Skip to main content

Hooglied 1:1-11

Passievolle plesier in saamwees

Ek plaas van hier af die skriftelike nalatenskap van Salomo – hetsy wat hyself geskryf het, of wat aan hom toegeskryf word: Hooglied, Spreuke, Prediker en ‘n paar Psalms. Ons sal daarna die afloop van sy lewe lees in 1 Konings 10-11 en 2 Kronieke 9.

Die boek Hooglied is ‘n digterlike kykie na hoe die liefdeskuns vir mans en vroue werk. Dit werk beide met die liefdesdrome wat ons oor mekaar het, sowel as met die werklikheid van daardie liefde. Die digter kies vir persoonlike liefde, teenoor die praktyk van die harem van Salomo se tyd. En dit spel uit hoe ‘n mens lief kan wees, sonder om jouself te verloor.

Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf. Dit is onder andere omdat die man en die vrou in die gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees.

Die vrou in die gedigte word as ‘n Sulammitiese vrou geïdentifiseer (Hoogl 6:13). Sulam was ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem.

‘n Mens kan ‘n sekere mate van progressie van gedagtes in die loop van die gedigte waarneem, waar die gedigte algaande meer en meer van die droom oor en verlange na die liefde beweeg na die vervulling en werklikheid daarvan. Hooglied werk dus beide met die liefdesdrome wat ons oor mekaar het, sowel as met die werklikheid van daardie liefde. Dit sluit ook die teleurstellings en misverstande van die liefde in.

Ek lees Hooglied daarom teen die agtergrond van ‘n drie-karakter liefdesverhaal, waarin ‘n Sulammitiese vrou deur Salomo die hof gemaak word, en sy – teen die insluiting in die harem saam met honderde ander vroue – kies vir persoonlike liefde, liefde vir die man wat haar op sy beurt ook liefhet. Die vroue van Jerusalem (Hoogl 6:1, 13; 8:5 – deel van die harem?), sowel as (waarskynlik) haar broers (Hoogl 8:8-9), lewer dan op gesette tye bykomende kommentaar. Dit gee ‘n handige manier om eenheid tussen die onderskeie selfstandige gedigte te vind.

Teks en konteks

Die indeling van die gedigte in hierdie gedeelte is nie eenvoudig nie. ‘n Mens sou die indeling in die 1983-vertaling kon gebruik, waarin net die man en die vrou in gesprek met mekaar geplaas word. ‘n Mens sou ook Peterson se indeling kon gebruik: The Woman – vers 2-7; The Man – vers 8-11.

Ek deel dit soos volg in:

Die vrou aan die man: 2 “Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3 jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. 4 Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe.

Ander vroue aan die man: “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou! Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn!”

Die vrou aan die man: “Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. 5 Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. 6 Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie.

7 Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”

Ander mans aan die vrou: 8 “As jy dit nie weet nie, mooiste van al die vroue, loop maar net op die kleinvee se spore en laat jou bokkies wei by die veewagters se tente.”

Die man aan die vrou: 9 “Soos ’n spogperd in die farao se strydwa, so is jy vir my, my liefling, 10 met jou lieflike wange tussen jou oorbelle, jou nek met sy kettinkies om. 11 Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin.”

Boodskap en betekenis

Reg van die begin van hierdie liefdesgedigte af word die sensualiteit en passie beskryf wat hierdie vrou en haar geliefde vir mekaar voel. Let op die liggaamlike (soene, liefkosings), aromatiese (parfuum) en visuele (lieflike wange, oorbelle, kettinkies) plesier wat hulle in mekaar vind. Dit is beter as wyn (Hoogl 1:2,4), ‘n mens kan dronk word daarvan!

Dit is die dryfvere agter hulle intense verlange en begeerte na mekaar en saamwees (Hoogl 1:4 – “Vat my saam met jou” ). Let op hoe hulle in die oortreffende trap van mekaar praat.

  • Selfs sy naam is vir haar soos suiwer parfuum (Hoogl 1:4). Dit blaas haar passie en liefde vir hom aan.
  • En sy is vir hom soos ‘n spogperd (Hoogl 1:9 – hy praat van ‘n merrie, wat soms in oorloë gebruik is om die aandag van die hingste af te lei …!). Sy het dus sy aandag gevang, en hy wil net meer daarvan beleef. Daarby wil hy (ons is hier die koninklike meervoud) haar skoonheid vier met ‘n geskenk van selfs nog mooier oorbelle van goud met silwerknoppies daarin (Hoogl 1:11).

Sy is egter ook deeglik bewus van die kompetisie wat sy in ander vroue het. Dit is aan die een kant as gevolg van die man se begeerlikheid: “daarom het die meisies jou so lief” (Hoogl 1:3) en “Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou” (Hoogl 1:4). Maar dit is ook as gevolg van haar anderste skoonheid, dat sy “bruingebrand” is (Hoogl 1:5) en “donker” (Hoogl 1:6).

Sy troef egter die moontlike negatiewe vergelyking met en deur die ander vroue (van Jerusalem – waarskynlik die harem) deur haar skoonheid met die “tente van Kedar” (Arabië) en die “tentdoeke van Salomo” te vergelyk – wat waarskynlik ook bruin van kleur was – en wyt haar kleur aan die werk wat sy in die buitelug moes doen in opdrag van haar broers (Hoogl 1:6).

Daardeur sê sy nie net iets oor haar laer posisie binne die familie nie, asook in die samelewing nie, maar ook van haar durf, lojaliteit en ondernemingsgees, al het dit beteken dat sy haar “eie wingerd” (metafoor vir haar voorkoms) nie so goed kon versorg as wat nodig is nie.

Dit is vir my opmerklik hoe hierdie tekening van hulle liefde te make het met van die 5 liefdestale wat Gary Chapman gemunt het: Physical Touch (Hoogl 1:2), Gifts (Hoogl 1:11), Quality Time (Hoogl 1:4), Words of Affirmation (Hoogl 1:9), Acts of service (moeiliker om te vind, kyk bv later in Hoogl 4:16; 5:1). Lees meer by 5lovelanguages.com.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem