Skip to main content

Rigters 13

Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag

Teks en konteks

Ná die fokus op Jefta in sy stryd met die Ammoniete verskuif die fokus van die boek na Simson in sy stryd met die Filistyne, iets wat alreeds in Rigters 10:7 aangeraak is. Die tydperke kon natuurlik ook oorvleuel het, omdat Simson meer in Juda in die suide van die land optree en Jefta in Gilead in die noordooste.

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here gee hierdie keer Israel vir ’n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank. Die patroon van verval en straf herhaal hom dus weer.

Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste. Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See tot by die grens met Egipte in die suide, gewoon, dit wat ons vandag as die Gasa strook ken.

Die Here roep hierdie keer iemand vóór die Israeliete so ver kom

Let op dat die normale patroon van die Israeliete wat “roep” nie hier gevolg word nie, maar dat die Here uit eie beweging na 40 jaar besluit om iets aan die situasie te doen. Hy roep die nuwe situasie in aanskyn.

Dit begin by die vrou van Manoag en haar man wat gebly het in Sora en uit die stam van Dan was. Hoewel Manoag se naam genoem word en nie dié van sy vrou nie, blyk dit van meet af aan dat sy die eintlike kontakpunt met die Here is.

Dié vrou is kinderloos. Die Engel van die Here verskyn aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind. Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word. Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan die Engel se verskyning aan Maria in die NT, ook waar haar man Josef nie by haar is nie.

Interessant is dat hierdie vrou in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here. Die opdrag aan haar om nie wyn of bier te drink en niks onreins te eet nie, is in ooreenstemming met die gelofte van die Nasireërs (Numeri 6). Dieselfde sou geld vir Simson met die ekstra voorskrif om nie sy hare te skeer nie. Sy hare sou uiteindelik ‘n bepalende rol speel in die effek wat sy lewe as rigter op die konflik tussen Israel en die Filistyne wou hê.

Die gelofte kon tydelik of permanent wees. In Simson se geval was dit lewenslank, soos dit later ook met Samuel die geval was (1 Sam 1). Samuel se hare is dus ook nooit geskeer nie.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind. Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.

Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn nie direk aan hom nie, maar eers weer net aan die vrou. En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Die Engel van die Here blyk God self te wees

Manoag wil gasvry wees en bied aan om ‘n bokkie gaar te maak, maar die Engel weier om daarvan te eet, en beveel aan dat dit as ‘n brandoffer – wat met sondevergifnis verbind word – vir die Here geoffer word.

Manoag is egter nuuskierig wie die engel regtig is, en vra die man se naam, want hy het nog nie regtig besef wat besig is om hier te gebeur nie.

Die Engel van die Here beskryf egter sy Naam as te “wonderlik” om uit te spreek. Die Hebreeuse woord “pěliʾyˆ” wat hier met “wonderlik” vertaal word, verbind hierdie Engel op ‘n subtiele wyse beide aan Jahwe self (Eks 15:11 – “Bewerker van wonderdade”) as aan die Messias (Jes 9:5 “Wonderbare Raadsman”).

Ook Jahwe se verordeninge is “wonderlik” (Ps 119:129) wat ‘n mens met nuwe oë na die Skrif, die Woord van God, behoort te laat kyk.

Manoag offer daarom ‘n bokkie, net soos Gideon vroeër. En net soos by Gideon eet die Engel nie van die vleis nie, maar laat ‘n vlam uit die altaar die bokkie verteer en styg op ‘n wonderbaarlike manier in die altaarvlam hemelwaarts.

Die praktiese wysheid en teenwoordigheid van gees van Manoag se vrou bly ‘n mens by

Die besef daag uiteindelik by Manoag op dat hy inderdaad met die Here self te doene gehad het. Dit is wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit regtig die Here self was wat aan hulle verskyn het.

Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

Die vrou noem haar seun Simson, “klein son”, ‘n voorafskaduwing van die lig wat hy vir Israel in hulle stryd met die Filistyne gebring het. Hoewel dit net ‘n tydelike verlossing sou wees, het dit getuig van die “groot son” wat later die Messias vir die wêreld sou word.

Soos Maleagi dit beskryf het: “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” (Mal 4:2).

Drie van die dissipels het ‘n voorsmakie hiervan in die Here Jesus se heerlikheid op die Berg van Verheerliking gesien: “Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.” (Matt 17: 2; vgl Openb 21:23; 22:5).

Trouens, Jesus self sê dat dit van ons waar sal word: “Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. ‘Wie ore het, moet luister.’” (Matt 13:43).

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir 20 jaar leier van sy volk sou wees.

Simson het groot geword en die Here het hom geseën en die Gees van die Here het hom begin lei, letterlik hom ge-”stir”! Die Filistyne sou die rimpeleffek hiervan vir 20 jaar aan hulle lyf moes trotseer.

Boodskap en betekenis

Let op – God kies nie ‘n vooraanstaande gesin nie.  Hy kies randfigure, soos ‘n mens in die unieke alleenloper Terminator van ‘n man, Simson sien.  En Terminator was hy – so sterk soos ‘n bees.

  • Op ‘n keer het hy ’n leeu doodgemaak.
  • Op ’n ander keer het hy 30 ouens doodgeslaan om hulle klere vir sy teenstanders te gee, toe hulle sy raaisel se antwoord uitgevis het by sy meisie in Timna.
  • Op nog ’n ander keer het hy 300 jakkalse se sterte aan mekaar gebind en fakkels tussen hulle sterte aan die brand gesteek en ’n klomp landerye uitgewis.
  • Op nog ’n ander keer het hy ’n duisend Filistyne doodgemaak met ’n donkie kakebeen.
  • Op nog ’n ander keer die stadspoort van Gasa uitgeruk en gedra tot op ’n berg, waarskynlik daar naby (die teks sê tot by “die berg wat voor Hebron is”).

Maar wat die teks wil beklemtoon, is nie net dat hy sterk was nie, maar dat sy eintlike bron van krag God was: “Simson het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom … begin lei.”  Daar staan letterlik: God het sy treë begin bepaal.  En regdeur kom hierdie leiding van God na vore.

Hoewel Simson se optrede dus heel uitsonderlik bly: hy is ‘n alleenloper, sonder ’n leër, ’n Terminator, word daar meer as met die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (“kragtig op hom gekom” – sê die oorspronklike). God kies dus wie Hy wil, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel en gebruik hulle om wonderlike dinge te doen.

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue.  Kyk, hoewel Simson sy lewe lank ’n nasireër was, d.w.s. hy het nie wyn gedrink nie, en hy nie sy hare geskeer nie, behalwe die een keer aan die einde van die verhaal, weet ons dat hy nie juis ‘n sedelike reus was nie. Hy het die vermoë gehad om, heel naïef wil dit voorkom, in sy liefde vir vroue deurgaans vernietigende verhoudings aan te knoop.

Maar, en dit is só diepsinnig, die skrywer van Rigters verseker ons, dat op ‘n manier die Here juis met sy swakheid ‘n plan gehad het.  Hy verklaar selfs in 14:4 dat die Here hierdie insidente beskik het: “Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ‘n geleentheid skep om die Filistyne te straf”.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel.  Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kon vernietig.  En dit is waarvoor God hom geroep het.  Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan.

En op ‘n manier verrig hy sy grootste verlossingsdaad toe hy op sy swakste is, oë uitgesteek, in die tempel van Dagon in Gasa (die strook aan die kuslyn wat vandag nog in die nuus is in die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne), en in sy laaste doodskreet die hele tempel op die Filistyne aftrek.  In sy dood raak hy dus eintlik ‘n Christusfiguur, Christus wat ook deur sy dood die oorwinning behaal het.

Wat wil die Here hiermee vir ons sê?

God gebruik randfigure.  Hy gebruik hulle in sy koninkryk, selfs mense wat ons vandag net sou afskryf.  Gideon, Jefta en Simson.

As dit die aard is van God, as dit is hoe Hy werk, kan ons nie eintlik anders werk nie.  Ons sal moet leer om sagter te oordeel oor mense en ook oor onsself.

‘n Tyd gelede het ek dit ervaar dat iemand ’n tipe Toronto blessing kry in ’n erediens waar ek moes optree en uiteindelik was die boodskap wat sy vir die gemeente gehad het, ’n spieëlbeeld van een van die punte van die boodskap wat die Here op my hart gelê het, dat ons dit ernstig moet bedoel met God, want Hy bedoel dit ernstig met ons.

Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ek dink ons dink te maklik dat God net uitnemende persone gebruik:

  • Moses wat met God gepraat het soos met ‘n vriend.
  • Josef wat behalwe vir so ‘n bietjie arrogansie in die begin, een van die wysste mense ooit was en die rede was dat die volk Israel in Egipte bewaar gebly het.
  • Dawid, wat wel sy gebreke gehad het, maar van die mees roerende gedigte en liedere geskep het, wat ons vandag nog sing en in ons gebede gebruik, en ‘n ongelooflike dapper held was, die voorvader van Christus.
  • Paulus, wat met onverskrokkenheid die pad deur die Midde-Ooste en Europa plat gestap het en ‘n hele bekende beskawing van sy tyd aan die evangelie blootgestel het.
  • Andrew Murray, Hudson Taylor, Billy Graham – ag en so kan ons aangaan.

Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.  Soos Simson.

Want sien, God se Gees werk nie net met die gesondes nie.  Nee, Hy werk baie keer met mense wat allerhande gebreke het of wat onaansienlik is of aan die onderpunt van die sosiale leer is.

En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

God bedoel dit ernstig met jou.  Hy vra van jou dat jy dit ernstig met Hom sal bedoel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar