Skip to main content

1 Samuel 18

Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid

Hoofstuk 18 vertel die verhaal van Dawid se groterwordende rol in beide Israel en die koningshuis, telkens met verwysing na mense se groeiende liefde vir hom al dan nie. Eers raak Saul se seun Jonatan bevriend met Dawid. Dit is ‘n liefde wat hou. Hulle sou lojaal bly aan mekaar tot ná Jonatan se dood. Dawid se lof word daarna deur die vroue van Israel en Juda besing wat egter Saul se gesindheid verander in ‘n gevaarlike geveindsde liefde. Hy begin strikke vir Dawid stel deur twee keer aan te bied dat hy met een van Saul se dogters trou. David weier aanvanklik en sê dat hy te arm is en nie die bruidskat kan bekostig nie. Wanneer Saul egter aandui dat die bruidskat dooie Filistyne is, aanvaar Dawid die uitdaging en trou met Saul se jongste dogter, Migal. Die huwelik sou egter vir beide groot hartseer bring.

Teks en konteks

Van die begin af was daar ‘n hegte verhouding tussen Dawid en Jonatan: “Jonatan het hom liefgekry soos homself.” Jonatan het sy mantel en uitrusting vir Dawid gegee, eintlik ‘n soort profetiese aksie, waarmee hy sy aanspraak op die troon en die weermag afgee. En ons moet onthou, Jonatan was self dapper en baie geliefd onder die volk, soveel so dat hulle hom gered het toe hy die koning se bevel verontagsaam het (1 Sam 14). Jonatan se besondere band met Dawid het dus heel moontlik gelei daartoe dat die volk se agting vir Dawid gegroei het. Dit is in elk geval heel onwaarskynlik dat Dawid dit sonder hierdie band met Jonatan sou gemaak het in die huis van Saul.

Die verwysing na Jonatan se liefde vir Dawid (dieselfde woord ʾāhaḇ word regdeur hierdie hoofstuk vir liefde gebruik) het geen homoseksuele konnotasies nie. Jonatan het immers ten minste een seun gehad waarvan ons lees, Mefiboset (1 Kron 8:34; 9:40). Daarbenewens word in hierdie hoofstuk van talle se liefde vir Dawid geskryf op dieselfde wyse as wat Jonatan se liefde vir Dawid beskryf word: die hele volk van Israel en Juda was vir hom lief (vers 16), asook Migal, wat uiteindelik sy vrou geword het (vers 20). Trouens, sy word as verlief geteken wat duidelik romantiese inhoud het, anders as die beskrywing van Jonatan se liefde.

Let op hoe Saul vir Dawid basies annekseer vir die koningshuis en hom nie toelaat om na sy familie terug te gaan nie. Jonatan daarenteen sluit met Dawid ‘n verbond van wedersydse lojaliteit en liefde sonder enige beperking.

Geen wonder nie dat Saul jaloers raak toe Dawid meer eer as hyself kry met hulle oorwinnings. In sy woede oor die vroue ‘n groter ophef maak van Dawid as van hom het sy gesindheid teenoor Dawid verander en het hy hom wantrou.

Dit loop uit op ‘n bose gees van God wat van Saul besit geneem het en hy ten spyte van die kalmerende invloed van Dawid se musiek hom twee keer probeer vaspen het met sy gevegspies.

Dit het Saul se vrees vermeerder en die kontras met Dawid laat groei. Die Here was duidelik met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe groter verantwoordelikhede gegee in die gevegte waarskynlik met die hoop dat hy aan die voorpunt van die gevegte sou sneuwel. Dawid het egter oral waar hy gegaan het, sukses behaal, want die Here was met hom. Trouens, Dawid se sukses het die liefde vir hom laat toeneem onder die volk.

Toe Saul nie slaag om Dawid in die oorloë te laat faal nie, het hy probeer met sy eie kinders. Eers het hy Merab belowe aan Dawid, maar haar op wispelturige wyse aan iemand anders gegee. Toe dit bekend word dat Migal, Saul se ander dogter, verlief was op Dawid, het hy Dawid ‘n amper onmoontlike taak gegee om 100 Filistyne man alleen te oorwin. Dawid het egter 200 Filistyne oorwin wat die huwelik ‘n voldonge feit gemaak het.

Saul se insig dat die Here met Dawid was, het egter sy vyandskap teen sy skoonseun verskerp. Die konflik met Dawid sou hiervandaan die kenmerkende motief van Saul se koningskap bly.

Jonatan en die volk se liefde vir Dawid staan dus in skerp kontras met die wantroue van Saul.

Boodskap en betekenis

Die verhaal help ons om na te dink oor die kontras tussen vriendskap en vyandskap.

  • Vriendskap gedy in verhoudings van lojaliteit en liefde – soos dié van Jonatan en Dawid.
  • Vyandskap gedy in verhoudings van jaloesie en vrees – soos dié van Saul en Dawid.

Ons leer egter ook hier hoe om vyandskap te hanteer.

Saul se jaloesie spoel oor in verraad, vyandigheid, en pogings om Dawid te vernietig. Maar, teenoor Saul se jaloesie staan die getrouheid van Dawid teenoor hom. Ondanks die vyandigheid wat Dawid ervaar, bly hy getrou aan Saul as koning. Dawid se voorbeeld roep ons dus op om getrou te bly, selfs in moeilike en uitdagende omstandighede.

Ons leer ook uit hierdie verhaal dat God alles ten goede laat meewerk, selfs die kwaad wat Saul bedink teen Dawid. Saul se motivering om Dawid oral te stuur om te gaan veg, was bedoel om hom skade aan te doen. Dawid was egter oral suksesvol. Want, die Here was met hom. Soveel so, dat hy die aanvoerder geword het van die manskappe, eerder as Abner.

Dit het Dawid se waarde vir die volk onderstreep en was een van die redes waarom al twaalf stamme uiteindelik deur hom verenig kon word. So kon God sy koningskap vir ewig bevestig in die Messias wat uit sy nageslag gebore sou word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…