Skip to main content

Job 10

Maak aan my bekend waarom U hierdie stryd teen my voer

Job se antwoord aan Bildad gaan spontaan oor in ‘n gebed tot die Here in hoofstuk 10 dat dié hom: “tog nie skuldig sou verklaar nie”, maar aan hom bekend sal maak: “waarom voer U hierdie stryd teen my.” (10:2).  Die Here het hom immers die lewe gegee en met liefde versorg en oor hom gewaak.  Waarom het die Here dít dan gedoen, as hy nou sonder rede versaak word?  Moes hy nie liewer nooit die lewe gesien het nie?  Dit sou tog beter gewees het as om hierdie lyding te moet deurstaan?

Job walg daarom aan sy lewe, nie net omdat hy ly nie, maar veral omdat hy in die duister is oor die redes vir sy lyding.  Hy smag daarna dat die Here die redes vir sy lyding sal bekendmaak.

Hy werk dus eintlik net soos die drie vriende met die basiese veronderstelling dat die lewe regverdig moet wees – die vromes moet God se goedheid ervaar, en die goddeloses sy toorn.  Maar, dié teologie is besig om vir hom te verkrummel.

  • Hy wonder dus of God plesier vind in vromes se leed en eintlik self boos is deur die goddeloses se planne met sukses te bekroon (10:3).
  • Hy wonder of die Here eintlik maar nes mense na die lewe kyk wat altyd vergelding soek (10:6).

Hy maak immers staat op sy vroomheid om hom van lyding te vrywaar, maar dit sou gefnuik word as die Here self boos is of soos mense sou oordeel.  Dan sou die lewe regtig futiel en sonder sin wees.

Dat hy vroom is, moet die Here tog weet van hom, sê Job, want die Here self het hom op ‘n wonderlike manier geskep.  Let op die persoonlike karakter van die metafore wat uitmond in die lofprysing aan God: “U het my die lewe gegee, en my met liefde versorg, met sorg het U oor my gewaak.” (10:12).

Die Here sou dus weet as daar by hom skuld sou wees.  Die Here sou sy sonde tog maklik kon raaksien.  As daar skuld sou wees, het hy nie ‘n probleem met die lyding nie.  Maar, nou is daar nie skuld nie, en hy kan net nie sy lyding verstaan nie.  Sy onskuld hou vir hom geen voordeel meer in nie.

Hy eindig sy gebed met dieselfde tipe waaroms waarmee hy in hoofstuk 7 geëindig het.  Waarom het die Here hom in die wêreld laat inkom?  “Ek moes liewer gesterf het voordat ‘n oog my kon sien.” (10:18).  Dan sou hy meer rus gehad het, al is dit ‘n: “land van die donker nag… waar die lig self donker is.” (10:22).

Job begin dus agterkom dat die rasionele benadering tot die lewe ernstige beperkinge het.  Die lewe werk nie net met eenvoudige vergelykings nie.  Dit is nie net soos ‘n optelsom waar een plus een gelyk is aan twee nie, hoewel dit in normale omstandighede wel só kan werk en Job dit in die eerste deel van sy lewe so ervaar het.

Daar is altyd egter ook anomalieë, uitsonderings, wat die normale patrone deurbreek.  In fisika moet die standaard model vir gravitasie bv. aangepas word in boorgate om voorsiening te maak vir die afwykings wanneer jy omring word met materie.  As daar nog digter en minder digte materiale rondom jou is, soos digter of minder digte minerale, het dít ook nog ‘n verdere invloed.

Só werk dit ook in die geestelike lewe.  Daar is eenvoudige waarhede wat die grondbeginsels is waarop ‘n mens kan staatmaak.  Dinge soos God wat gebede verhoor, wat genadig en barmhartig is, wat ons lief het meer as wat ons ons kan indink.  Daar is egter ook komplekse waarhede wat in spel kom wanneer die lewe kompleks raak weens siekte, verganklikheid en boosheid.  Dan werk ‘n mens met waarhede soos dat God alles ten goede laat uitwerk (Rom. 8:26).  Maar dit sluit uiteraard nie die lyding uit nie, maar in.

Hiervan is Job se lewe een van die beste voorbeelde, soos Jakobus hom aan ons voorhou as ‘n voorbeeld van vertroue en volharding, selfs al gaan dit broekskeur met jou (Jak. 5:7-11).  Daar was immers ook ‘n goeie uitkoms, al word die vraag na presies hoekom al die lyding met hom gebeur het, nooit vir hom duidelik gemaak nie.  Net ons het die voordeel van die insig wat Job 1-2 vir ons bring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.