Skip to main content

Jeremia 21

Ek het besluit om hierdie stad nie te spaar nie

Inleiding op Jeremia 21-23

Terug by Jeremia. Hy is nog steeds besig met sy boodskap aan Juda en Jerusalem. Hy begin hierdie deel met ’n boodskap aan die koning wat ook ’n boodskap aan die volk insluit (21:1-10) waarin Jeremia ons vertel van die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar, met koning Sedekia wat ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.). Dit was in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.

Daarna som Jeremia in ’n opeenstapeling van kort profesieë (21:11-23:40) – wat uiteraard oor meer as ’n dekade gelewer is – sy vorige boodskap aan die konings, profete en priesters op, sommige daarvan verbind aan spesifieke konings:

  • Sallum – vierde seun van Josia, soos Jojakim en Sedekia – hy het die naam Joahas aangeneem, maar net drie maande regeer (609 v.C.);
  • Jojakim – tweede seun van Josia (609-598 v.C.) wat eintlik Eljakim geheet het, maar dié naam Jojakim van die Egiptiese koning afgekry het,
  • die koninginmoeder – dit is waarskynlik Sebida, moeder van Jojakim (2 Kon. 23), omdat dit onwaarskynlik is dat Jojagin se ma, Negusta, tyd gehad het om ’n groot invloed te kry, gegewe dat Jojagin so kort regeer het, en
  • Jojagin – seun van Jojakim wat ook net drie maande regeer het, in ballingskap weggevoer is, saam met sy ma, maar later begenadig is (597 v.C.).

Ander verwysings na die konings is in die algemeen (koningshuis van Juda, huis van Dawid). Sedekia (derde seun van Josia en laaste koning van Juda – 597-586 v.C.) word nie in die kort profesieë genoem nie, maar natuurlik wel in die verhaal waarmee die gedeelte begin. Hy word ook moontlik veronderstel in die eerste profesie (21:8-10).

Teks en konteks

Jeremia 21:1-7 – Ek lewer julle oor in die mag van koning Nebukadnesar

Die woord van die Here kom met die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar na Jeremia om vir koning Sedekia te antwoord om God se wil vir Jerusalem te aanvaar. Dit was in antwoord op die halfhartige poging wat Sedekia aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.). Dit was ook in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag (Jer. 37).

Sedekia stuur vir Pasgur, moontlik sy kleinseun, omdat hy hier as die seun van Malkija aan ons bekend gestel word. Malkija was ook die naam van koning Sedekia se seun (Jer. 38:6). Dit is dus duidelik nie dieselfde persoon as die Pasgur wat in hfst. 19-20 genoem word nie, wat as die seun van Immer aan ons bekend gestel is. Hierdie Pasgur, seun van Malkija, het Jeremia strykdeur sterk teengestaan en sou later saamspan teen hom en hom in die put van sy pa laat gooi om hom uit die weg te ruim (Jer. 38), hoewel Jeremia tog uiteindelik uit dié benarde situasie gered is.

Ook die priester Sefanja gaan saam met die versoek dat Jeremia die Here sal raadpleeg vir ’n wonderwerk. Sefanja het, anders as Pasgur, duidelik ’n meer gematigde houding teenoor Jeremia gehad. Hy lees op ’n punt vir hom briewe wat van die ballinge af teruggestuur is (Jer. 29:29) en reageer nie op die negatiewe inhoud daarin nie en vra weer op ’n keer, in opdrag van Sedekia, dat Jeremia vir hulle sal bid (Jer. 37:3) hoewel dit nie tot enige uitkoms gelei het nie. Sefanja is in ballingskap weggevoer en deur koning Nebukadnesar doodgemaak in Ribla, in Hamat, ’n tragiese einde (Jer. 52:24-27).

Jeremia het egter ’n deurpriemende boodskap aan Sedekia dat hulle nederlaag onafwendbaar is. Met ’n treffende metafoor dat die Jode se wapens in die hand van die Here TEEN hulle sal veg binne die stad, word die verwerping van die Here en die oordeel oor die stad bevestig. Dit is die Here self wat teen hulle sal veg met sy groot mag en krag: “in groot toorn, gramskap en woede.” Ná die pes, swaard en hongersnood sal hulle oorgelewer word in die mag van Nebukadnesar wat hulle sal: “afmaai sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.”

Jeremia 21:8-10 – Wie in hierdie stad bly, sal sterf – wie uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe

In ’n verdere boodskap aan die volk (en dus vir Sedekia ook) raai Jeremia hulle aan om eerder met Nebukadnesar saam te werk, raad wat hulle natuurlik egter nie gevolg het nie. Die keuse wat die Here hulle gee, waarin daar tog ’n sprankie hoop is, word in die wind geslaan. Wie in die stad bly, sal sterf. Wie egter uitgaan en na die Galdeërs oorloop, sal lewe, “al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.” Die besluit van die Here staan egter vas. Die oordeel is finaal.

Jeremia 21:11-12 Sorg dat daar reg geskied

In hierdie woord wat aan die koningshuis van Juda, die huis van Dawid, gerig word, word die plig van die koning om te sorg dat daar: “elke dag reg geskied,” na te kom. Die koning moet teen rowers en uitbuiters optree. Anders sal die Here dié sonde nie ongestraf laat bly nie.

Jeremia 21:13-14 – Ek gaan jou straf, Jerusalem

In hierdie woord wat aan die stad, Jerusalem, as sodanig gerig word, word die gewaande onaantasbaarheid van die stad as ’n wanopvatting aan die kaak gestel. Die paleis en alles rondom sal verbrand word as straf van die Here.

Boodskap en betekenis

Die intriges tussen Jeremia en die koningshuis val my op in dié gedeelte. Aan die een kant is daar die versoek vir gebed en ’n wonder ingrype van die Here. En Jeremia word daarvoor geraadpleeg. Aan die ander kant is daar die halsstarrige hardkoppigheid wat hulle die antwoord wat die Here gee in die wind laat slaan. Soos ons later sal sien, word Jeremia ook aktief oor dié woord vervolg.

Sedekia kom oor as ’n weifelende twyfelende kansvatter, soos nog duideliker later aan sal blyk. Pasgur openbaar hom as ’n verbete arrogante teenstander wat uiteindelik geen genade met Jeremia het nie. Sefanja kom ’n mens agter het baie meer deernis met Jeremia, maar kry dit ook nie reg om die boodskap van die Here te omarm en daarvolgens te begin lewe nie.

Al drie van hulle mis dus die kans wat die Here hulle gee om tot inkeer te kom, waarin ’n stukkie genade aan hulle belowe word, dat hulle met hul lewe sal afkom. Presies wat Jeremia al gebid het bied die Here aan (Vgl. Jer. 10:17-25 – Jeremia se intersessie gebed: “Straf ons nie in u toorn nie”). Maar hulle weier dit. Hoe jammer. Hoe ontsettend jammer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…