Skip to main content

Romeine 16

Paulus groet almal, maar waarsku die gelowiges om weg te bly van dwaalleraars

Paulus sluit sy brief af met uitgebreide groete aan 27 individuele mense en 3 families (16:1-16). Hy waarsku die gelowiges om weg te bly van die dwaalleraars (16:17-20) en dra ook die persoonlike groete van Paulus se metgeselle aan die gemeente oor (16:21-23) en sluit met ‘n eerbetoon aan God in Christus af (16:25-27)

Teks en konteks

Persoonlike groete van Paulus (16:1-16)

Paulus sluit sy brief aan die Romeine af met ‘n sterk aanbeveling van Febe, ‘n dienares (diaken) van die gemeente in Kenchreë, die oostelike hawe van Korinte, en roep die gemeente van Rome op om haar met eerbied te ontvang en te ondersteun in haar bediening. Sy het heel moontlik die brief aan die Romeine gaan aflewer.

Paulus stuur groete aan 27 individuele mense en 3 families, wat getuig van die diverse samestelling van die vroeë kerk.

Van die meeste het ons nie baie inligting nie, maar ek lig hier ‘n paar besonderhede uit:

  • Priska en Akwila was tentmakers soos Paulus en sy medewerkers in Christus Jesus. Hulle het op baie maniere hulle lewens vir Paulus op die spel geplaas (moontlik tydens die opstand in Efese) en het ook vir Apollos onderrig in die Evangelie (Hand 19). Hulle was waarskynlik vermoënd met huise in Rome sowel as in Efese. Hulle het ook aan die hoof gestaan van ‘n kerk in hulle huis.
  • Epenetus was die eerste bekeerling uit die provinsie Asië (Turkye), waarskynlik op Paulus se eerste sendingreis.
  • Maria was iemand wat bekend was vir haar onvermoeide ywer vir die gemeente van Rome. Sy was dus iemand anders as die vyf Marias wat in die Evangelies genoem word.
  • Andronikus en Junia, waarskynlik ‘n egpaar, was ook Jode, soos Paulus, en saam met hom in die gevangenis, hoewel ons nie presies weet waar nie. Hulle was hoog aangeskrewe by die apostels. Die Grieks kan selfs dui daarop dat hulle apostels was, waarskynlik in die sin van sendelinge.
  • Ampliatus was ‘n geliefde vriend in die Here vir Paulus.
  • Urbanus was ‘n medewerker.
  • Stagis was ook ‘n geliefde medewerker.
  • Apelles was iemand gerespekteer vir die beproewinge wat hy deurstaan het.
  • Paulus groet ook die familie van Aristobulus.
  • Herodion was ‘n volksgenoot van Paulus.
  • Die familie van Narsissus “wat in die Here is” het waarskynlik ‘n huiskerk gehuisves.
  • Trifena en Trifosa was harde werkers vir die Here, moontlik susters of selfs ‘n tweeling.
  • Persis was ‘n geliefde wat baie hard vir die Here gewerk het.
  • Rufus was waarskynlik die seun van Simon van Sirene wat Jesus se kruis gedra het (Mark 15:21)
  • Rufus se moeder was vir Paulus soos ‘n moeder.
  • Ons weet min van Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas, en die broers wat saam met hulle is.
  • Paulus groet ook vir Filologus en Julia, Nereus en sy suster Olimpas, en al die heiliges saam met hulle.

Bly weg van die dwaalleraars (16:17-20)

Paulus doen ook ‘n beroep op die gemeente om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, dinge wat in stryd is met die leer waarin hulle onderrig is.

Sy kort opdrag is: “Bly weg van hulle af.”

Die rede is dat hierdie soort mense nie Christus ons Here dien nie, maar hulle eie maag, dws hulle eie belang. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense.

Calvyn sê in sy kommentaar op hierdie verse dat die mense wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, sal voorgee dat hulle vir vrede en eenheid is, maar die feit verberg dat die eenheid wat hulle voorstaan, gebaseer is op leuens en goddelose dogmas.

Hy teiken spesifiek die Katoliekgesinde mense wat die Protestante daarvan beskuldig het dat hulle die kerk verdeel het, en spreek dit soos volg uit:

“Paul clearly shows, that he did not condemn all kinds of discords, but those which destroyed consent in the orthodox faith.”

Persoonlike groete van Paulus se metgeselle (16:21-24)

Paulus dra ook die groete van Timoteus, sy medewerker, sowel as Lucius, Jason en Sosipater, sy volksgenote oor. Daar is ook groete van Gaius wat hulle gasheer in Korinte was. Hy is moontlik dieselfde persoon wat in 1 Korintiërs 1:14 en Handelinge 20:4 genoem word. So ook van Erastus wat waarskynlik die stadstesourier van Korinte was (’n inskripsie met sy naam daarop is in Korinte ontdek) sowel as Kwartus.

Tertius, die sekretaris wat die brief geskryf het, groet hulle ook in sy eie woorde.

Lof aan God (16:25-27)

Paulus sluit met ‘n lofprysing aan God. Die evangelie van Jesus Christus is die openbaring van ‘n misterie wat voorheen verborge was, maar nou aan alle nasies bekend gemaak is om geloofsgehoorsaamheid te bring. Paulus bevestig dat alle eer en heerlikheid aan die alwyse God deur Jesus Christus behoort.

Boodskap en betekenis

Romeine 16 is Paulus se hartlike afsluiting van sy brief aan die Romeine, waarin hy sy diepe verbintenis tot die gemeenskap van gelowiges toon deur persoonlike groete aan 27 individue en 3 families. Hy beklemtoon die rol van Febe, ‘n diaken van Kenchreë, as ‘n vertroueling wat moontlik die brief oorgedra het, en gee spesiale erkenning aan medewerkers soos Priska en Akwila, en Andronikus en Junia, wat belangrike rolle in die vroeë kerk gespeel het. Paulus waarsku die gemeente om versigtig te wees vir dwaalleraars wat verdeeldheid bring en wys op die belangrikheid van getrouheid aan die ware leer van Christus. Hy dra ook die groete van sy metgeselle oor, waaronder Timoteus en Tertius, die skrywer van die brief, en sluit af met ‘n lofprysing aan God, wie se evangelie nou openbaar gemaak is vir die redding van alle nasies.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.