Skip to main content

Jeremia 19:1-13

Ek gaan oor hierdie plek ’n ramp bring

Die metafoor van Israel as klei in die hande van die Pottebakker word hier verder geneem in die verwante beeld van Israel as ’n kleipot in die hande van die Eienaar. Jeremia kry opdrag om ’n kleipot te neem en voor die oë van die leiers en priesters te breek as seker teken daarvan dat die Here “hierdie volk en hierdie stad breek”.

Teks en konteks

Jeremia kry opdrag om dié aksie uit te voer by Tofet, ‘n dal suid van die grens van die stad Jerusalem, oorkant die Potskerfpoort (moontlik dieselfde poort as die Vullispoort – Neh. 2:13). Die plek is ook die Ben-Hinnomdal genoem. Vgl. Jos. 15:8; 18:16 waar dit as deel van die grense van die stad genoem word.

Tofet was die plek waar kinders deur vuur aan die diens van die god Molog geoffer is, soos ons al in Jer. 7:31 kennis geneem het en weer in Jer. 32:35 van sal hoor. Daarom noem die Here dit die Moorddal, weens die afskuwelikheid van die gebruik, en het dit mettertyd ‘n simbool van die hel geword, omdat die plek ook Gehenna (afgelei van “vallei van Hinnom”) genoem is, en dit met die hel in verband gebring is (Luk. 12:5).

Kinderoffers was een van die dinge wat eksplisiet in die wet verbied is (Lev. 18:21; 20:2-5; Deut. 12:31), en ook ‘n weerklank gekry het in die liturgie (Ps. 106:37-38) en selfs in die toespraak van Stefanus in herinnering geroep is as beskuldiging teen die volk (Hand. 7:43).

Die Judese konings Agas en Manasse (voor sy bekering) was daarvoor bekend dat hulle dit toegelaat het (2 Kron. 28:3; 2 Kron. 33:6), hoewel Salomo ook al vroeër hierin oortree het (1 Kon. 11:7).

Josia het wel met sy hervormings die offerplekke afgebreek (2 Kon. 23:10), maar dit was waarskynlik te min te laat. Daarom spreek die Here dit nou weer aan via die optrede van Jeremia, nie om hulle regtig tot bekering te lei nie, daarvoor was die koeël al deur die kerk, by wyse van spreke, maar dit as een van die verswarende getuienisse teen die volk te gebruik, en die oordeel oor hulle te motiveer.

Boodskap en betekenis

Die boodskap is duidelik. Die Here bring ’n ramp oor Juda en Jerusalem omdat hulle Hom verlaat het en ander gode gedien het – die afgode Baäl en Molog (sommige dink Baäl en Molog was verwant) en die hemelliggame: son, maan en sterre. Daarby het hulle in die proses onskuldige bloed vergiet waarmee hulle ’n oordeel oor hulleself gebring het. Soos hulle onskuldiges afgemaai het, sal hulle afgemaai word deur die swaard en hulle lyke deur voëls en roofdiere opgevreet word. Dié wat oorbly sal só swaar kry dat hulle mekaar sal kannibaliseer. Dié afgryslike oordeel sal mense van verbasing laat fluit …

Harde woorde wat Jeremia laat uitroep van sy eie afgryse oor die oordeel in die volgende “Konfessie”.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar