Skip to main content

Psalm 110

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die volgende nege Psalms, Psalm 110-118, is bedoel om die geloofsgemeenskap te help om te fokus in gebed op God se beloftes van die vestiging van sy heerskappy. Dit word in Psalm 110 verwoord in die gebed vir die vestiging van die Dawidiese koningskap, waarskynlik met die aanwysing van Salomo as die nuwe koning (vgl. 1 Konings 1-2). Met die verwysing na Melgisedek is daar duidelik ook Messiaanse trekke, iets wat uiteindelik met die koms van Jesus in vervulling gegaan het. Daarom word Psalm 110 ‘n paar keer in die NT aangehaal. In ’n gesprek met die Fariseërs gebruik Jesus Psalm 110:1 om Sy goddelikheid te bevestig: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Matt. 22:41-45). Die Hebreërskrywer gebruik twee verse uit hierdie Psalm om Jesus se priesterlike koningskap te bevestig: Psalm 110:1 – “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Hebr. 1:13) en Psalm 110:4 – “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” (Hebr. 5:6). Die apostels het ook Jesus se hemelvaart verklaar as ’n aanvulling van die uitspraak in hierdie psalm (Hand. 2:34). Jesus se oorwinning aan die kruis is ook aan hierdie psalm verbind (Hand. 2:35).

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Die Here het vir my heer gesê: “Sit op die ereplek aan my regterkant totdat Ek jou vyande verneder het tot ’n voetbankie onder jou voete.” Uit Sion sal die Here u heerskappy uitbrei; u sal heers oor u vyande. U volk sal as vrywilligers diens doen op die dag van u magsbetoon. Op die heilige berg, wanneer die dag breek, kom u jong manne soos die dou. Die Here het ’n eed afgelê en sal dit nie herroep nie: “Jy is priester vir altyd, volgens die orde van Melgisedek.” Die Here staan aan u regterhand. Op die dag van sy toorn sal Hy konings verpletter. Hy sal die nasies oordeel en hulle dooies sal oral lê. Hy sal hulle leiers verpletter oor die hele aarde. Maar Hy sal Hom verkwik uit die spruite langs die pad, want Hy sal seëvierend wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie gebed is in NT konteks ‘n belangrike gebed om te bid. Dié Psalm herinner ons aan die Here Jesus wat alreeds koning is op grond van sy kruisdood, opstanding en hemelvaart, maar waarvan die volledige verwerkliking en erkenning daarvan nog in die toekoms by sy wederkoms lê. Ons vra dus in die taal van die Psalm met reikhalsende verlange na God se koninkryk: “Uit Sion sal die Here u heerskappy uitbrei; u sal heers oor u vyande. U volk sal as vrywilligers diens doen op die dag van u magsbetoon.” Ons wag vir die finale bekendmaking van God se heerskappy oral en oor almal. Dit is dieselfde gebed as wat die Gees en die bruid in Openb. 22 bid: “Kom! En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’” Bid dit dan vandag … en elke dag, totdat Hy weer kom.

Oor Melgisedek

Om jou gedagtes te verfris: in Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is. Hy het brood en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Abram se reaksie was betekenisvol. Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee. Daarmee is Melgisedek se voorrang bó die aartsvader Abraham bevestig. Die Hebreërskrywer lê die bestaande teks in Genesis 14 verder uit en verduidelik benewens die verklaring van sy naam as “Koning van Geregtigheid” ook sy naam as “Koning van Salem” dit is “Koning van Vrede”. Dit is egter die volgende aansprake oor hom wat ’n mens tot stilstand laat kom: “Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde.” Dit is beskrywings wat net op ’n hemelse ongeskape wese van toepassing kan wees. Die toppunt van die Hebreërskrywer se aanspraak is dat Melgisedek daarbenewens: “soortgelyk aan die Seun van God” geteken word, d.w.s. dat hy ‘n voorafskaduwing van Jesus as Seun van God is. Dit is merkwaardig! Melgisedek as ‘n gestalte uit die OT het dus in die NT ‘n realiteit in Jesus geword. Die enigmatiese misterieuse hemelse figuur Melgisedek vind vervulling in Jesus as die Seun van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.