Skip to main content

Matteus 21

Jesus openbaar sy gesag en konfronteer onvrugbare geloof

Matteus 21 beklemtoon Jesus se koninklike intog as die vervulling van die Messiaanse profesieë. Die hoofstuk begin met sy triomfantelike Intog in Jerusalem op ‘n donkievul, waar die mense Hom as die koning van Israel verwelkom, en “Hosanna” sing. Jesus reinig dan die tempel, wat sy gesag oor die godsdienstige praktyke beklemtoon, en hou aan om die valse en onvrugbare godsdiens van die Fariseërs en skrifgeleerdes te ontbloot deur middel van gelykenisse.

Teks en konteks

Jesus stuur dissipels om ‘n donkievul te bring (Matteus 21:1-7)
21:1-3
Jesus stuur twee dissipels om ‘n donkievul en haar merrie by Betfage te haal. Hulle moes aan die eienaars sê: “Die Here het hulle nodig.” Dit verwys waarskynlik na die destydse “angaria”-gebruik, waar vooraanstaande persone diere kon opkommandeer.
21:4-5 Matteus koppel die gebeure aan Sagaria 9:9 en Jesaja 62:11, waarin die nederige koms van die Messiaanse Koning voorspel word. Jesus se Intog op die donkievul demonstreer sy nederigheid en sy vervulling van profesie.
21:6-7 Die dissipels bring die donkies en lê klere op hulle, waarop Jesus ry. Die donkiemerrie het waarskynlik gehelp om die vul te kalmeer vir die Intog.

Boodskap en betekenis

Weereens tref die gesag van Jesus se optrede ‘n mens. Dat dit ‘n vervulling van OT profesieë is, staan ook helder in die gedeelte uit. Maar, die inherente konflik wat hierdeur geskep word, is ook onteenseglik deel van die gebeure. Die Jode sou die betekenis van hierdie Intog nie kon mis nie. Soos Dawid eenmaal sy seun Salomo laat inry het op ‘n muil om sy koningskap onomwonde te verklaar, só kom Koning Jesus op sy eie terme die stad van Dawid as Koning binne (vgl 1 Kon 1:38-40). Hulle sou voor ‘n keuse gestel word om Hom te aanvaar, of te verwerp. ‘n Keuse wat elke persoon ook moet maak.

Jesus ry Jerusalem binne te midde van lof (Matteus 21:8-11)
21:8-9
Die skare eer Jesus as die Seun van Dawid deur klere en takke op die pad oop te gooi en Hom met Hosannas te begroet. Dit wys op hulle erkenning van sy koninklike status.
21:10-11 Die Intog laat die stad in beroering, maar daar is onsekerheid oor Jesus se identiteit. Hoewel die skare Hom as ‘n profeet van Nasaret beskou, blyk daar ‘n gebrek aan ware geloof te wees.

Boodskap en betekenis

Hoewel die hele stad dus in rep en roer hieroor was, lei dit hulle nie tot geloof in Jesus nie. Want, aan die einde van hierdie week sal hulle uiteindelik, soos ons weet, saam met die Joodse leiers skreeu: Kruisig Hom, kruisig Hom.

Jesus reinig die tempel (Matteus 21:12-17)
21:12-13
Jesus maak die tempel skoon deur handelaars en geldwisselaars uit te jaag. Hy verklaar dat die tempel ‘n huis van gebed moet wees, nie ‘n rowersnes nie (Jes 56:7; Jer 7:11).
21:14-16 Jesus genees blindes en kreupeles in die tempel. Kinders prys Hom as die Seun van Dawid, wat die leierpriesters en skrifkenners woedend maak. Jesus verwys na Psalm 8:3 om die lof van kinders as ‘n vervulling van God se wil te bevestig.
21:17 Ná hierdie gebeure vertrek Jesus na Betanië om daar te oornag.

Boodskap en betekenis

Die eksplisiete vervulling van twee profesieë die Sondag (Jes 62:11; Sag 9:9) beweeg die stad en veral die leiers dus nie tot geloof in Jesus nie. Selfs die kinders, wat raaksien dat die reiniging van die tempel Hom stempel as die Seun van Dawid, oortuig die leiers nie. Jesus haal egter nog ‘n Skrif aan om te wys dat die kinders die waarheid raaksien soos die Skrif in Psalm 8 voorspel het.

Jesus vervloek die vrugtelose vyeboom (Matteus 21:18-22)
21:18-19
Op Maandag vind Jesus geen vrugte aan ‘n vyeboom nie, al het dit blare. Hy vervloek die boom, wat onmiddellik verdroog. Dit simboliseer die Joodse volk se gebrek aan geestelike vrug.
21:20-22 Die dissipels is verbaas oor die vinnige verdroging van die boom. Jesus gebruik dit om geloof en gebed te onderrig: deur geloof kan selfs die onmoontlike gebeur, soos ‘n berg wat in die see gewerp word. Hy beklemtoon dat geloof en vertroue noodsaaklik is vir gebedsverhoring, volgens God se wil.

Boodskap en betekenis

Die gedeeltes toon Jesus se gesag as Koning, sy oordeel oor geestelike leë godsdienstigheid, en sy lering oor die krag van geloof en gebed. Sy Intog en die reiniging van die tempel beklemtoon sy identiteit as die Messias, terwyl die vervloeking van die vyeboom en sy lering oor geloof dissipels oproep tot ‘n vrugbare verhouding met God.

Jesus antwoord nie die vraag oor sy gesag nie (Matteus 21:23-27)
21:23-27
Ná Jesus die tempel gereinig het, vra die Joodse leiers Hom uit oor sy gesag. In plaas van ‘n direkte antwoord stel Jesus ‘n vraag oor Johannes die Doper se gesag. Die leiers huiwer om te antwoord, uit vrees vir die mense wat Johannes as ‘n profeet beskou. Hulle pleit onkunde, en Jesus weier om sy gesag aan hulle te openbaar.

Boodskap en betekenis

Jesus openbaar die huigelagtigheid van die leiers en hul ongeloof, terwyl Hy sy eie gesag demonstreer deur hul planne te troef.

Gelykenis van die twee seuns (Matteus 21:28-32)
21:28-30
Jesus vertel van twee seuns aan wie hul pa opdrag gee om in die wingerd te werk. Die eerste weier aanvanklik, maar kry later spyt en voer die opdrag uit. Die tweede stem entoesiasties in, maar doen uiteindelik niks.
21:31-32 Die Joodse leiers oordeel dat die eerste seun die pa se wil gedoen het. Jesus gebruik die gelykenis om te sê dat tollenaars en prostitute, wat aanvanklik ongehoorsaam was, nou in die koninkryk van God is. Die leiers het egter hul ongehoorsaamheid voortgesit deur nie Johannes die Doper se boodskap te glo nie.

Boodskap en betekenis

Bekering en gehoorsaamheid is belangriker as leë woorde. Selfs diegene wat eers ongehoorsaam was, kan herstel word deur berou en geloof.

Gelykenis van die wingerd en die huurder-boere (Matteus 21:33-46)
21:33-39
Jesus vertel van ‘n grondeienaar wat ‘n wingerd aan boere verhuur. Toe hy slawe stuur om die vrugte te oes, mishandel en doodmaak die boere die slawe. Hy stuur uiteindelik sy seun, maar hulle maak hom ook dood om die erfgrond te besit.
21:40-41 Jesus vra wat die eienaar met die boere sal doen. Die leiers antwoord dat hy die boere sal straf en die wingerd aan ander sal gee wat getrou sal oes.
21:42-44 Jesus verwys na Psalm 118:22-23 oor die hoeksteen wat deur bouers verwerp is. Hy verklaar dat die koninkryk van God van die leiers weggeneem sal word en aan ‘n vrugdraende volk gegee sal word. Diegene wat teen die hoeksteen bots, sal verpletter word.
21:45-46 Die leiers besef dat Jesus na hulle verwys en wil Hom gevange neem, maar vrees die skare, wat Hom as ‘n profeet beskou.

Boodskap en betekenis

Die wingerd simboliseer die geloofsgemeenskap, en die boere is die leiers wat misluk om vrugte te lewer. Jesus, die hoeksteen, is die middelpunt van God se koninkryk. Sy teenstanders sal geoordeel word, maar dié wat gehoorsaam is, sal vrug dra.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…