Skip to main content

Deuteronomium 10

Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God

Teks en konteks

Die eerste deel van Moses se tweede preek word met hoofstuk 10 tot 11 afgesluit. Hy het begin by die Tien Gebooie wat hulle moes leer en gehoorsaam om daarvolgens te lewe (Deut. 4:44-5:33). Terwyl die liefde vir die Here hulle hele lewe moes bepaal (Deut. 6), sou dit die liefde van die Here wees wat hulle in staat sou stel om gehoorsaam te wees (Deut. 7). Daarom het God hulle in die woestyn afhanklikheid geleer en sou hulle in die oorvloed van die beloofde land dankbaarheid leer (Deut. 8). Hulle moes net nie die Here vergeet en hardnekkig of verwaand raak nie, want dan sou sy toorn oor hulle ontvlam.

Nou sluit Moses die eerste deel af – die uitleg en toepassing van die Tien Gebooie – met ‘n terugverwysing na die bewaring van die twee plat klippe in die ark van doringhout, en die opdrag dat net die Leviete die ark mag dra (Deut. 10:1-9) saam met ‘n oproep om die Here alleen te dien en lief te hê met hart en siel deur elkeen van die dinge wat Hy hulle beveel het, nougeset te doen (Deut. 10:10-11:32).

Let op dat Moses hierdie opdrag motiveer in wie God self is (Deut. 10:17-18). Daarom moet die volk die dinge doen wat die Here hulle beveel. Die Tien Gebooie is gegrond op wie God ten diepste is. Dieselfde geld alles wat God hulle in die uitleg daarvan beveel het.

Die Tien Gebooie bly die mees fundamentele beskrywing van God se wil – Deuteronomium 10:1-9

Moses verwys terug na die gawe van die Tien Gebooie op die berg en beklemtoon dat wat hy in die ark geplaas het van die Here self af kom: “Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie geskryf.” (vgl. my bydrae by bybelskool.com in Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie).

Hy beklemtoon die heiligheid van dié gawe deur te beklemtoon dat dit net die Leviete is wat dié verbondsark mag dra (vgl. Deuteronomium 18 waar nog riglyne gegee sal word), omdat hulle juis daarvoor afgesonder is. Hy verwys ook vlugtig na Eleasar wat Aäron as hoëpriester opgevolg het.

Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God – Deuteronomium 10:10-22

Moses sluit aan by die genade wat die Here ná die episode met die goue kalf aan hulle bewys het op grond van Moses se voorbidding: “Hy wou jou nie meer uitroei nie”! En op grond van daardie genade beveel Moses die volk om die Here alleen te eer, en sy wil te gehoorsaam: “Dit sal tot jou voordeel wees”!

Israel se diepste sin en betekenis as volk van God sal gevind word in die wyse waarop hulle die Here sal liefhê en dien met hulle hele hart en siel. Dit is die enigste reaksie op God se oorvloedige genade wat sin sal maak. Hy wat só groot is, het immers vir hulle uitgekies. Daar is nie ‘n groter voorreg as dit nie.

Let op dat Moses hierdie opdrag motiveer in wie God self is: “Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.” (Deut. 10:17-18). Daarom moet die volk die dinge doen wat die Here hulle beveel.

Dit leer ons dat die Tien Gebooie gebaseer is op wie God ten diepste is. Dieselfde geld alles wat God hulle in die uitleg daarvan beveel het. Daarom moet hulle hulleself aan die Here wy en nie hardkoppig wees nie. Hulle moet, soos Hy, ook vreemdelinge liefhê en só die Here eer.

Boodskap en betekenis

Die boek Deuteronomium beklee ‘n besondere plek in die Pentateug, omdat dit die wet van God nie net uitlê in terme van godsdienstige en morele voorskrifte nie – soos ander wetsvoorskrifte van die Ou Nabye Ooste soos dié van Hammurabi uit die 18de eeu v.C. – maar in terme van die daaglikse wandel met God saam met jou geloofsgenote. Trouens, die innerlike verbintenis aan God, een van liefde, een van die hart, word sterk beklemtoon. Geen wonder dat sommige geleerdes van Deuteronomium as die Vyfde Evangelie praat nie!

Moses praat hier bv. van die beginsel van ‘n besnydenis van die hart wat dieper is as maar net die uitwendige merkteken van die verbond. Dit is aan die een kant ‘n persoonlike verantwoordelikheid: “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.” (Deut. 10:16 OAV). Dit is aan die ander kant iets wat net God werklik in ‘n mens kan bewerk: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut. 30:6 OAV).

Dit hang saam met die geweldige belangrike klem op die monoteïsme, die onverdeelde eenheid van God, en die belangrikheid van onverdeelde lojaliteit aan Hom. Na Hom alleen moet geluister word, soos die bekende Sjema beklemtoon: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut. 6:4-5).

Interessant genoeg gebruik Paulus Moses se fundering van Israel se uitverkiesing in God se Eienaarskap van die hemel en die aarde, en alles en almal daarop (Deut. 10:14; vgl. Ps. 24:1), om alle kos rein te verklaar, selfs kos wat in ‘n slaghuis gekoop is (1 Kor. 10:26). Die boodskap van Deuteronomium struktureer dus selfs die wyse waarop ons in die NT oor kos moet en kan nadink!

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.