon noord van Filistea) en Kus (Nubië, suid-oos van Egipte, vandag deel van Ethiopië), wat almal deur die eeue vyande van die Godsvolk was.  “Hulle almal het kinders van Sion geword.” .  Soos Peterson in The Message vertaal: “I name them off, those among whom I’m famous”!

Die Hebreeuse teks lui eintlik dat hulle tel “onder dié wat daar gebore is.”   Dit beteken in wese dat lede van die nasies wat God erken volle burgerskap onder sy mense sal hê.

Vers 5 – Sion word in hierdie visie van die Psalmis die geestelike tuiste van elkeen wat in verhouding met God is, uitgedruk met die metafoor dat elke persoon in haar gebore is.  Geen wonder dat Peterson dit heel spitsvondig vertaal: “Word’s getting around; they point them out: ‘This one was born again here!’”  Daar is ’n duidelike verband met Jesus se woorde aan Nikodemus dat ’n mens van bo gebore moet word! (Joh 3)

Vers 6 – in die register van God se mense – “die boek van die volke” – word elkeen van dié mense uit al die nasies wat God erken, deur Homself opgeskryf.  Hulle word gereken as kinders van Sion – hulle is in sy perspektief daar gebore!  Watter wonderlike voorreg!

Vers 7 – daar is maar net een manier om op dié voorreg van kindskap te reageer – met sang en dans word God, die bron van alles, geloof en prys.

Boodskap en betekenis

Die visie op aanbidding in die NT verander aan die een kant van ’n plek na ’n persoon, van Sion na God self, soos Jesus aan die Samaritaanse vrou duidelik maak: “daar kom ’n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid … Daar kom egter ’n tyd en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid … God is Gees en wie Hom aanbid, moet in Gees en waarheid aanbid.” (Joh 4:21-24).

Die universele karakter van dié aanbidders word in die NT ook steeds met groot passie beskryf, net soos in dié Psalm.  Hulle kom “uit elke geslag en taal en volk en nasie.” (Openb 5:9).  Geen wonder die vrou het Jesus op die punt in haar gesprek by die put herken as die Messias nie (Joh 4:25)!

Tog word daar aan die ander kant ook van die hemelse Sionsberg, die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, gepraat waar God se mense se name in sy boeke opgeteken is (Hebr 12:22-23; vgl ook Openb 14:1-5).  Ook Paulus praat van die hemelse Jerusalem wat ons almal se moeder is (Gal 4:27).  Kragtige metafore wat hulle oorsprong in die visie van Psalm 87 het.

Ek loop dié dag tegemoet met ’n lied in my hart: “Hierdie een is daar gebore!”  (vers 6).  Dit is nou ek!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar