Skip to main content

2 Konings 6:24-7:20

Die Here is goed vir dié wat op Hom bly hoop

Die tweede oorlog waarin Ben-Hadad (moontlik Ben-Hadad II – vgl 1 Kon 15:8 vir Ben-Hadad I; 1 Kon 20:1 vir dieselfde koning as hier in die tyd van Agab en 2 Kon 13:3 vir Ben-Hadad III) Samaria beleër het, was heel moontlik geruime tyd na die vorige een (vgl 2 Kon 6:23 – “Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie”), wat hierdie keer ook met ’n droogte saamgeval het. Dit lei tot ‘n ontsettende hongersnood waarin sommige hulle op gruwelike wyse tot kannibalisme wend. Dit laat die koning (waarskynlik Joram, hoewel hy nie genoem word nie) teen Elisa draai, maar die Here gee op wonderbaarlike wyse uitkoms deur die verwarring wat hy onder die Arameërs saai.

Teks en konteks

Toe donkiekoppe en duiwemis onbekostigbare luukse items raak in Samaria, verval van die inwoners in ‘n erge vorm van kannibalisme. Anders as die weduwee van Sarfat wat saam met haar kind wou sterf in die hongersnood, kom twee vrouens ooreen om hulle kinders te eet. Ná die eerste kind geëet is, weier die ma van die tweede kind egter om haar kant van die ooreenkoms na te kom.

Die optrede is nie net tragies van ‘n menslike kant af nie, maar ook van ‘n geestelike kant af, want dit is die tipe situasie waarteen die Here sy volk gewaarsku het as hulle Hom nie dien nie (Deut 28:52-57). Ook Esegiël het daarteen gewaarsku (Eseg 5:10) en Jeremia het self dié afgryslike optredes ná die ballingskap beleef (Klaagl 2:20; 4:10).

Toe die koning egter met dié grusame konflik gekonfronteer word, nader hy nie die Here om sy ingrype nie. Nee, hy draai teen Elisa, die Here se woordvoerder, en wil hom doodmaak. Sy woorde laat ‘n koue rilling agter ‘n mens se rug afgaan: “Kyk, hierdie onheil is van die Here. Waarom sou ek dan nog op die Here wag?”

Hoe anders as Jeremia wat juis in sulke tye tot hierdie God genader het met die woorde: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagl 3:24-26)

Die Here is die koning egter een voor en lig sy profeet in van die planne van die koning. En gee ‘n woord van hoop – dit lyk asof die koning self by Elisa opgedaag het – dat hulle reeds die volgende dag genoeg en goedkoop kos sal hê.

Toe die adjudant van die koning volhard in sy ongeloof, spreek Elisa ‘n oordeel oor hom uit wat die volgende dag inderdaad met die adjudant se dood voltrek is.

Die verlossing van die stad gebeur weereens met ‘n verwarring wat die Here onder die Arameërs laat losbars wat hulle “asof vir hulle lewens” laat vlug het.

Die vier siek mans se vonds word die verlossing van die volk in Samaria. Let op hoe hulle in skerp kontras met die vroue hulle kos met die beleërde stad se mense deel.

Boodskap en betekenis

‘n Mens hoor Psalm 42-43 se herhalende geloofsuitspraak ook eggo in hierdie verhaal: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps 42:6, 12; 43:5)

Die lewe het sy kwota droogtes en rampe wat dreig om alle hoop uit te doof. Maar, juis dan, is dit krities belangrik om nie die koning of sy adjudant se voorbeeld te volg nie. Die antwoord op die doodservaringe van hierdie lewe lê nie in ‘n opstand teen ander, en veral nie teen God nie.

Die antwoord lê in die vertroue en hoop op God. Hy is die helper in nood. Hy is goed vir dié wat op Hom bly hoop.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…