Skip to main content

Psalm 76

God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek

Dié Psalm word in die Griekse vertaling van die OT verbind aan God se oorwinning oor Sanherib in die tyd van koning Hiskia. Die tipe oorwinning wat in die Psalm beskryf word, pas besonder goed by dié geveg in die tyd van Hiskia omdat die oorwinning daar behaal is sonder dat enige een van Israel eers nodig gehad het om ’n wapen op te tel. God het namens hulle geveg en hulle verlos.

Teks en konteks

God is ’n leeu

Wat uitstaan van hierdie Psalm, is dat dit ’n verstommende uitspraak maak oor God se werk. In plaas daarvan dat menslike woede God ontstel, gebruik Hy dit in sy diens (vers 11): “selfs die laaste reste van die woede gebruik U in u diens.” Dit kan óf beteken dat dié wat vir God kwaad is, uiteindelik Hom sal moet loof, óf dat God se oordeel oor dié wat Hom teëstaan lof by God se mense sal ontlok. Laasgenoemde pas beter in die konteks van die verhaal van Sanherib in, maar in albei gevalle teken die Psalmis ’n prentjie van God wat teëstand transformeer tot ’n triomf vir Homself.

Dit is waarom God met ‘n leeu vergelyk word in vers 2, soos ’n mens kan aflei in die beskrywing van God wat vanuit sy skuilplek in die stad Jerusalem (Salem), sy lêplek in die tempel op Sion, optree om sy teëstanders se aanvalle af te weer en hulle oorlogswapens te vernietig.

God beskerm sy volk

Vers 5 se 1983 vertaling verberg die feit dat dié metafoor voortgesit word deur die volk Israel met die berge van Jerusalem en Israel gelyk te stel wat amper die prooi van hulle vyand geword het, maar deur God gered is. Daarom vertaal die 2014 vertaling dit soos volg: “U was skitterend, magtig, op die berge wat die prooi moes wees.” (eerder as “Die glans waarmee U verskyn het, was skitterender as dié op die hoogste berge.”)

Dit beteken dat God soos ’n leeu is wat sy skuilplek, sy lêplek, d.w.s. Israel, sy mense, beskerm. ’n Ongelooflike diepsinnige en ook bemoedigende en hoopgewende metafoor. Dit is waarom die aanval van die teëstanders tot niks gekom het nie, want God het hulle teëstand getroef (vers 6-7) om die intieme verhouding met sy mense in stand te hou. ’n Mens kan eintlik hoor hoe God se verhoring van Hiskia se gebed in die tempel met die briewe van Sanherib voor die Here oopgesprei hier geëggo word!

God is Ontsagwekkend

Dié God is voorwaar ontsagwekkend. Sy woede (toorn) laat mense sidder en beef (vers 7-8). Maar, let op dat God nie sommer kwaad raak vir niks nie. Sy woede ontbrand ter wille van die “verdruktes van die land” (“hulpeloses op die aarde” – 1983) om hulle te verlos.

Wat beteken dat as dít is wie God is, as Hy aan die kant van verdruktes is, beteken dit dat sy mense hulle ook oor verdruktes moet bekommer en vir hulle saak moet opstaan.

Daarom is die enigste gepaste reaksie teenoor dié God wat teëstand transformeer in triomf vir Homself, om in dankbaarheid teenoor Hom te leef, jou dankoffers te bring as geskenke wat hulde bring aan die Ontsagwekkende, voor wie die hele aarde sidder (vers 11-13).

Moontlik was dié deel van die Psalm bedoel as ’n stukkie kritiek teen Hiskia wat juis nie dít gedoen het nie, maar geskenke ontvang het van die koning van Babel en toe deur Jesaja tereggewys is (2 Kon. 20).

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm bemoedig my met die beeld van God wat namens sy kinders optree en vir hulle veg. Hy is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek. Sy woede is gerig op dié wat ons wil benadeel. Hy sal reg laat geskied, selfs sonder dat ons ’n vinger hoef te verroer. Só ’n God verdien ons hele lewe as ’n geskenk uit dankbaarheid vir wie Hy vir ons is.

Ek vertroetel vandag in my gees die woorde wat ek as titel vir die Psalm gebruik het: “God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek”.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda