Skip to main content

1 Samuel 16

Die Here kyk na die hart

Die tweede en laaste verwerping van Saul in hoofstuk 15 word opgevolg in hoofstuk 16 met die salwing van die koning wat Saul sou vervang. God gee daarvoor aan Samuel opdrag om na Betlehem te gaan. So kom Dawid op die toneel wat die hoofkarakter in die res van 1 Samuel en die hele 2 Samuel sal wees. Ons lees ook dat Saul Dawid in sy diens geneem, aanvanklik vir sy musikale vermoëns, maar later ook vir sy militêre vermoëns, soos veral hoofstuk 17 sal illustreer met die verhaal van Goliat. Die verhaal van Dawid se groeiende mag en die verhaal van Saul se kwynende mag word hierna in die res van 1 Samuel op vernuftige wyse met mekaar gekontrasteer. Dit is natuurlik nie net die Bybel wat vir ons vertel van Dawid nie. Sy lewe en koninkryk word ook in buite-Bybelse historiese bronne vermeld. Daar word onder andere in ‘n inskripsie van die koning van Aram (hedendaagse Sirië) wat in 1993 in Dan in die noorde van Israel ontdek is na die “huis van Dawid” verwys.

Teks en konteks

Die Here herinner Samuel in die diep teleurstelling oor Saul aan die feit dat dit die Here self is wat Saul verwerp het. Die Here self is die ware Leier van Israel! God het reeds op ’n seun van Isai in Betlehem besluit wat Samuel moet gaan salf. Sy uitverkiesing gee die deurslag.

Die Here gee selfs vir Samuel raad hoe om die moontlike gramskap van Saul te ontwyk deur ’n verskalf as ’n “maaltydoffer” of “vredesoffer” te bring (vgl Lev 3:1). Die een wat die offer bring, kon mense laat deel het in die feesmaaltyd wat daarna plaasgevind het. So kon Samuel dus vir Isai daarheen uitnooi sonder dat iemand dit vreemd sou vind.

Isai was die seun van Obed by Boas en Rut (Rut 4:17). Hy het agt seuns gehad, insluitende Dawid. 1 Kronieke 2:12-15 lys net sewe. Een van die seuns is dus uit die stamboom gelaat, soos ook in ander stambome die geval was, hoekom weet ons egter nie regtig nie.

Die Here is duidelik daaroor dat Hy anders kyk as mense. Hy sien die hart raak en keur die eerste sewe seuns van Isai af. Dit is eers wanneer Dawid, die jongste seun, gehaal word waar hy kleinvee opgepas het dat die Here sê: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Dawid was weliswaar self aantreklik, maar dit was sy hart wat die Here raakgesien het.

Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem. Saul daarenteen het die omgekeerde ervaar. ‘n Bose gees – en let op – “wat van die Here af kom”, het hom beangs gemaak.

Dit laat sy amptenare soek vir iemand om vir hom verligting te bring met musiek op ’n lier wat met die teenwoordigheid van die Here geassosieer was. Saul het immers dit vroeër ervaar toe hy as koning gekies is (1 Sam 10:5). Dawid was teen die tyd al bekend vir sy musiek sowel as sy vaardigheid in gevegte en gesprekke, maar veral vir die feit dat die Here met hom is.

Isai het ingestem toe Saul vir Dawid se dienste vra, en het hom gestuur met ’n donkie, brood, ‘n leersak wyn en ‘n boklam. Dit was ironies genoeg dinge wat voorheen ’n rol gespeel het met die aanloop tot Saul se verkiesing as koning (1 Sam 10:3). Dit is die einste dinge wat nou Dawid op sy reis na koningskap vergesel.

Saul het baie van Dawid gehou, en Dawid het sy wapendraer geword. ’n Gevoel wat nie lank sou duur nie, want Saul sou hierna toe hulle verhouding begin versuur, ongeveer sestien keer Dawid se lewe probeer neem (vgl 2 Sam 18:11, 17, 25; 19:1, 10, 11, 15, 20-21, 22; 23:8, 15; 24:2; 26:2)!

Boodskap en betekenis

Drie dinge val my op in die gedeelte:

  • Dat die verandering van koningskap met die Gees te make het. Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van die dag af kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur. Alles hang van die Here af.
  • Mense kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid (let op hoe selfs Dawid beskryf word in vers 18) – God kyk na die innerlike. Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree. Die Here se keuses moet die deurslag gee, en nie ons eie insigte nie.
  • Dat Dawid se verkiesing eers lank hierna tot sy werklike koningskap lei, waar hy erken word deur die hele volk; dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het, sy roeping kom eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing. Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.

‘n Bietjie meer oor die hart

‘Die hart is in die Bybel die setel van jou gedagtes en wilsbesluite. Jou hart bepaal jou karakter, bepaal jou standvastigheid en vasberadenheid in sedelike besluitneming (1 Kor 7:37).

Die hart word ook geassosieer met emosies soos blydskap (Hand 14:17), angs (“vervaard van hart” – Jes 35:4), jaloesie (Spr 23:17), haat (Lev 19:17), en liefde vir God (Deut 6:4).

Dit is ook met jou hart wat jy jou gees – die kontakpunt met God – deursoek om agter te kom wat die Here sê (Ps 77:7).

Dit kan ook funksioneer as jou gewete, soos van Dawid gesê word dat: “sy hart hom geslaan het,” toe hy ‘n deel van Saul se mantel in die spelonk afgeny het (1 Sam 24:5).

Maar, as ons sê die hart het met ons gedagtes te make, moet ons die hart nie onmiddellik met ons verstand verbind nie, die setel van kennis en intelligensie, soos ons vandag daaroor dink nie.

Die Bybel praat wel oor ons verstand, soos van Abigajil wat ‘n “goeie verstand” (Hebreeus śekel) gehad het (1 Sam 25:3) en Salomo wat ‘n “groot verstand” gehad het (1 Kon 4:29). Maar, die hart (Hebreeus lēb) gaan meer oor die gedagtes wat ons dink as oor die intelligensie van die denker.

Dit is ook so dat die Bybel die hart met die verstand kan verbind. Soos Job wat sê dat iemand se hart gesluit kan word vir verstand of insig, sodat hulle ten gronde gaan (Job 17:4). En Spreuke ons juis kan aanmoedig om ons hart te neig tot verstand (Spr 2:2).

Maar verstand is eerder iets wat jy verwerf, as wat dit die orgaan is waarmee jy dit verwerf. Hoewel Jeremia tog in die rigting begin praat van verstand wat ook ‘n setel in ‘n mens is (qereb – Jer 31:33; nous – Rom 12:2; dianoia – Hebr 8:10; 1 Pet 1:13).

Net om die prentjie te voltooi, wil ek ook iets sê oor die Bybelse prentjie van jou “niere”, want dit word baie keer saam met die hart gebruik. Die niere is in die Bybel die setel van verlange (Job 19:27) en jou gewete (Ps 16:7). Dit is daardie deel van jou binnekant wat bly is wanneer mense die regte dinge sê (Spr 23:16).

Daarom word hart en niere baie keer saamgevoeg omdat dit ‘n manier is om van jou hele bewussyn, jou binnekant te praat (Ps 26:2; 73:21; Jer 11:20; 20:12). Dit is ook waar die Here sy diepste werk in jou doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.