Psalm 119:89-96
LAMED – Vir ewig staan u woord vas
Die Psalmis verwonder hom in die twaalfde deel van die Psalm oor die blywende waarde van die openbaring van God: “Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel.” Daar is ‘n permanensie en betroubaarheid aan God se woorde wat nie net in die geskape werklikheid van die hemel en die aarde raakgesien kan word nie (119:89), maar ook in die durende en blywende effek wat sy woord – geskrewe en ongeskrewe – in die geskiedenis het, van geslag tot geslag (119:91). God se skeppingswoord bevestig die blywende waarde van sy openbaringswoord.
God se woorde gaan daarom nooit uit die mode nie, die vreugde daarvan bly van krag selfs in die grootste ellende en swaarkry wat ons kan beleef. Dit hoef nooit opgedateer te word nie. Dit is genoeg vir elke situasie wat mag ontstaan. Daarom kan ‘n mens daarop staatmaak. Dit maak jou nie net lewend nie (119:93), maar dit hou jou in die lewe, anders sou ‘n mens se ellende vir jou te veel geword het. Soos Peterson vertaal: “If your revelation hadn’t delighted me so, I would have given up when the hard times came.” (The Message)
Daarom is dit só belangrik om jou hele lewe om God se woorde te laat draai. Trouens, die Psalmis sê: “Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie.” Hy weet sy eie voortbestaan hang van dié woorde van God af. In die permanensie van God se woorde vind die Psalmis sy eie permanensie!
Want dit is die realiteit van God se openbaring. Soos die laaste reël van vers 96 sê: “u gebod is sonder grense”. Dit bedoel dat die diepte en wydte van God se openbaring nooit volledig ondersoek en begryp kan word nie. Dit is dieselfde as wat van sy liefde gesê word, dat dit onbegrens is. Daar is altyd nóg ‘n kant daarvan wat vir die Psalmis oopgaan en sy vreugde in en verbintenis aan God se woorde verdiep.
Jeremia het dieselfde gedagtes in sy Klaagliedere opgeteken oor God se liefde. Juis toe hy in die ballingskap gedink het dit is klaar met hulle en met hulle hoop op die Here, het die besef gekom: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Daar het ’n oorblyfsel gebly.
Wat vir Jeremia beteken het: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Dié woorde het Robert Davidson geïnspireer tot die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.”
Daarteenoor staan al die ander dinge op aarde, selfs waar dié dinge wonderlik is, selfs volmaak is. Alles het ‘n grens, net God se openbaring nie. Trouens, al dié dinge in hemel en op aarde is God se diensknegte. Hulle voer sy besluite en bepalings uit, bring sy openbaring tot hulle volle verwerkliking. Daarom kan ‘n mens op God se woorde staatmaak, al kan ons nie dieselfde sê van enige ander ding wat bestaan nie, hoe volmaak ook al.