Skip to main content

Hooglied 6:4-8:4

Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting

Vandag se leeswerk beslaan ‘n hele paar gedigte.

  • Die eerste deel fokus op die man se verwonderde verrukking oor haar skoonheid en unieke betowering vir hom: Hooglied 6:4-7:9.
  • Die tweede deel fokus op die vrou se verbeeldingryke verwagting wat haar die inisiatief in hulle verhouding laat neem: Hooglied 7:10-8:4.

Die wonder van die liefde lê in die verwondering sowel as die verbeelding, in die verrukking sowel as die verwagting.

Verwonderde verrukking – Hooglied 6:4-7:9

Hooglied 6:4-7 – Jy is mooi my liefling

Die man vergelyk sy liefling met twee pragtige stede, Tirsa en Jerusalem, wat ook net na Salomo se tyd (laat 10de eeu vC) die hoofstede in onderskeidelik die Noord- en die Suid-ryk van Israel was. Tirsa was koning Jerobeam se eerste hoofstad in die noordelike koninkryk ná die skeuring van die ryk (1 Kon 14:17), voordat Samaria later die hoofstad geword het. Tirsa se naam beteken “plesier” of “skoonheid” en was so 56 kilometer noordoos van Jerusalem. Sy is werklik vir hom so indrukwekkend soos ‘n afdeling vaandeldraers (wat herhaal word in 6:10, hoewel dit daar moontlik vir die sterre kan staan).

Die res van hierdie wasf (beskrywende liefdesgedig) toon baie ooreenkomste met die gedig in Hooglied 4:1-7, wat die betekenis dra dat haar skoonheid vir hom steed verruklik mooi is.

  • Haar maak hom dié keer onrustig – vgl Hooglied 6:12 waar hy uitbrei op die betowerende krag wat sy op hom het.
  • Haar hare is weereens soos ‘n trop bokke (golwend) wat teen die Gileadberge (oos-Jordaan) afkom.
  • Haar tande is weereens so wit soos ‘n dubbele ry skoongewaste pasgeskeerde skape.
  • Hy praat nie hier weer van haar lippe of borste nie, wel weer van die versiersels op haar voorkop wat soos granaatpitte agter haar sluier is.

Hooglied 6:8-10 – Jy is uniek

In ‘n besondere beskrywing onderskei hy haar van die vorstelike harem, 60 koninginne, en 80 byvroue, selfs van die res van die jong vroue in die koninkryk. Sy is vir hom uniek, sy duif, sy volmaakte. Sy is enig (‘n woord wat ook gebruik word vir God se uniekheid – Deur 6:4 – “Hy is die enigste Here”), haar ma se enigste dogter en haar oogappel (nou natuurlik syne!). Die ander vroue praat met bewondering van haar, en besing haar lof. Sy is so pragtig en so helder soos die unieke hemelliggame, die maan en die son. Sy is so indrukwekkend soos koninklike vaandeldraers (moontlik ‘n verwysing na die sterre).

Hooglied 6:11-13 – Jy betower my

Hy ervaar dat sy hom nie net betower nie: “Ek ken myself nie”, maar dat sy hom self in die ervaring van uniekheid laat deel: “”dit is of sy my laat ry op die strydwa van die keur van my volk”. Sy oë gaan oop vir die nuwe lewe waaraan hulle liefde hom blootstel (jong boompies, wingerde bot, granaatbome bloei). Neute (okkerneute) was ook beskou as ‘n liefdesvoedsel.

Vers 13 kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. Dit kan ‘n gedig in die mond van die vriende of vriendinne wees wat haar terugroep van die verbintenis aan die man. Daarop antwoord die man (nie die vrou soos in die NAV) wat haar uniekheid wil beskerm en haar verbintenis aan hom wil vasmaak: “Wat wil julle sien …?”

Die verwysing na haar as Sulammitiese vrou was waarskynlik ‘n verwysing na Sulam, ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem.

Hooglied 7:1-5 – Jy bekoor my met jou skoonheid

In nog ‘n wasf (beskrywende liefdesgedig) word haar skoonheid in omgekeerde volgorde van die vorige wasfs beskryf, van onder na bo, waarmee hy haar bekoorlike skoonheid vir hom as haar koning besing.

  • Haar voete is nie net mooi in haar skoene (sandale) nie, maar laat haar vir hom soos ‘n edel dogter, iemand van die adelstand, lyk.
  • Die rondings van haar heupe is so kunstig rond en glad soos kunstenaarsjuwele.
  • Haar ronde naeltjie (kan ook ‘n eufemisme wees vir haar geslagsdele) is soos ‘n kom met kruiewyn, waarin hy hom kan verlustig.
  • Haar maag is soos ‘n hoop koring wat met lelies omring is. Dit kan op die kleur van haar maag dui (goudkleurig) of op die ronding daarvan soos ‘n hoop koring wat vasgebind is. ‘n Mens moet egter natuurlik nie te veel vasval in die letterlike assosiasies nie, maar eerder die beskrywing van sy bekoring deur haar skoonheid raaksien.
  • Haar borste word weereens vergelyk met lammers van die takbok en die ribbok (vgl ook Hoogl 4:5).
  • Haar nek is soos ‘n toring van ivoor, ‘n simbool van duursaamheid en waardevolheid (vgl ook Hoogl 4:4).
  • Haar is soos die damme by die poorte van die stad Gesbon. Hy kan homself verloor daarin.
  • Haar neus is soos ‘n Libanese toring wat na Damaskus kyk, ‘n simbool van waardigheid en krag.
  • Haar kop is soos die Karmel berg, ‘n simbool van vorstelikheid, wat natuurlik ook godsdienstige betekenis vir Israel gehad het (vgl Elia en Agab in 1 Kon 18).
  • Haar hare is soos rooi wol wat die koning bekoor. Die dieprooi kleursel waarna hier waarskynlik verwys word, was baie duur en voltooi die prentjie van die vrou as uitnemend mooi en uitsonderlik kosbaar vir die man.

Hooglied 7:6-9 – Jou begeerlikheid gee my vreugde

Met die laaste wasf in Hooglied beskryf die man die genot wat haar skoonheid en begeerlikheid hom besorg. Let op dat vers 6 korrespondeer met vers 1, maar dat dit in hierdie wasf haar hele gestalte is wat hom bekoor nie, net nie die onderskeie dele daarvan nie. Sy is vir hom die verpersoonliking, die inkarnasie van die liefde, liefde in aardse vroulike vorm.

  • Sy herinner hom aan ‘n hoë slanke palmboom, die dadelpalm (Tamar in Hebreeus – die naam van 2 vroue in die OT: Juda se dogter [Gen 38:6] sowel as een van Dawid s’n [2 Sam 13:1]). Dit is een van die oudste aangeplante vrugtebome waarvan ons kennis dra, waarvan nie net die vrugte nie, maar ook die res van die boom vir meubels en vlegwerk gebruik is. Dit is waarskynlik ook daarom beter om haar borste met dadeltrosse, eerder as wingerdtrosse te vergelyk, soos die Hebreeus inderdaad gelees kan word.
  • Hy het ‘n intense verlange om met haar gemeenskap te hê (teen die palmboom opklim, sy trosse blomme gryp) en haar liefde te ervaar in sy sintuiglike totaliteit (reuk, smaak, aanraak). Let op hoe die verwysing na wyn een van die temas van Hooglied 1:4 weer optel.

Verbeeldingryke verwagting – Hooglied 7:10-8:4

Hooglied 7:10-13 – Ek smag na jou, man wat ek liefhet

Die vrou reageer op dié bewondering en verlange en nooi hom op verbeeldingryke wyse uit om hulle liefdesgemeenskap op verskeie tye (slaaptyd, vroeg smôrens) en plekke (veld, dorpies [die woord kan ook as Hennablomme vertaal word – Hoogl 1:14], wingerde – metafore wat privaatheid uitbeeld, gegewe die relatiewe onprivaatheid van huishoudings van daardie tyd) te geniet. Hy is die een wat sy liefhet, en waarna sy smag – sy gebruik dieselfde woord as wat Gen 3:16 gebruik om die hunkering van die vrou na die man te beskryf, hoewel dit egter hier positief gebruik word. Sy behoort aan hom, net soseer as wat hy aan haar behoort, want sý kies hóm uit (vgl Hoogl 2:16; 6:3).

Sy nooi hom dus uit om die oorvloed van hulle liefde te geniet – daar is allerlei keurige vrugte by ons deur – terwyl die liefdesappels (alruin, mandragora [mandrakes in Engels]) hulle geur versprei, ‘n vrug waarom daar baie bygelowigheid verweef was. ‘n Mens hoor hierin ook die vorige verhale van Ragel en Lea wat met liefdesappels Jakob se guns probeer wen het (Gen 30-14 vv – Ruben het daar vir Lea liefdesappels gebring. Ragel wou dit graag hê en ruil dit by Lea sodat dié ‘n nag by Jakob kan deurbring. Dit gee haar drie kinders [Issaskar, Sebulon, Dina – natuurlik nie terselfdertyd nie!] voordat Ragel uiteindelik self geseën word met Josef, die wyse voorsiening van die Here).

Let op hoe sy respondeer op sy keuse vir haar: “Ek het hulle vir jou gebêre, man wat ek liefhet”. Haar liefde is net vir hom, soos sy liefde net vir haar is!

Hooglied 8:1-4 – Ek wil die kuns van die liefde by jou leer

Die verwagting wat haar verbeelding in haar geskep het, word nou in ‘n intense verlange na hom uitgedruk. Sy wens hy was haar tweelingbroer, sodat sy, sonder om skaam te wees vir ander mense, hom in die openbaar kan soen. Soene in die openbaar was as onsedelik beskou, behalwe waar familie ter sprake was – Spr 7:13.

Soos in 3:4 wil sy die kuns van die liefde leer en beoefen in ‘n veilige omgewing, een wat binne die konteks van familiebande hanteer word (ma se huis). Daar wil sy aan hom haar liefde gee (kruiewyn en granaatsap). Let op hoe hulle wedersyds die inisiatief neem.

Vandaar die laaste appèl op die vroue van Jerusalem om nie die liefde wakker te maak en aan te vuur voordat die tyd daarvoor ryp is nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda