Skip to main content

2 Konings 6:24-7:20

Die Here is goed vir dié wat op Hom bly hoop

Die tweede oorlog waarin Ben-Hadad (moontlik Ben-Hadad II – vgl 1 Kon 15:8 vir Ben-Hadad I; 1 Kon 20:1 vir dieselfde koning as hier in die tyd van Agab en 2 Kon 13:3 vir Ben-Hadad III) Samaria beleër het, was heel moontlik geruime tyd na die vorige een (vgl 2 Kon 6:23 – “Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie”), wat hierdie keer ook met ’n droogte saamgeval het. Dit lei tot ‘n ontsettende hongersnood waarin sommige hulle op gruwelike wyse tot kannibalisme wend. Dit laat die koning (waarskynlik Joram, hoewel hy nie genoem word nie) teen Elisa draai, maar die Here gee op wonderbaarlike wyse uitkoms deur die verwarring wat hy onder die Arameërs saai.

Teks en konteks

Toe donkiekoppe en duiwemis onbekostigbare luukse items raak in Samaria, verval van die inwoners in ‘n erge vorm van kannibalisme. Anders as die weduwee van Sarfat wat saam met haar kind wou sterf in die hongersnood, kom twee vrouens ooreen om hulle kinders te eet. Ná die eerste kind geëet is, weier die ma van die tweede kind egter om haar kant van die ooreenkoms na te kom.

Die optrede is nie net tragies van ‘n menslike kant af nie, maar ook van ‘n geestelike kant af, want dit is die tipe situasie waarteen die Here sy volk gewaarsku het as hulle Hom nie dien nie (Deut 28:52-57). Ook Esegiël het daarteen gewaarsku (Eseg 5:10) en Jeremia het self dié afgryslike optredes ná die ballingskap beleef (Klaagl 2:20; 4:10).

Toe die koning egter met dié grusame konflik gekonfronteer word, nader hy nie die Here om sy ingrype nie. Nee, hy draai teen Elisa, die Here se woordvoerder, en wil hom doodmaak. Sy woorde laat ‘n koue rilling agter ‘n mens se rug afgaan: “Kyk, hierdie onheil is van die Here. Waarom sou ek dan nog op die Here wag?”

Hoe anders as Jeremia wat juis in sulke tye tot hierdie God genader het met die woorde: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagl 3:24-26)

Die Here is die koning egter een voor en lig sy profeet in van die planne van die koning. En gee ‘n woord van hoop – dit lyk asof die koning self by Elisa opgedaag het – dat hulle reeds die volgende dag genoeg en goedkoop kos sal hê.

Toe die adjudant van die koning volhard in sy ongeloof, spreek Elisa ‘n oordeel oor hom uit wat die volgende dag inderdaad met die adjudant se dood voltrek is.

Die verlossing van die stad gebeur weereens met ‘n verwarring wat die Here onder die Arameërs laat losbars wat hulle “asof vir hulle lewens” laat vlug het.

Die vier siek mans se vonds word die verlossing van die volk in Samaria. Let op hoe hulle in skerp kontras met die vroue hulle kos met die beleërde stad se mense deel.

Boodskap en betekenis

‘n Mens hoor Psalm 42-43 se herhalende geloofsuitspraak ook eggo in hierdie verhaal: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps 42:6, 12; 43:5)

Die lewe het sy kwota droogtes en rampe wat dreig om alle hoop uit te doof. Maar, juis dan, is dit krities belangrik om nie die koning of sy adjudant se voorbeeld te volg nie. Die antwoord op die doodservaringe van hierdie lewe lê nie in ‘n opstand teen ander, en veral nie teen God nie.

Die antwoord lê in die vertroue en hoop op God. Hy is die helper in nood. Hy is goed vir dié wat op Hom bly hoop.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar