Skip to main content

Genesis 37

Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte

Teks en konteks

Ons kom by die vyfde en in vele opsigte die belangrikste fase van die verbondsgeskiedenis in Genesis. Dit is die familiegeskiedenis van Jakob, maar word ook die Josef-siklus genoem, omdat Josef so ‘n belangrike rol in hoofstuk 37-50 speel. Trouens, Josef is die eerste persoon wat in die familiegeskiedenis van Jakob genoem word en is die hoofkarakter waarom dié uitmuntend saamgestelde verhaal wentel.

‘n Mens kan die verhaal in twaalf episodes indeel wat ook die manier vorm waarop ons dit gaan lees:

  1. Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte – Gen. 37
  2. Tamar word in die gelyk gestel teenoor Juda – Gen. 38
  3. Josef weerstaan Potifar se vrou – Gen. 39:1-20
  4. Josef lê drome uit in die tronk – Gen. 39:21-40:23
  5. Josef se lot word dramaties verander – Gen. 41
  6. Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte – Gen. 42
  7. Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle goedgesind sal wees – Gen. 43
  8. Juda pleit vir Benjamin se lewe toe God hulle sonde aan die lig bring – Gen. 44
  9. Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was – Gen. 45
  10. Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef – Gen. 46
  11. Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns – Gen. 47-48
  12. Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms – Gen. 49-50

Josef en sy drome – 37:1-11

Josef se verhaal begin op sewentienjarige ouderdom. Dit is die jaar 1898 vC. Hy word bekendgestel as ‘n klikbek, ‘n witbroodjie en ‘n dromer.

Die feit dat hy slegte stories oor sy broers by sy pa aandra, is die enigste negatiewe ding wat in die hele verhaal oor hom persoonlik vertel word. In elke ander situasie tree hy met groot oorleg en wysheid op, selfs in die toetsing waaraan hy sy broers in Egipte later in die verhaal onderwerp.

Die feit dat hy deur sy pa voorgetrek word met besondere klere is nog ‘n negatiewe ding wat oor hom vertel word, hoewel dit natuurlik sy pa se skuld was. Dit verklaar die begin van die afkeer wat sy broers aan hom gekry het. Omdat hulle geweet het dat Jakob liewer vir Josef was as vir hulle kon hulle niks goeds oor hom sê nie.

Die feit dat hy as ‘n dromer bekend gestel word, is egter die eintlike belangrike ding wat oor hom gesê word. Dit is aan die een kant van uiters groot belang in die verloop van die verhaal. Nie net kom sy drome waar nie, maar sy uitleg van drome is ‘n kontak met God wat in dié verhaal baie meer agter die skerms werk as wat dit die geval was met Abraham, Isak en Jakob.

Trouens, daar is net een geval in dié veertien hoofstukke waar God direk praat met iemand in ‘n visioen, en dit is met Jakob, soos dit vroeër ook gebeur het. Josef en al sy mense moet staatmaak op die interpretasie van drome om God se wil vir hulle lewe agter te kom.

Die feit dat hy twee keer dieselfde tipe droom kry, al verskil van die detail, vorm later deel van sy insig dat ‘n dubbele droom eintlik net een droom is, soos hy die twee drome van farao interpreteer. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.” (Gen. 41:32).

Maar, aan die ander kant het die drome sy broers se afkeer verdiep omdat dit hulle laat dink het dat sy verbeelding op loop gesit het met hom. “Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?” vra hulle hom. Gelukkig het Josef nie geweet hoe waar dié droom was nie, en het dit op dié stadium net die afguns van sy broers op hom verdiep.

Selfs sy pa was nie baie tevrede met die implikasies van die droom nie en het hom berispe. Asof Josef natuurlik sy eie drome kon bepaal… wat ‘n mens laat besef dat hier iets agter die skerms besig was om te gebeur. Midde-in die donker dade van mense bewerk God die hoop vir die toekoms.

Josef word ‘n slaaf in Egipte – 37:12-36

Josef word dan deur Jakob gestuur om by Sigem te gaan kyk of alles reg is met sy broers en hulle vee. En ‘n mens besef onmiddelik dat sy pa se beskerming nie daar in die veld enige effek op sy broers sal kan hê nie. Josef word eintlik vir die wolwe gegooi.

Hy kry sy broers uiteindelik in Dotan, maar loop hom vas in ‘n hinderlaag waar hulle beplan om hom dood te maak. “Dan sal ons sien wat word van sy drome,” sê hulle. Ruben beplan om hom te red en stel voor dat hy eerder in ‘n put gegooi word. Juda besluit egter dat Josef aan die Ismaelitiese/Midianitiese (waarskynlik uitruilbare terme) handelaars verkoop moet word wat op pad Egipte toe was.

So beland Josef in Egipte by Potifar en word die storie opgemaak dat ‘n roofdier Josef opgeëet het tot Jakob se groot verdriet: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.” So erg was dit vir Jakob. Hy sou eers met sy seun verenig word meer as twintig jaar later.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.