Skip to main content

Openbaring 9

Die vyfde en sesde trompet pynig die mense sonder God se seël

Die oordele van die vyfde en sesde trompet tref veral die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Die tragedie is dat hulle nooit die kloutjie by die oor kry nie. Hulle sien nie vir God raak in die ellendes wat hulle tref nie. Gevolglik kom hulle nie tot inkeer nie.

Let op dat die vyfde trompet ooreenkom met die vyfde seël deurdat die gelowiges in bewaring bly midde in die verdrukking. Dieselfde geld die sesde trompet. Dit kom ooreen met die sesde seël in terme van die vier engele wat vroeër vasgehou is en nou losgelaat word.

Teks en konteks

Die vyfde trompet

Met die blaas van die vyfde trompet, die eerste “wee”, is daar ’n ster wat uit die hemel op die aarde val wat die bodemlose (onderaardse) diepte oopsluit, die plek waar bose geeste en demone gevange gehou is (vgl. die verhaal van Legio in Luk. 8:31). Dit is ook die tuiste van die dier uit die see, en die Satan, soos ons later in Openbaring 13:1 en 20:1-3 gaan lees.

Die ster wat hier ter sprake is, is ’n engel of boodskapper van God wat in opdrag van Hom boosheid op die aarde loslaat en moet onderskei word van die koning van die bodemlose diepte, Abaddon/Apollion (vers 11). Dieselfde engel tree in Openbaring 20 op om die draak, die duiwel en Satan, te bind in die bodemlose diepte.

Uit die skag van dié verskriklike plek het daar nie net rook geborrel wat die son en die lug verduister nie, maar ook sprinkane wat na die aarde geswerm het en die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, gepynig het met hulle skerpioensterte. Dit is ‘n skrikwekkende visioen van die effek wat bose geeste en demone op mense het.

Die sprinkane het soos perde gelyk wat vir die oorlog gepantser is met borsplate en daarby het hulle goue krone op hulle koppe, mensgesigte, vrouehare en leeutande gehad. Dit herinner aan die sprinkane met ruiters waarvan Joël 2 praat sowel as die agste plaag in Egipte. Hulle leier se naam was Abaddon (Hebreeus) of Apollion (Grieks) wat Verwoester beteken. Interessant genoeg was die Griekse god Apollos se teken dié van ’n sprinkaan. Keiser Domitianus het homself graag as Apollo incarnates beskou (Apollos wat mens geword het), wat beteken dat dié metafoor ’n fynbeplande stekie in die rigting van die keiser ingehou het (Du Rand, A-Z)!

Die feit dat hierdie oordeel vyf maande lank duur, dui nie soseer op die ongeveer jaar lange volle lewensiklus van sprinkane nie (min of meer 10 maande as eier, 2 maande as ’n nimf-voetganger en ’n maand as ‘n volwasse sprinkaan), maar op die feit dat die tyd afgemeet en beperk is deur die Here self.

Die sesde trompet maak ’n derde van die mense dood – Openbaring 9:13-21

Die sesde trompet

Waar die vyfde trompet die mense gepynig het, maak die oordeel van die sesde trompet, die tweede “wee”, ’n derde van die mense dood. Die oordeel word waarskynlik deur dieselfde engel wat die wierookbak met die gebede van die heiliges op die aarde uitgegooi het, uitgevoer. Dit laat ’n ongekende krag van vier engele los van die groot Eufraatrivier af teen die mensdom in die vorm van ’n ontsaglike aantal ruiters op perde wat met drie plae verwoesting saai. Die kleure van die borsplate – vuurrooi, diepblou en swaelgeel – kom ooreen met die plae van vuur, rook en swael wat uit hulle monde borrel en die mense doodmaak. Hulle het ook sataniese slangsterte en kragtige kake soos dié van leeus wat hulle teen die mense gebruik.

Tóg het dié oordeel geen effek op die res van die mensdom nie. Hulle gaan doodeenvoudig voort om die lewelose afgode wat hulle self gemaak het, te aanbid, en daarmee saam ook nog demone (oortredings van die eerste tafel van die wet). Hulle kom nie tot inkeer van hulle wetsoortredinge ook van die tweede tafel van die wet nie. Vier goed word genoem: moorde (oortreding van die sesde gebod), toordery (pharmakōn – towerspreuke en dwelms), onsedelike gedrag (porneias – oortreding van die sewende gebod) en stelery (oortreding van die agste gebod).

Boodskap en betekenis

Die vyfde en sesde trompet bring oordele wat veral mense tref wat nie die seël van God het nie, en wys hoe geestelike blindheid hulle verhinder om tot inkeer te kom. Die vyfde trompet ontketen demoniese magte wat mense pynig, simbolies voorgestel deur sprinkane onder leiding van Abaddon/Apollion, die Verwoester.

Die sesde trompet lei tot die dood van ’n derde van die mensdom deur ’n massiewe leër ruiters wat plae van vuur, rook en swael bring. Die oorblywende mense weier egter steeds om hulle afgodery en sondes te laat staan, ondanks die waarskuwings. Hierdie trompette wys dus hoe God se oordele ’n oproep tot bekering is, maar dat harde harte selfs te midde van straf nie maklik verander nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.