Skip to main content

2 Konings 15:32-38; 2 Kronieke 27

Jotam loop koersvas voor die Here sy God

Ons keer terug na Juda en in die volgende twee bydraes lees ons die verhale van twee konings, Jotam en Agas. Daarna kom Jesaja 7 aan die beurt.

Teks en konteks

Die twee konings is so uiteenlopend as wat dit kan wees, nogal pa en seun. Die enigste ooreenkoms is dat hulle albei met plaaslike vroue van Juda getroud was:

  • Jerusa, vrou van Jotam (en ma van Agas), was ’n dogter van Sadok, waarskynlik uit die priesterlike geslag. Interessant genoeg, word sy nie genoem as ma van Agas in die deel wat die Kronis oor hom skryf nie, anders as met sy pa Jotam en sy seun Hiskia. Dit is asof die Kronis sy misnoeë met Agas ook op dié manier wil uitdruk deur sy ma nie direk in verband met hom te noem nie.
  • Abi, vrou van Agas (en ma van Hiskia hierna), was ’n dogter van Sagaria, waarskynlik dieselfde een: “wat insig in die openbaring van die God gehad het,” in die tyd van koning Ussia (2 Kron. 26:5). Sy word wel genoem in verband met haar seun Hiskia in die volgende hoofstuk.

Jotam kry groot lof van die Kronis vir ’n regering waarin hy alles gedoen het wat reg is in die oë van die Here, behalwe dat hy nie daarin kon slaag om die volk van hulle afgodsdiens te bekeer nie. 2 Kon. 15 verbind dit aan die hoogtes wat nie verwyder is nie.

Die Kronis vermeld ook spesifiek dat Jotam nie in die tempel van die Here oortree nie. Dit kan selfs wees dat hy die tempel nie betree het nie, soos die teks ook vertaal kan word. Hy begaan dus nie dieselfde dwaasheid as sy pa nie en word vir sy bouwerk – die tempelpoort en Ofelmuur in Jerusalem, stede in Juda asook skanse en forte in die bosse – en oorwinning teen die Ammoniete geloof. Dit kan selfs wees dat hy soos sy pa lief was vir die grond en vir die omgewing gesorg het met ‘n boom aanplant projek. Dit lei sommige geleerdes af uit die woord vir bosse in vers 4 wat met die Akkadiese woord vir “boomplant” (ḫarâšu) verbind kan word.

Terloops: Jotam het natuurlik al waargeneem as koning in die tyd van sy pa Ussia se melaatsheid en gevolglike afsondering (2 Kron. 26:21 – “Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.”). Dit wil voorkom asof dit ongeveer 4 jaar lank was, soos ons aflei uit 2 Kon. 15:30 wat sy regeringstyd as 20 jaar aandui, om net daarna in 2 Kon. 15:33 sy (eie) regeringstyd as 16 jaar aan te dui. Hy het dus 16 jaar op sy eie geregeer en 20 jaar altesaam.

Jotam het regtig “sy pad reg gehou voor die Here.”

Boodskap en betekenis

Jotam was ‘n goeie koning op persoonlike en politiese vlak. Hy het dorpe in die bergland van Juda gebou, selfs in die beboste gebied dit reggekry om vestingstede en wagtorings te bou ter beveiliging van die land. Hy het ook die Ammoniete onder sy beheer geplaas.

“Jotam het sy mag stewig gevestig, want hy het sy pad koersvas geloop voor die Here sy God,” sê Kronieke.

Maar, Jotam het dit egter nie reggekry om die volk geestelik saam met hom te neem om die Here te aanbid nie. “Die volk het hulle egter steeds wangedra,” sê Kronieke ook.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar