Skip to main content

Sagaria 9:1-11:17

Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom

Die tweede deel van Sagaria, hoofstuk 9-14, is nie gedateer nie, en volg waarskynlik ‘n geruime tyd na die visioene van 519 v.C. Dit lyk asof dit moontlik in ‘n tyd gelewer is toe die voortdurende ongehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap en die gebrekkige voorbeeld van die priesterlike en politieke leiers, die profeet oortuig het dat die verwagte volkome verlossing eers verder in die toekoms tot vervulling sal kan kom.

Hierdie tweede deel van Sagaria bevat twee afdelings, telkens ingelei met die woorde: “’n Profesie” (9:1; 12:1). Soos vroeër gesê:

  • Die eerste afdeling – hoofstuk 9-11 – het te make met God se oordeel oor die nasies, die terugkeer van die volk uit hulle verstrooiing, God se keuse vir ‘n Messiaanse koningsfiguur as herder wat egter verwerp word, en daarom welwillendheid (vriendelikheid) en samehorigheid (vereniging), uitgebeeld met twee kieries, in die gedrang bring in die wêreld.
  • Die tweede afdeling – hoofstuk 12-14 – raak ook al dié temas aan, maar sien dit nog meer eskatologies, as iets wat aan die einde van alles – op “daardie dag” (12:3,4,6,8,9,11; 13:1,2,4; 14:1,4,6,7,9,13,20,21) – in vervulling sal gaan.

Die hoop lê dus vir Sagaria toenemend op hierdie toekomstige koninklike figuur uit die geslag van Dawid, hoewel dit ook sy verwerping insluit. Die Here sal egter steeds sorg dat Jerusalem uiteindelik die plek sal word waar die volk aan God gehoorsaam sal wees, en nasies daarheen sal stroom om die Here saam met die volk te aanbid.

Uit die NT weet ons dat die belofte van dié koninklike figuur in die Messias, Jesus die Christus, vervul is, soos Matteus 21:5 en Johannes 12:15 dit vir ons aantoon. Die profesie van Sagaria 9:9 is dus in Hom vervul: “Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.” Die feit dat Hy ‘n Lydende Messias sou wees, word ook op verskuilde manier in die profesieë aangeraak saam met die feit dat daar ‘n uiteindelike eskatologiese vervulling sal wees waarin God sy koninkryk vir alles nasies in werking sal stel.

Hierdie eerste afdeling se drie hoofstukke, hoofstuk 9-11, is dus opgebou rondom die tema van die Messiaanse Koning wat God se mense met Hom sal verenig. Dit sluit ook die nasies in. God sien immers alle mense raak, nie net al die stamme van Israel nie. Saam met sy straf vir die sonde kom egter ook altyd sy sorg en vrede wat voorspoed en genesing bring.

Teks en konteks

Sagaria 9:1-8 – Die Here sien alle mense raak en straf en sorg vir hulle net soos vir sy volk

Die frase: “Die Here sien alle mense” (NAV, OAV, RSV) , word ook direk omgekeerd vertaal: “Alle mense sien die Here” (Net Bible, The Message, NIV, KJV). Ek kies vir eersgenoemde vertaling, maar die betekenisse kom ooreen. Daar is ‘n verhouding tussen God en alle mense.

Binne die verhouding straf en sorg Hy vir hulle net soos vir sy volk. In dié gedeelte oorheers die oordeel van die Here oor Sirië (Garak, Damaskus, Hamat), Fenisië (Tirus, Sidon) en Filistea (Askelon, Gasa. Ekron, Asdod). Hulle wysheid het hulle verlei om die Here te ignoreer. Hulle rykdom het hulle hooghartig gemaak, maar dit sal die oordeel van die Here nie kan keer nie. Hulle trots sal gebreek word, omdat hulle afgode en nie die lewende God aanbid nie.

Tog is daar ‘n stukkie genade deurdat die oorblyfsel aan God sal behoort en deel sal raak van sy mense. Só sal hulle ingesluit word in die sorg wat Hy vir sy volk belowe: “Ek sorg nou self vir hulle.

Sagaria 9:9-17 – Die Here kom as Koning om vrede vir sy volk en vir die nasies te bewerk

Sagaria trek die sluier weg oor ‘n toekomstige koninklike figuur uit die geslag van Dawid, waardeur die Here sal sorg dat Jerusalem uiteindelik die plek sal word waar die volk aan God gehoorsaam sal wees, en nasies daarheen sal stroom om die Here saam met die volk te aanbid. Daaroor kan die volk nou al juig en jubel.

Sagaria belowe: “Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.” Hy sal die stryd tussen die verskillende dele van die Godsvolk tot ‘n einde bring, sowel as ‘n vredesryk stig wat tot in die uithoeke van die aarde vrede sal bring.

God se verbond met Hom is dat al die verstrooide gevangenes van die Godsvolk terug sal keer. Hy sal self hulle beskerm en hulle in God se land – let op dat dit sy land is – laat woon: “Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon.

Uit die NT weet ons dat die belofte van dié koninklike figuur in die Messias, Jesus die Christus, vervul is, soos Matteus 21:5 en Johannes 12:15 dit vir ons aantoon. Die profesie van Sagaria 9:9 is dus in Hom vervul. Die feit dat Hy ‘n Lydende Messias sou wees, word egter hierna op verskuilde manier in die profesieë aangeraak saam met die feit dat daar ‘n uiteindelike eskatologiese vervulling sal wees waarin God sy koninkryk vir alle nasies in werking sal stel.

Sagaria 10:1-11:3 – Die Here sal sy volk Juda en Josef weer verenig en laat terug kom

Sagaria raai die volk aan om afhanklik van God te lewe (vra vir reën op sy tyd) en deur die bedrog en leuens van afgodsbeelde en waarsêers te sien. Hulle drome beteken niks en dié dinge waarmee hulle probeer troos, bestaan nie.

Die Here is bewus van die feit dat dié verwarring en afvalligheid grootliks aan die leiers toegeskryf kan word, en kondig dus sy oordeel oor hulle aan. Hy sal self instaan om die regte mense aan te stel en die volk Juda (suidryk) en Josef (noordryk) te verenig. Hulle sal terugkom uit die verstrooiing, hier simbolies beskryf as uit Egipte en Assirië, as’t ware weer deur ‘n Nuwe Eksodus waarin hulle bv. deur die see sal trek.

Die Here belowe om by sy volk te wees en hulle sterk en weerbaar te maak. Dit sal pyn inhou vir dié wat Hom en die volk teengestaan het, hier voorgestel deur Libanon en Basan.

Sagaria 11:4-17 – Die Here wys ‘n herder aan wat verwerp word en welwillendheid en samehorigheid in gedrang bring

In hierdie laaste gedeelte word Sagaria aangesê om op simboliese wyse ‘n herder vir die volk te word met twee kieries: welwillenheid (vriendelikheid) en samehorigheid (vereniging). Dit is egter ‘n baie moeilike deel as ‘n mens elke detail probeer interpreteer.

Die oorhoofste punt van die gedeelte is wel duidelik, dat Sagaria, simbolies die goeie herder, uiteindelik verwerp sal word, al bedoel hy net goed. Daarom word die kieries van welwillendheid en samehorigheid gebreek en ‘n slegte herder aangestel: “wat niks sal omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, sal dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk.” ‘n Tragiese en ontstellende prentjie.

Die betekenis van die gedeelte is daarom duidelik. Die Here sal ‘n goeie herder stuur hierna, wat verwerp sal word. Daarmee kom welwillendheid en samehorigheid onder die nasies ook in gedrang, omdat die wêreld dan in die slegte herders se hande sal wees.

‘n Mens dink onmiddellik aan die NT se Goeie Herder, die Here Jesus Christus (Joh. 10), wat duidelik Homself as die vervulling van die goeie herder van Sagaria gesien het. ‘n Mens dink ook aan die gelykenisse wat die Here Jesus vertel het wat as voorbeeld nie net van sy eie sorg vir sy mense voorgehou is nie, maar vir hoe ons as gelowiges teenoor ander moet optree (Matt. 18).

Dit is ook duidelik dat die verraad van Judas in dié verwerping teruggelees kan word, veral in die ooreenkoms met die dertig silwer stukke en die weggooi daarvan in die huis van die Here (Matt. 27), hoewel die detail nie so maklik pas nie, bv. die rede vir die weggooi wat verskil. In Sagaria is dit weens minagting vir die klein bedrag, en in Matteus weens die minagting vir homself: “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man verraai.

Tog, hoor ons ook hier dat die Here dié slegte herders op die lange duur nie sal duld nie: “Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat!” ‘n Waarskuwing wat vir ons troos bring in die wêreld, maar ook uitdaag om self as goeie herders te lewe in ons eie konteks.

Boodskap en betekenis

Die eerste tema wat my tref, is God se deernis met mense. Hy sien almal raak, maak nie saak waar hulle is of wie hulle is nie. Selfs in sy oordeel bewerk Hy uitkomste, selfs vir die nasies. Hy verwag egter dat mense afhanklik van Hom sal lewe, en nie afgode en waarsêers sal raadpleeg nie. Hulle drome beteken niks en dié dinge waarmee hulle probeer troos, bestaan nie.

Die tweede tema wat my tref, is die vervulling van aspekte van hierdie gedeelte in die NT in die lewe en bediening van Jesus. ‘n Mens hoor hier op verskuilde manier van die verwerping van die Goeie Herder, wat sy status as die Lydende Messias beklemtoon. Ook die ooreenkomste met die verraad van Judas in die NT val ‘n mens op.

Die derde tema wat my tref, is dat ‘n mens hier ook die verklaring sien waarom welwillendheid en samehorigheid só in gedrang is in die wêreld. Dit het te make met leiers wat slegte herders is, herders wat die Herder verwerp, en hulle volgelinge verarm en verwoes. Tog, hoor ons ook hier dat die Here dié slegte herders op die lange duur nie sal duld nie: “Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat!” ‘n Waarskuwing wat vir ons troos bring in die wêreld, maar ook uitdaag om self as goeie herders te lewe in ons eie konteks.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda