Skip to main content

Eksodus 15

Die Here beskerm sy volk en verpletter hulle vyande

Teks en konteks

Hoofstuk 15 gaan oor Moses, Mirjam en Mara. Moses (15:1-19) en Mirjam (15:20-21) span saam en lei die volk in ‘n loflied wat die Here se verlossing van sy volk verheerlik sowel as sy verplettering van sy vyande. Die lied fokus egter nie net op wat Hy alles vir die volk by die Rietsee gedoen het nie, maar vir wie Hy inderdaad vir hulle was tot in die beloofde land. Hy wys hier dat Hy nie net hoog verhewe is nie, maar die Een wat naby kom en direk betrokke raak by die lewe van sy mense.

Dit is ook duidelik dat die lied mettertyd aangepas is vir liturgiese gebruik deur elemente van die Intog en selfs die uiteindelike vestiging van die tempel in Jerusalem in te sluit as die gewyde plek wat God vir Homself in die midde van die volk reggemaak het.

Dié lofsang was egter skaars stil of die volk het versink in bitterheid weens die gebrek aan water, veral toe hulle opgewonde was oor die uitkoms van Mara … en dié water bitter was (15:22-27). Die vreugde en verset sou gou ‘n patroon begin vorm op hulle pad deur die woestyn. God sou voortgaan om hulle met sy wondervoorsiening te verras, en die volk wie se geheues só kort was sou telkens by ‘n volgende uitdaging vir Moses en ten diepste die Here verwyt het vir hulle situasie.

Moses lei die volk in ‘n loflied – 15:1-19

Vers 1 tot 19 is ‘n liturgiese lied van besondere skoonheid en betekenis.

Die lied is aan die een kant ‘n briljante stuk poësie wat selfs in die vertaling in Afrikaans iets van sy Hebreeuse trefkrag behou. Die verhaal van die verlossing wat God by die Rietsee vir die Israeliete bewerk het, word op diepsinnige en beknopte wyse in ‘n lofsang verwoord. Dit begin met ‘n refrein in vers 1 wat in vers 21 deur Mirjam herhaal word, waarskynlik bedoel vir wisselsang met Moses en die volk. Daarna word die elemente van die verhaal van verlossing uit die mag van farao by die Rietsee ingespan om die Here se verhewe soewereiniteit te besing. Daar word selfs vooruitgegryp na dinge wat nog in die toekoms lê met hulle Intog in die “gewyde land” tot verskrikking van die ander nasies met ‘n verwysing selfs na die uiteindelike vestiging van die tempel in Jerusalem wat God as gewyde plek vir Homself in die midde van die volk reggemaak het.

Aan die ander kant is die lied ook teologies gewortel in die beskrywing van God as die gedugte krygsman wat sy mag op ongeëwenaarde wyse ten toon gestel het. Dit is wie God vir hulle in die hitte van hulle stryd teen farao en later teen ander nasies sou wees. Hy vernietig wie teen Hom opstaan veral ter wille van sy volk. In sy teenwoordigheid is sy volk veilig selfs wanneer die strome water regop staan langs hulle soos ‘n muur. Daarteenoor sink sy teenstanders soos lood in die magtige waters van sy toorn na benede wanneer hulle dit durf waag om teen Hom op te staan. Dit laat vrees en angs die nasies oorval. God is nie net die Begeleier en Beskermer in die wolk- en vuurkolom nie. Hy is ook die: “Bewerker van wonderdade”, soos die beheer oor die watermassas van die see bewys wat in die keersy van die verlossing van sy volk sy vyande verpletter. Hierdie Jahwe is God, oor alles en almal, en dit vir ewig.

Mirjam begelei die volk met ‘n tamboeryn – 15:20-21

Mirjam word nou eers by haar naam genoem, hoewel ons al twee keer van haar kennis geneem het as Moses se suster (Eks. 2:4,7-9). Sy word daarby as profetes (later in die profete ook as leier – Miga 6:4) bekend gestel, een van vier vroue wat só in die OT genoem word. Die ander drie was die fenomenale profetes en rigter, Debora (Rigt. 4:4), die geloofsonderskeider van formaat in koning Josia se tyd, Gulda (2 Kon. 22:14; 2 Kron. 34:22), en die valse en vreesaanjaende profetes in Nehemia se tyd, Noadja (Neh. 6:14). Sy begelei die volk saam met van die vroue en tamboeryne in die refrein van die lied van Moses wat waarskynlik in wisselsang uitgevoer is.

Die Here maak die bitter water van Mara soet – 15:22-27

Die roete waarmee die Israeliete getrek het, word wel baie presies hier aangedui met plekname. Dit is egter nie meer vir ons bekend watter plekke dit is nie. Wat duidelik is, is dat die eerste vanselfsprekende uitdaging hulle tref, ‘n gebrek aan water. Ná drie dae se ontbering in die woestyn is die water wat hulle by Mara vind egter ‘n teleurstelling omdat dit ondrinkbaar bitter was. In plaas daarvan om die Here te vertrou en vir uitkoms te vra – soos Hy by die Rietsee gedemonstreer het – kla hulle by Moses omdat daar niks was om te drink nie.

Die Here antwoord wel hulle klag deur Moses opdrag te gee om ‘n stuk hout in die water te gooi wat die water weer soet gemaak het. Sommige dink daaraan dat die hout moontlik as ‘n soort filter opgetree het, of een of ander chemiese reaksie in die water veroorsaak het, maar dit maak nie baie saak wat presies die hout gedoen het nie. Dit is waarskynlik eerder ‘n wonder soos wat Moses die water oopgekloof het by die Rietsee met sy staf. Die stuk hout is dus ‘n simbool van God se werk.

Let op hoe die drievoudige vaste reël wat die Here vir die volk hier gee volledig met God self te make het, anders as wat ons later in Miga 6:8 sou hoor, waar die horisontale liefde ook in spel kom. Die Here vra van hulle dat hulle na Hom sal luister, sal doen wat reg is in sy oë, en alles sal doen wat Hy hulle beveel. Sy belofte is dat hulle dan nooit deur die siektes (plae) van Egipte getref sal word nie. Hy sal hulle gesond hou.

Die Israeliete het verder getrek tot by Elim waar ‘n wonderlike oase hulle verwelkom het, presies wat hulle nodig gehad het om ‘n stuk bederf in die woestyn te beleef – twaalf fonteine en sewentig palmbome, water en vrugte in oorvloed.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda