Skip to main content

Jesaja 21-23

God se oordeel bereik alle nasies, maar daar is hoop

Na die ses orakels in Jesaja 13-20 (Jes 13:1-14:27 – Babel; Jes 14:28-32 – Filistea; Jes 15:1-16:13 – Moab; Jes 17:1-14 – Damaskus en Efraim; Jes 18:1-7 – Ethiopië en Egipte; 19:1-25 – Egipte) en Jesaja se liggaamsprofesie (Jes 20), kry ons in Jesaja 21-23 ses orakels waarin God nóg nasies aanspreek wat sy oordeel oor alles nasies verteenwoordig met ‘n boodskap van hoop aan die einde daarvan.

  • Die reeks begin met ’n orakel teen Babel van soveel afgryse dat Jesaja daarvan terugdeins (Jes 21:1-10).
  • Dit word gevolg deur ‘n orakel teen Duma (Edom) wat uit die duisternis roep en meer duisternis belowe word (Jes 21:11-12).
  • Dan kom ‘n orakel teen Arabiese stamme, Dedan, Tema en Kedar in die woestyn wat die vernietiging van hulle rykdom voorspel met net ‘n klein oorblyfsel wat gespaar word (Jes 21:13-16).
  • Dit word gevolg deur ‘n orakel teen Jerusalem wat die gevaar loop om weens hulle onbekeerlikheid vergifnis te ontbeer (Jes 22:1-25).
  • Daarna is daar ‘n begrafnislied teen Tirus en Sidon wat wêreldwyd ‘n impak het (Jes 23:1-14).
  • Die lig aan die einde van die tonnel is die orakel op Tirus waar hulle selfgerigtheid verander word na diens aan die Here (Jes 23:15-18).

Teks en konteks

Jesaja 21:1-10 – Teen Babel

Die profesie teen Babel in Jesaja 21:1-10 sluit aan by die vorige een in Jesaja 13:1-14:23. Eintlik word Babel hier nie in die eerste vers genoem nie. Die profesie is gemik teen “die woestyn van die see”, wat waarskynlik by die Persiese idioom aansluit wat van die land om die Persiese golf as “die land van die see” gepraat het. Vers 9 verbind die uitspraak egter aan Babel.

Die Mediërs (vandag soos die Perse deel van Iran) word as instrumente in die oordeel op Babel genoem, hierdie keer in tandem met Elam (die Hoogland noord-oos van Babel) (vers 2). Dit kan dus dui op die oorwinning oor Babel, ver in die toekoms, in 539 vC, wat tot die volk se terugkoms uit ballingskap na Jerusalem sou lei (vgl Dan 6 waar Belsasar deur die Meders en die Perse oorwin is).

Let op die angs wat die visioen vir die profeet bring – die rustigste deel van die dag (skemeraand) is nou vir hom ’n verskrikking (vers 4) – terwyl die ander begin eet en drink. Hy word daarom aangesê deur die Here om ’n wag uit te sit om goed op te let wat aan die gang is. Die persoon word deur ‘n man op ‘n strydwa meegedeel dat die visioen dui op Babel wat geval het: “en al die beelde van sy gode lê stukkend op die grond!”

Die boodskap word aan God se “vertrapte volk” meegedeel, wat op die bevryding uit ballingskap kan dui.

Jesaja 21:11-12 – Teen Edom

Hierdie teks is baie misterieus. Duma kan vertaal word as “Stilte” en klink daarby in Hebreeus soos “Edom”. As ’n mens dit verbind met die verwysing na Seïr in vers 11 wat ’n berg in Edom was, lyk dit asof dié orakel waarskynlik teen die Edomiete gerig was, soos wat die opskrif by die teks aandui.

Die Edomiete is die nageslag van Esua (edom beteken rooi, wat verwys na Esau se gelaatskleur, sowel as die kleur van die lensies – Gen 25) – wat suid-oos van die Dooie See gewoon het.

Dit lyk asof die orakel dui op die onafwendbaarheid van die donkerte wat telkens weer aanbreek vir mense wat die Here nie dien nie. Die oordeel is dus nog nie verby nie.

Maar, kom weer, as julle verder wil weet, sê die “wagter”.

Jesaja 21:13-17 – Teen Arabië

Die plekname kan almal met Arabië verbind word: Dedan, Tema (’n oase) en Kedar. Die Here kondig ’n einde aan hulle rykdom aan met net ’n klein oorblyfsel wat sal oorbly.

Jesaja 22:1-25 – Teen Jerusalem

Let op dat Jerusalem “die plek waar visioene gesien word” genoem word in vers 1 en 5, ’n verwysing na profetiese aktiwiteite. Maar ’n mens soek tevergeefs na mense wat dié visioene ernstig neem.

Dit wil voorkom asof die beleëring van Sanherib teen Jerusalem in 701 vC die historiese agtergrond gee vir die aanvang van hierdie orakel, ’n aanval wat afgeweer is, soos ons later in Jesaja 36 vv gaan lees. Die vreugde daaroor is egter dwaas, sê Jesaja met ’n seer hart, want daar is nog ’n bedreiging wat kom, omdat die volk nie regtig hulle tot die Here bekeer het nie.

Die bedreiging word geïdentifiseer van Elam en Kir af (vers 6). Elam was deel van die Assiriese ryk (noord-oos van Babilon) en Kir was een van die stede van die Arameërs (die Siriërs vandag) waarheen Assirië gevangenes geneem het. Hulle sal die oordeel kom voltooi, al lewe die mense van Jerusalem onbewus daarvan (vers 13). Let op die kras taal van vers 14 – die Here sal hulle dié sonde, om fees te vier sonder om Hom in ag te neem, nooit vergewe nie.

Let op hoe Sebna aangevat word dat hy homself tot die posisie van ‘n koning verhef deur die graf wat hy vir homself gebou het. Hy word veroordeel en in sy plek word Eljakim aangewys, iets wat ons reeds in Jesaja 36 raaksien waar Eljakim vóór Sebna gelys word. Dit is ‘n verhaal wat ook deur Jesus in sy brief aan Filadelfia in Openbaring 3 gebruik word.

Terloops: die Paleis van die Bos was een van Salomo se bouwerke (1 Kon 7:2; 10:16-17; 14:25-28) waarin wapens gestoor was.

Jesaja 23:1-14 – Teen Tirus en Sidon

Vers 1-14 vorm ’n eenheid en is ’n “begrafnislied” oor Tirus en Sidon waarin die oordeel oor hulle uitgespreek word.

Tirus (Sur in hedendaagse Lebanon – onthou dat dit aanvanklik ’n eiland (vers 2) langs die kus was en eers later ’n skiereiland geword toe Alexander, die grote, Griekse heerser, ’n pad tussen die eiland en die vasteland gebou het) en Sidon (Saida vandag) was almal groot hawestede in Fenisië, westelike kusstrook van Israel, vanwaar hulle handel gedrywe het.

Tarsis was waarskynlik ’n stad in Spanje waarheen hulle handelsware uitgevoer het. Dit is ook die stad waarheen Jona op pad was toe hy in Joppe aan boord gegaan het op die skip (onderskei dit egter van Tarsus, die geboortestad van Saulus in Klein-Asië).

Kittiërland was die naam vir Siprus en Sigor ‘n stad in Egipte geleë in die Nyl-delta.

Die Galdeërs was die bevolking van Suid-Babilon. Die woord is later gebruik vir die hele koninkryk van Babel. Op hierdie stadium het Assirië oor hulle geheers (vers 13).

Let op die wêreldwye impak van die oordeel. Almal praat daaroor. En dan kom hulle agter, dit is al die tyd die Here wat die verwoesting laat gebeur het (vers 9). En let ook weereens op, soos met so baie ander nasies, dit is hulle hoogmoed wat die Here tot oordeel beweeg.

Jesaja 23:15-18 – Die Here gee weer aandag aan Tirus

Hier het ons ’n boodskap van hoop, nogal gekoppel aan die metafoor van ’n lied oor ’n prostituut wat om ’n nuwe begin vra. Die profeet voorspel dat die oordeel 70 jaar, ’n leeftyd, sal duur waarna Tirus weer sal handeldryf. Die droom is egter dat sy wins en verdienste dan vir die Here afgesonder sal word, bestem vir dié wat in die diens van die Here is: “aan hulle wat in die teenwoordigheid van die Here woon” (vers 18).

Boodskap en betekenis

Selfs in die ergste oordeel wat God voltrek teen die nasies, selfs teen sy eie volk, is daar ‘n liggie van hoop. Die verwoesting wat Babel oor die hele wêreld bring, is nie die laaste sê oor die “vertrapte volk” nie. Die duisternis wat herhalend toesak oor Edom, sal ook nie vir ewig duur nie: “As julle vrae het, vra! Kom weer terug!” Selfs die onbekeerlikheid van Jerusalem en die materialisme van Tirus en Sidon sal nie keer dat die Here ‘n verandering bewerk nie, ten minste vir die oorblyfsel uit die nasies, en vir die mense wat hulle instel “om in die teenwoordigheid van die Here te woon.”

Let ook op hoe Jesus in Openbaring 3:7-13 die profesie oor Eljakim gebruik om sy spog-gemeente Filadelfia te beskryf vir wie Hy die “sleutels van Dawid” gee – soos vir Eljakim – om op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof verder te versprei, al is hulle kragte min. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode, belowe die Here Jesus.

Jesus gebruik dus hierdie verhaal in Jesaja waar Eljakim die dienskneg word wat die sleutels van die koningshuis van Dawid gehad het, en kon besluit het wie die koning mag sien, en wie nie, om dit op Homself van toepassing te maak. Dít is nou die rol wat Jesus met betrekking tot die koninkryk van God het. Jesus bepaal wie kan in, en wie nie. Jesus het die sleutels van die koninkryk. En Hy bemagtig gemeentes daarmee!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda