Skip to main content

2 Kronieke 32:24; 2 Konings 20:1-11; Jesaja 38

God sien Hiskia se trane raak en genees hom

Die verdere verhaal van Hiskia in Kronieke, Konings en Jesaja word tematies vertel. Jesaja fokus bv agtereenvolgens op die bedreiging van Sanherib (Jes 36), Hiskia se gebed en die verlossing van Assirië (Jes 37), Hiskia se siekte en genesing (Jes 38) en Hiskia se hoogmoed en straf (Jes 39). Dit is ook die orde in Konings en Kronieke.

Indien ‘n mens dit egter kronologies lees, moet ‘n mens die verhale van Hiskia se siekte en genesing, sowel as sy hoogmoed en straf, eerste lees.

Daar is twee redes daarvoor:

  1. Jesaja en Konings dui aan dat dit in die tyd van Merodak-Baladan van Babel (Jes 39:1; 2 Kon 20:12) plaasvind. Die koning het in 705-703 vC onafhanklikheid van Assirië geniet, maar is daarna weer tot onderdanigheid gedwing deur Sanherib van 703 vC af.
  2. Jesaja en Konings dui ook die belofte van die Here aan dat hy vir Hiskia-hulle sal beskerm van die Assiriese bedreiging (2 Kon 20:6). Dit het eers in 701 vC gebeur.

Dit is dus in dié tyd wat die gesante van Babel na Hiskia toe gekom het nadat hulle van sy genesing gehoor het. Hulle wou hom waarskynlik in ‘n alliansie intrek teen Assirië. Dit het egter nie geslaag nie, en was waarskynlik ook een van die redes waarom Sanherib teen Jerusalem opgetrek het.

Let op dat die verwysing na die vye en Hiskia se vraag in Jesaja 38:21-22 eintlik beter pas tussen vers 6-7 soos dit inderdaad die geval is in 2 Konings 20:7-8. Anders eindig die verhaal in Jesaja op ‘n retoriese vraag wat min sin maak in die konteks, hoewel ‘n mens dit wel kan vertaal soos in die 2020-vertaling wat dit as ‘n opsommende opmerking interpreteer: “Hiskia het mos gevra: ‘Wat is die teken dat ek na die huis van die Here sal opgaan?’”

Teks en konteks

2 Kronieke 32:24 het net ‘n kort verwysing na Hiskia se siekte en genesing. Die verhale van Konings en Jesaja was immers al bekend. 2 Konings 2:1-11 en Jesaja 38 gee meer detail, maar die geskrif – dit is in die styl van ‘n Psalm geskryf – van Hiskia kom net in Jesaja voor.

In die tyd vóór die Assiriese bedreiging het Hiskia dodelik siek geword. Jesaja reageer op Hiskia se siekte met ‘n boodskap dat hy maar sy testament moet opstel, hy gaan dit nie maak nie.

Hiskia draai daarop in moedeloosheid sy gesig na die muur, maar anders as Agab (1 Kon 21:4), bid hy tot die Here. Let op dat hy sy voorbeeldige lewe voor die Here en sy gehoorsaamheid aan God se wil – wat reg is in u oë – in herinnering roep, terwyl hy bitterlik huil.

Die Here reageer op die gebed deur Jesaja met ‘n boodskap van hoop na Hiskia te stuur. Die Here roep in sy antwoord Hiskia se voorvader Dawid in herinnering en verleng Hiskia se lewe met 15 jaar. Let op dat die Here ook dít wat Hiskia nie vra nie, verlossing van die Assiriërs, vir hom belowe.

Jesaja het saamgeperste droë vye op die sweer laat sit – miskien weens die reputasie wat vye gehad het dat dit swere kan oopbreek – en Hiskia het bly leef.

Daarop vra Hiskia ‘n teken dat die Here hom regtig gesond sal maak, met die idee dat hy op die derde dag daarna die tempel sal kan besoek. Jesaja voldoen aan sy versoek, en soos met die vorige tekens wat op God se inisiatief gegee is – vir Agas (Jes 7) en die latere een – ook aan Hiskia (Jes 37) – word ook hierdie teken deur God gegee. Die skadu skuif terug op die trappe van die sonwyser, wat vir Hiskia ’n duidelike teken van gebedsverhoring was.

Hiskia reageer hierop met ‘n Psalm waarin hy die voorreg om steeds voor God in die wêreld en veral in die tempel te lewe, besing. Dit sluit só af: “Die Here is daar tot my redding; ons sal my snaarinstrumente laat opklink by die huis van die Here solank ons leef.” (Jes 38:20). Daarmee skaar hy hom by die nalatenskap van Dawid en Asaf vir wie se Psalms hy baie lief was (2 Kron 29:30).

Boodskap en betekenis

Die gedeelte is ‘n uitstekende perspektief op God se verhouding met ons – Hy werk nie met ‘n bloudruk wat ten alle koste gehandhaaf moet word nie. Hy verander sy besluit in reaksie op, beter gestel, in verhouding met mense. Die wonderlike nuus is dat God ons trane raak sien EN iets daaraan doen!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…