Skip to main content

Psalm 45

Huwelikslied vir die koning en koningin

Psalm 45 is ’n Psalm wat die huwelik van die koning (waarskynlik Salomo) en sy koningin (waarskynlik ‘n dogter van Hiram van Tirus) vier met Messiaanse trekke. Ek voeg dit hier net voor die negatiewe opmerkings oor Salomo se vroue wat in 1 Konings 11 gemaak gaan word..

Teks en konteks

Na die worsteling en smeekgebede van Psalm 42-44 bring Psalm 45 ’n verandering in atmosfeer en fokus. Dit is ‘n liefdeslied wat op die wysie van “Narsings” gesing word.

Een van die Koragiete dra die gedig voor aan die koning (vers 1-2) en:

  1. verheerlik die koning (waarskynlik Salomo) se heldhaftige oorwinnings wat geregtigheid laat geskied (vers 3-8).  Let op dat sy skoonheid en wysheid aan God se seën toegeskryf word.  Sy opdrag as koning word verbind aan die stryd vir die waarheid en vir die reg van die hulpelose, soos Spreuke dit ook meermale vermeld.  Sy invloed word vergelyk met dié van ’n verhewe wese waarmee kwasi-goddelike eienskappe aan hom toegeskryf word.
  2. besing die lof van die koningin, ‘n dogter van Tirus (vers 13 – en daarom waarskynlik ‘n dogter van Hiram met wie beide Dawid en Salomo goeie betrekkinge gehad het), wat die koning met haar skoonheid bekoor (vers 9-16).  Let op die beskrywing van sintuiglike plesier: haar klere ruik lekker, daar is vrolike musiek wat haar hart bly maak, sy is versier met goud van Ofir (baie bekend vir hulle goud, maar ongelukkig vandag heeltemal onbekend – daar is selfs een tradisie wat Ofir met Suid-Afrika identifiseer!).  Sy word aangeraai om haar volledig vir die koning te gee om aan hom te behoort en afskeid te neem van haar volk en familie, iets wat natuurlik nie sonder pyn kon geskied nie, ten spyte van die uitbundige vreugde van die seremonie.

Die Psalm sluit af met ’n gebed vir die bevestiging van sy koninkryk tot roem onder die volke vir altyd (vers 17-18).

Daarom is hierdie Koningspsalm gebruik as ’n huwelikslied vir die koning.  Inhoudsgewys laat dit ’n mens dus eerder dink aan die styl van Hooglied (3:6-11) as aan die styl van die ander Psalms in die Psalmboek.

Boodskap en betekenis

Die Psalm is deur die eeue op verskeie sekondêre betekenisvlakke gebruik.

  1. Die Psalm is later ingespan by gewone huwelike waar oor die bruid en bruidegom in koninklike terme gesing is.

  2. Nog later het die Psalm ’n Messiaanse interpretasie gekry soos ons dit lees in Hebreërs 1:8-9 waar uit Psalm 45:7-8 aangehaal word en op Christus van toepassing gemaak is.

Vergelyk die groot ooreenkomste (“verhewe wese” en “God” is die grootste verskil) in die tabel hieronder:

Psalm 45

 

 

7U troon, verhewe wese,

staan vir altyd vas,

met u koninklike septer

laat u geregtigheid geskied.

8U het die reg lief en u haat

die onreg,

want, verhewe wese,

onder groot vreugde het u God

u bo u tydgenote tot koning

gesalf.

Hebreërs 1

8Maar van die Seun sê Hy:

 

“U troon, o God,

staan vir ewig vas,

met u koninklike septer

laat U reg geskied.

9U het die reg lief

en U haat die onreg.

Daarom het God, u God,

U onder groot vreugde

tot Koning gesalf

bo u tydgenote.”

  1. Paulus gebruik waarskynlik ook dié Psalm as die vertrekpunt vir sy beskrywing van die huweliksverhouding as soortgelyk aan die verhouding tussen Christus en die kerk (Ef. 5:21-33).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar