Skip to main content

Handelinge 25:23-26:32

Paulus verkondig die evangelie aan koning Agrippa II in Caesarea

Hierdie keer word die koningshuis van Juda betrek (soos dit ook met Jesus was – Luk 23:8), en Paulus kan uiteindelik die evangelie ook aan Markus Julius Agrippa II, een van die Herodes konings, en ook aan sy suster Bernice, verkondig. Daar was gerugte van ‘n onbetaamlike verhouding tussen hulle soos Josephus o.a. skrywe, hoewel Lukas niks daarvan vermeld nie.

Agrippa II se oupa Herodes Antipas het self baie belanggestel in Jesus (Luk. 9:9; 23:8), hoewel sy pa, Agrippa I, weer verantwoordelik was vir die dood van Jakobus (Hand. 12:1-2). Agrippa I is op bonatuurlike wyse doodgemaak (Hand. 12:23 – deur ’n engel van die Here).

Teks en konteks

Hierdie toespraak van Paulus aan Agrippa II en Festus is van groot belang, en bevestig die woord van Jesus dat die dissipels voor konings en goewerneurs gebring sal word (Matt. 10:18; Luk. 21:12).

Let op dat Paulus nie regtig fokus op sy eie verdediging nie, maar op die verkondiging van die evangelie. Dit is immers waaroor hierdie gevangenskap gaan. En onthou ook dat die evangelie nou van die huis van Kornelius (Hand. 10) tot in die paleis van die goewerneur ten aanhore van die konings gevorder het, presies in dieselfde stad Caesarea (Hand. 23-26).

Paulus skets in vyf punte in sy toespraak:

  • Sy Joodse wortels in Jerusalem om sy Joodse afkoms en nougesette godsdienstige lewe as Fariseër beklemtoon. Op vernuftige wyse verbind hy die Messiaanse belofte wat die hoop op die opstanding ingesluit het, aan die aanklag teen hom: “dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word.”
  • Sy aanvanklike woedende teenstand teen Jesus van Nasaret – om sy oortuigde verbintenis aan die Joodse godsdiens te bevestig – hoewel dit uiteindelik misplaas blyk te wees.
  • Sy ontmoeting met Jesus as Here – om die Goddelike ingryp in sy lewe te beklemtoon (vgl. die ooreenkomste met die gebeure self in Hand. 9:1-19 en sy vorige beskrywing daarvan in Hand. 22:6-16) wat hom as wêreldwye getuie van die opgestane Here geroep het, onder Jode sowel as heidene: “om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en ‘n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.”
  • Sy bediening aan die Jode en heidennasies – om sy gehoorsaamheid aan die Here te beklemtoon, en terselfdertyd uit te wys wat dit beteken om aan God gehoorsaam te wees, d.i.: “om bekering met dade te bewys.”
  • God se bystand wat Paulus tot op hierdie dag ervaar, sodat hy voor klein en groot kan staan om te getuig. En dié getuienis is “oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”

Festus het dié toespraak egter te dik vir ‘n daalder gevind en probeer om Paulus as waansinnig uit te beeld, ten spyte van sy groot geleerdheid, waarskynlik om Agrippa II en Bernice se guns te wen.

Maar Paulus laat hom nie afsit daardeur nie, en maak aanspraak op Agrippa II se eie goeie oordeel, want wat Paulus sê: “spreek van waarheid en gesonde oordeel.”

Paulus sê met hierdie woorde dat almal wat die moeite doen om die feite deeglik te ondersoek en ’n bietjie gesonde verstand aan die dag wil lê, die waarheid daarvan sal kan agterkom.

Terloops, let op dat die 1983-vertaling hierdie frase parafraseer as: “onder leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan”. Die korrekte vertaling vanuit die Grieks is egter heel anders, soos dit in die 2020-vertaling weergegee word.

Agrippa II reageer minder skerp, moontlik selfs aangeraak, waarskynlik omdat die boodskap sin gemaak het uit wat hy geweet het van die Skrifte, hoewel dit hom uiteindelik nie beweeg het tot geloof nie.

Paulus se beroep op die keiser – onthou Jesus se belofte/opdrag (Hand. 23:11) – bring uiteindelik die masjinerie in beweging om Paulus die reis na Rome te laat aanpak, hierdie keer onder bevel van die Romeinse offisier, Julius.

Boodskap en betekenis

Paulus se verdediging voor Agrippa II en sy suster is uiteindelik nie maar net ‘n verhoor nie, maar ’n kragtige verkondiging van die evangelie. Paulus benut die geleentheid om vanuit sy eie verhaal – van verbete vervolger tot geroepe getuie – die waarheid van Jesus se opstanding en die vervulling van die Skrifte te bevestig. Selfs in boeie staan hy vrymoedig voor koning en volk om die lig van Christus aan Jode en heidene te bring. Sy getuienis wys dat die evangelie vir almal is, en dat geloof, bekering en nuwe lewe deur Jesus Christus moontlik is.

Al vind Festus dit eintlik waansinnig en Agrippa dit wel oortuigend – maar nie só dat hy tot bekering kom nie – bly die boodskap helder. Die evangelie word verkondig “om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in Jesus, vergewing van sonde en ‘n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.”

En Paulus sal dié boodskap tot in Rome verkondig.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar