Skip to main content

Habakuk 2

Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs

Teks en konteks

Habakuk 2:1 – Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap

Met dié laaste reeks vrae aan die Here, neem Habakuk in hoofstuk twee die enigste posisie in wat sin maak: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê, en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Habakuk 2:2-4 – Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly

Die Here antwoord Habakuk op twee maniere.

  • Hy wys in die eerste gedeelte wat die geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid in só ‘n tyd van onreg en oordeel is: “Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
  • Hy wys in die tweede gedeelte uitvoerig op die ellende wat mense te wagte kan wees wat plunder, knoei en onreg pleeg.

En dit is dié tweede antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 opgeteken het.

In die eerste gedeelte beveel die Here vir Habakuk om die boodskap op kleitablette te skryf wat mense sommer in die verbygaan kan lees. Dit moet dus baie sigbaar in die publieke oog wees, die moderne weergawe van groot kennisgewing- of advertensieborde. Dié boodskap is:

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” In die OAV lui die tweede frase: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Geloof en getrouheid (faithfulness) is albei goeie weergawes van die Hebreeus ‘emunâ.

Let op dat dié boodskap gekoppel word aan die geduldige wag vir die uitkoms van die Here:

Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

In dié twee woorde van die Here – 1) om te wag vir sy uitkoms, en 2) om in geloof en getrouheid te volhard – lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs (3:11 – “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”) en die Romeine (1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’”) so baie van hierdie boodskap maak.

Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (10:37-38 – “Nog net ‘‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdiens, het Ek niks aan hom meer nie.’”). Let op hoe die Hebreërskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. Let ook op hoe hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.”!

Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in die Romeine brief se boodskap (1:16-17) ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.

Habakuk 2:5-20 – Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg

Hierdie tweede antwoord van die Here is opgebou rondom vyf uitsprake van: “Ellende wag vir …” (2:6,9,12,15,19) wat volg ná die inleidende veroordeling in vers 5 van ‘n hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, ‘n direkte veroordeling van die Galdeërs se arogansie en grypsug. Dit sluit af met die oorhoofse oproep: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op die aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees.

Habakuk 2:6-8 – Ellende wag vir dié wat rykdom oneerlik en onregverdig bekom

Jy kan nie ander sy rykdom vir jouself toeeien en dink dat jy skotvry sal loskom nie. Die tyd kom nader, sê die Here, dat jou oneerlike en onregverdige besit deur ander van jou afgeneem sal word.

Habakuk 2:9-11 – Ellende wag vir dié wat ander uitbuit deur hulle geknoeiery

Jy kan nie ander uitbuit deur ‘n onwettige geknoeiery en dink dat dit nie ‘n ramp op jou en jou familie sal bring nie. Geen sekuriteit wat jy probeer bou, sal jou van ondergang beskerm nie, want selfs die klippe waarmee jy jouself probeer beveilig van ander, sal jou skuld uitskree en verkondig.

Habakuk 2:12-14 – Ellende wag vir dié wat mag bekom met moord en onreg

Die Here is oral en sien alles. Niks ontglip sy teenwoordigheid nie. Hy sal rekenskap eis.

Habakuk 2:15-17 – Ellende wag vir dié wat ander verlei met drank in wellustigheid

Noag se probleme met die vrug van die wingerdstok lê waarskynlik agter die beeldspraak wat hier gebruik word, en Gam se skandelike openbaringmaking daarvan (Gen. 9). Só mag mense nie met mekaar omgaan nie, want daardeur word hulle geweld aangedoen. Die Here se straf vir die ontering van ander deur die Galdeërs is dat hulleself onteer sal word.

Habakuk 2:18-20 – Ellende wag vir dié wat afgode dien

Die Here is skerp in sy veroordeling van afgodediens, nie net omdat dit mense verlei om Hom te dien nie, maar omdat dit só nutteloos is: “Dit is maar net iets wat deur ‘n mens gemaak is.” Geen vertroue sal hulle lewendig maak nie. Geen aandag aan hulle sal jou enigiets kan leer nie.

Wat nodig is, is om die Here in sy heilige tempel raak te sien en saam met almal op aarde in sy teenwoordigheid tot rus te kom. Sy goedheid sal triomfeer oor die kwaad.

Boodskap en betekenis

Ons is geneig om net te fokus op die wonderlike boodskap in Habakuk 3:17-19: “al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek in die Here jubel.” Dit is egter noodsaaklik om eers te fokus op die worsteling van Habakuk in die eerste twee hoofstukke vóór ‘n mens tot ‘n jubeling midde in jou en jou gemeenskap se stryd oorgaan.

Dit is nie ‘n klein saak as geregtigheid ‘n grap geword het nie. Dit is nie maklik om die grypsug en geweld van plunderaars gade te slaan, veral as dit oopgevlek word in die openbare lewe nie. Dit is pynlik en hartverskeurend. Habakuk roep ons op om sélf met God daaroor in gesprek te tree en dán te wag, en te luister na sy antwoorde vóórdat ons ons geloof in Hom bely met die jubeling dat Hy genoeg is vir ons, dat sy uitkoms genoeg is vir ons.

Ons moet ook onthou dat die vyf uitsprake van ellende oor plunderaars en knoeiers ons nie vryspreek van die absolute eis van die Here tot geloof in en getrouheid aan Hom nie. “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou/gelowig bly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!