Skip to main content

Esegiël 4-5

Die beleg en val van Jerusalem

Die Here gee in dieselfde jaar, 593 v.C., vir Esegiël die opdrag om vyf simboliese aksies uit te voer (4:1-5:4). Die vyf aksies dra die boodskap van die dreigende ballingskap van Jerusalem wat nie net groot nood vir hulle sal bring nie, maar afstand tussen hulle en God sal bring. Hy sal nie meer na hulle hulpgeroep luister nie. Die Here lê dan dié simboliese aksies verder uit as sy woorde van oordeel téén die volk (5:5-17). Hulle het sy voorskrifte nie nagekom nie, sy heiligdom met al hulle afskuwelikhede verontreinig, en sy naam onder die ander volke in diskrediet gebring. God tree dus teen hulle op. Daar is geen omkeer meer moontlik nie. Let ook op dat dié optrede as ‘n waarskuwing en afskrikmiddel vir die nasies bedoel word. God eis onverdeelde trou aan Homself.

Teks en konteks

Esegiël 4:1-5:4 – Jerusalem sal beleër en in ballingskap weggevoer word

Die vyf simboliese aksies word almal in die huis van Esegiël uitgevoer, maar só dat die res van die mense in ballingskap dit kon sien. Dit is amper soos ‘n “huisteater” wat die profetiese boodskap van die Here vir die volk opvoer. Veral die derde simboliese aksie het lank geduur, meer as ‘n jaar lank. Vandaar dat die volgende gedateerde profesieë in hfst. 8 twee jaar ná die eerste visioen van Esegiël gedateer is.

  1. Die eerste simboliese aksie behels ‘n baksteen wat Esegiël voor hom neer sit en die stad Jerusalem daarop teken. Daar rondom plaas hy ‘n beleëringswal, ‘n kamp en ‘n paar stormramme. Dit stel die beleëring van Jerusalem voor.
  2. Die tweede simboliese aksie behels ‘n ysterplaat wat tussen hom en die baksteenstad geplaas word. Dit stel God se afskeiding van die stad voor. Hy wil hulle nie meer sien nie, en gaan nie meer na hulle luister nie. Dit herinner aan Jeremia se beskrywing van God wat in ‘n wolk gehul is: “sodat geen gebed na U kon deurkom nie.” (Kl. 3:44).

Dit alles is ‘n teken vir Israel. Soos Esegiël na die baksteen kyk, maar dit nie kan sien deur die ysterplaat nie, só sorg die Here dat Hy nie langer hulle afskuwelike sondes hoef gade te slaan nie. Soos Esegiël die baksteen beleër het, só gee die Here die stad oor aan Nebukadnesar se beleëring. Hy is dus afsydig – luister nie na hulle gebede nie – en vyandig – gee hulle oor aan vernietiging.

  1. Die derde simboliese aksie behels Esegiël wat 390 dae op sy linkersy gaan lê om die sonde van Israel simbolies te dra, en 40 dae op sy regtersy om die sonde van Juda te dra. Die 390 dae hou moontlik verband met die tydperk tussen die afskeiding van die noordryk onder koning Jerobeam in 931 v.C. tot en met die terugkeer uit ballingskap in 538 v.C. Die veertig dae hou moontlik verband met die tydperk van die laaste wegvoering uit Jerusalem in 582 v.C. (Jer. 52:30), vyf jaar nadat Jerusalem vernietig is, tot en met die terugkeer uit die ballingskap. Beide tydperke kan ook doodgewoon simbolies bedoel wees.

Dit alles is ‘n profetiese handeling wat die sekerheid van die ballingskap aan die volk moet oordra. Die volk sal die volle impak van God se oordeel oor hulle sonde moet dra, vóór daar weer die moontikheid van verlossing en omkeer sal kom.

  1. Die vierde simboliese aksie behels Esegiël wat ses tipes kos neem – koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt – en in ‘n skottel daarvan kos maak vir hom. Die verskillende soorte illustreer die skaarsheid van die kos wat beskikbaar sal wees in die ballingskap. Hy moet soort van raap en skraap om dit bymekaar te kry. Die hoeveelheid wat Esegiël elke dag mag eet, word ook presies gerantsoeneer, net soos die hoeveelheid water wat hy mag drink. Dit dui op die hongersnood, broodsgebrek en waternood wat die volk sal deurmaak in Jerusalem.

Die Here wil verder hê dat Esegiël die kos gaarmaak op die droë uitwerpsel van mense om die kos daarmee onrein te maak. Dit simboliseer die verontreinigende impak wat die verstrooiing op die volk sal hê. Esegiël protesteer – die eerste keer dat ons lees dat hy in gesprek tree met die Here – en die Here laat hom toe om die kos op beesmis gaar te maak.

  1. Die vyfde simboliese aksie behels Esegiël wat ‘n skerp swaard neem en as ‘n skeermes inspan om sy hare en baard af te skeer. Dié hare word in derdes verdeel om te illustreer wat die mense in die stad gaan beleef – verbrand, fyngekap en verstrooi. ‘n Klompie word beskerm in sy klere, hoewel ‘n deel daarvan ook verbrand sal word. Niemand is eintlik veilig nie. Die hele Israel sal die vuur van die Here aan hulle bas voel.

Esegiël 5:5-17 – God word Jerusalem se teenstander omdat hulle nie volgens sy voorskrifte leef nie

In verskillende uitsprake van die Here word die motivering vir en betekenis van Esegiël se optrede in die volgende deel uitgespel, telkens ingelei met: “So sê die Here my God …

Die beleëring en ballingskap van Juda is weens die verset teen God se bepalings en voorskrifte. Hulle was eintlik slegter as die nasies om hulle. Dié het hulle eie riglyne nagekom, maar Juda nie. Daarom word die Here Jerusalem se teenstander en straf Hy hulle oor die verontreiniging van die heiligdom – waaroor in hfst. 8 verder uitgebrei sal word. God se medelye en genade vir hulle het opgedroog.

Esegiël sluit spesifiek aan by die vyfde simboliese aksie se boodskap van verstrooiing. Wanneer dít afgehandel is, sal God se toorn ook afgekoel wees, sal Hy tevrede wees. Want sy hoop is dat hulle dán sal besef dat Hy die Here is. Trouens, dat dit ‘n waarskuwing en afskrikmiddel vir die nasies rondom hulle sal wees, sodat dié ook kan besef dat Hy die Here is.

Boodskap en betekenis

Dié simboliese handelinge van Esegiël herinner ‘n mens aan die gelykenisse van die Here Jesus in die NT. Dit dra die boodskap van die Here op ‘n visuele manier oor waarmee méér betekenis oorgedra kan word as maar net die feitelike beskrywing van wat God doen. In terme van Esegiël se boodskap met dié vyf simboliese handelinge is dit duidelik dat hierdie simboliese handelinge onverdunde oordeeluitsprake van die Here is. Dit is bedoel om te waarsku en af te skrik. Dit is bedoel om die werklikheid van die Here se betrokkenheid in alles helder en onomwonde te onderstreep. En die boodskap aan ons is duidelik. Met God moet ‘n mens rekening hou.

Hoewel dié optrede van die Here vir ons vreemd en vervreemdend voorkom, moet ons onthou dat dit daarom sin maak. Dit is wat profetiese interpretasie in wese is. Dit probeer sin maak van die natuurlike prosesse van oorlog en natuurrampe wat mense ervaar. En in dié geval wil God sy oordeel oor ongehoorsaamheid duidelik laat blyk. En dit ís vervreemdend. Dit is bedoel om só te wees.

Dit is dán, waar God se impak in die werklikheid erken word, selfs as dit vervreemdend is, en ‘n mens jou oorgee oom aan Hom gehoorsaam te begin lewe, dat jy dáár die ander simboliese handelinge van Esegiël – dié wat nog kom in die boek en wat praat van die hoop en transformasie wat God bring – na waarde kan begin skat. En dat jy die ander deel van Esegiël se boodskap ook ter harte kan neem. Die Here seën dié wat Hom erken en gehoorsaam. Wat vir ons ook helder sê: Op dié God kan ‘n mens vertrou.

En laat ons nie vergeet nie, die gelykenisse van Jesus se leringe en die simboliek van Jesus se optredes het ook altyd dieselfde twee kante van God beklemtoon. Sy gelykenisse oor die koninkryk sluit ook die oordeel oor die magsmisbruik van mense in (Matt. 21). Dit sluit ook in dat daar ‘n skeiding kom tussen dié wat na Hom luister en sóós Hy met deernis in dié wêreld optree, en dié wat dit nie doen nie (Matt. 25). Met God moet almal rekening hou. Terselfdertyd kan ‘n mens Hom vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…