Skip to main content

Job 2

Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer

Die Satan bly skepties oor Job se vroomheid – 2:1-6 – Vierde toneel

Job se integriteit blyk intakt te bly.  Tot die Here se vreugde.  Tot die Satan se argwaan.  Let op met hoeveel trots die Here oor Job se lojaliteit praat: “Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.

Let op hoe die Here daarmee eintlik die Satan uitnooi om twee goed agter te kom. Een, dat dié eksperiment rondom Job se vroomheid in verlies eintlik verniet was, onnodig, redeloos.  Twee, dat dié eksperiment geslaag het.  Job het vroom gebly al is hy sonder rede geruïneer.

Die Satan bly egter skepties oor Job se vroomheid.  Hy dink dat ‘n mens wel alles sal gee wat jy het, selfs die lewe van jou kinders, as jy maar net self in die lewe kan bly: “Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.

In wese bly die Satan natuurlik eintlik skepties oor God self.  Hy bevraagteken eintlik hiermee God se status op aarde.  Hy sê hiermee op verskuilde wyse dat God nie genoeg is vir mense nie, dat God nie geëer word ómdat mense sy Naam eer en aan Hom verbind is – kom wat wil – nie, maar ómdat hulle sy seën wil bly geniet.  God se invloed in mense se lewe word dus met die Satan se sinisme in twyfel getrek. Mense dien Hom ómdat Hy vir hulle goed is.  Daarsonder sou hulle Hom die rug toekeer.

Wanneer God dus toestemming gee aan die Satan om nie net Job se goed nie, maar ook sy gesondheid te neem, is dit nie net Job se vroomheid wat op die spel is nie.  God se invloed in mense se lewe is op die spel.  Soos in die tuin van Eden wil die Satan ‘n wig indryf tussen God en sy mense.  En hierdie keer is dit nie sonde wat die skeiding sou kon bring nie, maar lyding, die smart oor onverdiende, onskuldige verlies en pyn.

God self kom dus in die gedrang … soos dit veel later in die lewe van Jesus aan die kruis ook aan die orde sou kom.  Die vraag aan die kruis was intens: Sal Jesus vroom bly al word Hy sonder rede geruïneer?  En in sy geval was dit nie net sy gesondheid nie, maar sy lewe self, wat van Hom gevra is.

Die hele Skepping het dus hier asem opgehou… en ‘n sug van verligting laat hoor toe nie net hier Job nie, maar later ook Jesus aan God getrou gebly het.  Want, met Jesus het daar boonop die vryheid van vryspraak gekom, ‘n nuwe manier om in geregtigheid die pad met God te bly stap op pad na die herstel van sy koninkryk.

Job verloor sy gesondheid, maar hy deurstaan weereens die toets – 2:7-13 – Vyfde toneel

Dat Job aan God getrou bly ten spyte van die verlies wat hy ervaar, is ‘n ongelooflike belangrike gebeurtenis.  Selfs al is die verlies nie net sy goed nie, maar ook sy gesondheid.  Die “pynlike swere” is waarskynlik een of ander vorm van velsiekte, nie noodwendig elefantiase of melaatsheid soos sommige dit identifiseer nie.  Uiterlik het dit gemanifesteer met rowe en barste wat aanhoudend geëtter het en waaraan wurms gesmul het (7:5).  Sy vel het swart geword en hy het gegloei van koors (30:30).  Hy het sleg geruik en sy vrou het gewalg aan sy asem (19:17).

Job deurstaan egter weereens die toets.  Sy verbintenis aan die Here bly onwrikbaar sterk.

Job wys daarmee dat die eenvoudige teologie van oorsaak-en-gevolg nie die enigste verklaring van dié werklikheid is nie, dat Job in sy verhouding met die Here nie net staatmaak op só ‘n eenvoudige teologie, en dit boonop net tot sy eie voordeel nie.

Job gryp dus aan God vas, kom wat wil, ten spyte van alles wat met hom en sy mense gebeur. God self is vir hom belangriker as God se goeie gawes. Hy bly aan God verbind deur dik en dun.

Watter ongelooflike voorbeeld!  Watter diep motivering om self aan God getrou te bly!  Jy kan ook getrou bly aan God, kom wat wil.

Job gryp selfs aan God vas ten spyte van die tradisionele antwoord op lyding wat sy eie vrou aan hom gee.  En onthou, Job se verlies was natuurlik ook haar verlies.  Sy betwyfel ook nie Job se integriteit nie.  As God nie sy deel nakom nie, sê sy egter, dood-realisties, kan geen mens verwag dat jy steeds vroom sal bly nie: “Bly jy nog steeds vroom?  Vervloek God en sterf!” (2:9).

Die Septuagint (LXX – die Griekse vertaling van die OT) plaas ‘n langer respons in haar mond wat haar eie pyn beter verwoord (en onthou dat die LXX die eerste Christene se mees gebruikte “Bybel” was). Dit lui as volg:

“How long will you endure, saying, Behold, I will wait yet for a little time, looking for the hope of my salvation? Behold, the memory of you has been blotted out from the earth, [namely] the sons and daughters, the travail and pain of my womb, whom with toil I reared for nothing. And yet you yourself sit in the decay of worms, passing the nights under the open sky, while I am a wanderer and a servant, from place to place and from house to house, waiting until the sun goes down, so that I may rest from my toils and from the pains that now grip me. Now, say some word against the Lord, and die. But he, looking at her, said to her.…”

Job bly egter, wonder bó wonder, aan God getrou, al tref siekte en lyding hom, al word al sy voorspoed van hom weggeneem, en al moedig sy vrou hom aan om die stryd om vroomheid gewonne te gee.  Let op dat hy haar eintlik saggies teregwys en nie as ‘n dwaas afmaak nie, net wat sy sê as onverstandig bestempel.

Job bly egter “regverdig” teenoor God, Hy volhard in sy lojaliteit, al kos dit hom baie pyn en lyding: “Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

‘n Kantaantekening:  Job se vrou word heel waarskynlik uiteindelik ingesluit in die lotsverandering aan die einde, al word sy nie direk genoem nie.  Die skrywer vertel nie vir ons dat Job ‘n ander vrou getrou het nie, en het dus waarskynlik die kinders ná sy lotsverandering steeds by sy eerste en enigste vrou.  Haar lot word dus ook verander.

Die prosagedeelte sluit af met die beskrywing van Job se vriende wat opdaag om met hom te simpatiseer.  Soos vroeër gesê, was hulle ook nie Israeliete nie.  Elifas was van Teman, ‘n naam wat ook met die Edomiete geassosieer word (Gen. 36:11).  Teman was bekend vir wysheid (Jer. 49:7).  Bildad was van Suag, ‘n naam wat ook met een van Abraham se seuns geassosieer word (Gen. 25:2).  Sofar was van Naäma, ‘n naam wat met die nageslag van Kain geassosieer word (Gen. 4:22) sowel as met ‘n stad in Kanaän (Jos. 15:41).

Hulle kom om hom te troos en hulle deelneming te betuig.  Sewe dae en sewe nagte lank – net so lank soos ‘n normale feessiklus van die kinders sou duur – sit hulle by hom, en kies om niks te sê nie, omdat sy smart so groot was.

Maar, plaas daarvan dat hulle hou by hulle aanvanklike skok en stilte… begin hulle wel reageer, toe Job sy eie stilte verbreek… en daaroor handel die volgende poëtiese gedeeltes van Job.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…