Skip to main content

1 Samuel 23

Dawid raadpleeg die Here in elke besluit

Twee verhale word vir ons hier vertel. Die eerste verhaal is Dawid se bevryding van ‘n Joodse dorp in Filistynse gebied, Keïla, waar hy hulle van die Filistynse plundering van hulle oeste red. Let op hoe Dawid die Here raadpleeg in elke besluit en hoe Abjatar hom daarin ondersteun. Die Here help Dawid deur hierdie geestelike begeleiding om die gevaar van beide Saul wat teen hom en Keïla optrek sowel as van die inwoners van Keïla wat uit eie belang vir Saul kant kies, Dawid se hulp aan hulle ten spyt, die hoof te bied. Die tweede verhaal is Dawid se pogings om Saul se vervolging te ontsnap in die woestyn van Sif, wes van die Dooie See, sowel as die woestyn Maon, net suid van die woestyn van Sif, alles in Juda. Die Siffiete was Dawid glad nie goedgesind nie en het hom uiteindelik twee keer verraai (vgl 1 Sam 26). Dit is duidelik met die onverwagse boodskap by Sela-Hammaglekot wat Saul na sy land laat terugkeer, dat dit net deur God se hulp is wat Dawid Saul se kloue sal ontsnap.

Teks en konteks

In die verhaal van Keïla word hulp by Dawid gesoek eerder as by Saul. Hulle erken dus sy vermoë bó dié van Saul. Dat Dawid nou God se keuse as koning is, word bevestig deurdat hy selfs van buite die koninklike kringe gebruik word om Israel se vyande te verslaan.

Ten spyte van sy eie manne se vrees is die stem van die Here genoeg vir Dawid om op die hulpkreet te reageer. Hy maak egter dubbeld seker by die Here en kry ‘n belofte dat die Here die Filistyne in sy hand sal gee.

Met die oorwinning oor die Filistyne kom ‘n mens agter dat Abjatar hom nou by Dawid geskaar het en die Here namens Dawid raadpleeg met ‘n efod, die linnekleed wat die priesters gedra het wanneer hulle die Here geraadpleeg het.

Saul was bly dat Dawid nou bereikbaar in ‘n stad was en het besluit om hom daar te gaan vang. Dawid was egter bewus van die dreigende gevaar en vra twee keer raad by die Here. Een, of Saul wel gaan kom. En twee, of Keïla hom sal verraai ter wille van eie belang of nie. Die Here antwoord bevestigend op albei vrae.

Dawid vlug dus met sy manne, trek weg uit Keïla en bly die hele tyd rondbeweeg, eers in die woestyn van Sif, in bergskuilings, en later in die van die woestyn van Moan. Die Here het hom die hele tyd van Saul beskerm. Dawid se manne was nou 600 man sterk.

Jonatan kom hom ook besoek in Goresa, in die woestyn van Sif, om hom te bemoedig in sy vertroue op God. Selfs sy pa, sê Jonatan, weet dat Dawid koning sou word. Jonatan was bereid om tweede in bevel te wees. Hulle het hulle verbond daar hernu waarna Jonatan weer huis toe is.

Die Sifiete verraai egter vir Dawid by Saul en gee sy presiese posisie vir hom: “op die heuwel van Hagila suid van Jesimon,” in die Sif woestyn. Hulle was bereid om Dawid oor te lewer aan Saul. Hulle sou dit later weer doen (1 Sam 26).

Toe Saul uiteindelik opdaag, was Dawid en sy manne egter in die woestyn van Maon, in die Araba, suid van Jesimon. Net ‘n goddelike wonderwerk kon Dawid egter red, want toe Saul letterlik aan die een kant van ‘n berg in die omgewing gesoek het na Dawid, was Dawid en sy manne aan die ander kant daarvan.

Toe dit egter lyk asof dit klaarpraat is met Dawid kom daar ‘n berig uit Israel van ‘n aanval deur die Filistyne op die land wat Saul die aftog laat blaas het om eers die Filistyne te gaan trotseer.

Daarom, sê die skrywer, noem hulle daardie plek Sela-Hammaglekot. Die frase Sela-Hammaglekot kan óf as “skeidingsrots” óf “glibberige rots” vertaal word wat die betekenis dra van óf ‘n plek waar Saul en Dawid se paaie geskei het óf ‘n plek waar Dawid ‘n “slippery slope” net-net deurstaan het.

Boodskap en betekenis

1 Samuel 23 herinner ons daaraan om God se leiding in elke faset van ons lewens te soek en nie bloot op ons eie insigte en wysheid te vertrou nie. Let ook op hoe spesifiek Dawid in sy versoeke om leiding is.

Die gedeelte beklemtoon daarmee die waarheid dat God ons beskerm teen die bedreiginge van die wêreld. Ons kan op Hom vertrou om ons te bewaar en te beskerm. Al wat nodig is, is dat ons in alles sy wil soek. Soos Jesus veel later sê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Luk 11:9-10)

Die gebeure by die Skeidingsrots is daarom ‘n treffende illustrasie van God se beskerming. ‘n Verhaal wat ons bemoedig in ons eie uitdagings en bedreigings. Die gebeure laat my ook dink aan Psalm 23 waar Dawid getuig: “Hy lei my op die regte paaie … selfs al gaan ek deur donker dieptes …” ‘n Psalm wat goedskiks na van hierdie ervarings in die woestyn verwys. Ons lees hierna wel Psalm 54 wat direk na hierdie gebeure verwys.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar