Skip to main content

1 Samuel 14

God kan verlos, deur baie of deur min

In hoofstuk 14 vervolg die verhaal van die oorlog teen die Filistyne – al is dit dan nou nie meer in gehoorsaamheid aan die Here nie – en word ‘n besondere dapper daad van Jonatan en sy wapendraer beskryf wat ‘n Filistynse militêre garnisoen binnesluip en die troepe uitwis. Hierdie daad verskuif die momentum in die konflik met die Filistyne, hoewel Saul se ondeurdagte bevel dat niemand enigiets mag eet in die oorlog nie – ‘n poging van Saul om die wet met sy eie reëls aan te vul – amper in ‘n tragedie ontaard. Die hoofstuk word afgesluit met ‘n oorsig oor Saul koningskap.

Teks en konteks

Die Filistyne het ’n wagpos in Saul se gebied gehad, ‘n garnisoen, waarmee hulle Israel kon beheer, strooptogte kon uitvoer, en ook die maak van wapens kon kontroleer. Dit is dié vesting wat Jonatan in die oog kry om die mag van die Filistyne binne die land te breek. Let op dat die inisiatief van Jonatan af kom en nie van Saul af nie. Dié het besluiteloos gesit onder die granaatboom by Migron. Jonatan lig niemand anders in van sy geheime sending nie, sodat hy die Filistyne kan verras. Ook die manskappe het nie geweet van Jonatan se planne nie.

Agija, kleinseun van Eli is deur Saul gevra om as hoëpriester op te tree in die plek van Samuel wat hom verlaat het. Miskien het Agija sy kans waargeneem om Samuel se plek te neem, wie weet. Hy sou egter later saam met die priesters van Nob uitgewis word in vervuling van die oordeel oor die nageslag van Eli (1 Sam 22). Die laaste een van Eli se nageslag, Abjatar, is in Salomo se tyd verban na sy landgoed om daar in isolasie te sterf (1 Kon 2).

Met ‘n dapperheid gewortel in sy vertroue op God val Jonatan saam met sy wapendraer die garnisoen aan: “want, vir die Here (is daar) geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Let op hoe hy soos Gideon ‘n teken van die Here vra. As die Filistyne hulle oproep tot die geveg, sou hy weet die Here sal die oorwinning vir hulle gee. Let ook op dat hy namens Israel optree: “want die Here gee hulle in die hand van Israel.”

Dat twintig man in ‘n ommesientjie deur Jonatan-hulle oorwin word, veroorsaak ‘n groot vrees onder die Filistyne wat die skrywer laat opmerk: “dit was ‘n vrees wat van God kom.”

Toe die Filistyne begin retireer, het Saul se verkenners dit opgemerk, maar in plaas daarvan dat Saul dit as ‘n geleentheid sien om tot die daad oor te gaan, wil hy eers weet wie van die Israeliete was verantwoordelik vir dié optrede. Hy vra ook dat die ark gebring word as simbool van God se teenwoordigheid (Deut 20:4-5).

Sommige vertalings volg die LXX, die Griekse vertaling van die OT, wat praat van die efod, die skouerkleed met die Urim en Tummim waarmee God se wil onderskei is, wat Saul opgekommandeer het. Die ark was egter net so 10 km daarvandaan af in Kirjat-Jearim, so dit is moontlik dat Saul daarvoor gevra het, al het dit waarskynlik nooit opgedaag nie.

Want, Saul sien dan dat die Filistyne regtig verward geraak het, en besluit om terstond toe te tree tot die oorlog sonder om die proses rondom die ark af te handel. Dat Saul dus kies om hier sonder God se teenwoordigheid optree, selfs al het hulle die oorlog hierna gewen, het finaal gewys dat hy nie ‘n betroubare koning was nie. Hy het sy eie kop gevolg en die Here se leiding in die wind geslaan.

Selfs die Israeliete wat uit vrees vir die Filistyne weggekruip het egter moed geskep en tot die oorlog toegetree, selfs ‘n klomp verraaiers, hier “Hebreërs” genoem in onderskeid van die Israeliete.

Tog is dit steeds duidelik dat dit steeds die Here was wat Israel daardie dag verlos het, veral deur die verwarring onder die Filistyne wat die Israeliete se taak makliker gemaak het.

Saul bly egter steeds ‘n probleem deurdat hy nie net die proses om God te raadpleeg, onderbreek nie, maar ook ‘n oorhaastige eed/bevel uitvaardig – in wese sy eie aanvulling van die wet – wat die soldate verbied om te eet, al sou hulle waarskynlik nog beter resultate kon behaal as hulle kos toegelaat word. Dit was ‘n dwase opdrag – net soos Jefta in Rigters 11 ‘n dwase gelofte gemaak het – maar moontlik, gegewe Saul se geweldige selfgesentreerdheid, ‘n manier om die inisiatief oor te neem.

Die enigste goeie ding wat Saul doen, is om te keer dat die manskappe die vleis met die bloed daarin te eet. Iets wat nie net in die wet verbied is nie (Lev 7:26), maar reeds deel van die verbond van Noag was (Gen 9:4). Dit is interessant genoeg iets wat ook in die nuwe verbond gehandhaaf is met die “sinode” van Handelinge 15 wat dit deel van die verpligtinge op gelowiges uit die nasies gemaak het (Hand 15:20, 29). Die rede daarvoor was dat respek vir die lewe getoon moes word.

Hierdie een korrekte daad van Saul word daarom as iets wat hy vir die Here gedoen het, beskryf. Die klip word ‘n “altaar”, die eerste en enigste keer wat hy só iets gedoen het.

Toe Saul die Here egter weer probeer raadpleeg, het die Here hom nie geantwoord nie. Saul is egter nie links nie, en beveel self dat die lot gewerp word, hierdie keer om die aandag van homself af te lei. Hy wil weet wie het gesondig dat hy nie ‘n woord van die Here kan kry nie. Hoe ironies!

Saul gaan verder en bepaal self die wyse waarop die lot moet werk. Wanneer Jonatan dan uitgewys word deur die lot dat hy die koning se dwase bevel om nie te eet nie, oortree het, probeer Saul om hom dood te maak. Die gedagtes in sy binnekant het werklik soos ‘n see met sy golwe heen en weer geslinger. Koersloos uitgelewer aan sy eie glibberige karakterloosheid. Selfs sy eie seun moes dit ontgeld.

Die manskappe kom egter vir Jonatan op met verwysing daarna dat dit met die hulp van die Here was dat hy dit kon doen, en keer dat die dwaasheid van Saul seëvier op hierdie dag van oorwinning. Hulle het meer geestelike insig getoon as Saul.

Die uitkoms van hierdie oorwinning was dat Israel gewen het. Die Filistyne het gerittireer. Vir Saul was die uitkoms egter nie goed nie. Dit was duidelik dat hy nie die Here se goedkeuring meer weggedra het nie. Almal het dit nou agtergekom.

Die hoofstuk sluit af met ’n opsomming van Saul se militêre loopbaan as koning en ’n kort geslagsregister. Die een positiewe ding van hom was dat hy wel dapper opgetree het, en die skrywer eer hom daarvoor: “Waar hy ook al gekom het, het hy redding gebring.” Sy dapperheid was net nie gekoppel aan en gebaseer op God se krag nie.

Boodskap en betekenis

Jonatan tree hier na vore as ‘n dapper vegter wat in voeling is met wat die Here wil. Hoe pragtig sê Jonatan nie: “vir die Here is daar geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Hy sou ‘n baie goeie opvolger vir sy pa gewees het. Maar, helaas, sy pa se dwaasheid laat die Here besluit om iemand anders te soek, ‘n man na God se hart, veral ná wat in die volgende hoofstuk gebeur.

Jonatan se dapperheid berus dus op sy vertroue op God se onbeperkte krag en die begrip dat die oorwinning oor die Filistyne nie afhanklik is van sy menslike krag alleen nie. Hy moedig ons dus aan om uit ons gemaksones te kom, en risiko’s te neem in vertroue op God se krag, eerder as om deur menslike beperkings geïnhibeer te word. Soos Loren Cunningham van YWAM sy boek getitel het: “Daring to live on the Edge.” Lees dit gerus as jy dit in die hande kan kry.

Saul darenteen kan selfs met die skouerkleed en Agija by hom nie in kontak met God kom nie. Waar Jonatan aktief vir ‘n teken gesoek het, het Saul die proses onderbreek toe dit te stadig na sy sin gegaan het. Dit is waarom die hemel uiteindelik vir hom toegegaan het toe hy einde laas tog probeer luister het. Hy het sy geleenthede verspeel. Dit is waarom die skrywer sê: “God het hom nie toe geantwoord nie.”

Hoewel Saul dus tog geëer word vir sy dapperheid, wys sy dwase opdrag aan die manskappe, om nie te eet voor die aand nie, dat hy nie ‘n betroubare man is nie, nie teenoor hulle nie, en ook nie teenoor die Here nie. Hy het daarmee nie net die oorwinning oor die Filistyne beperk nie, maar ook sy seun se lewe op ‘n onverantwoordelike manier bedreig (soos Jefta met sy dogter).

Die gedeelte leer ons dus dat God diegene eer wat in geloof en vertroue uitstap. Hulle ervaar Hom as ‘n altyd teenwoordige krag in hulle lewens, altyd gereed om namens hulle in te gryp. Maar, dan moet ons bereid wees om gehoorsaam te wees aan die leiding wat Hy gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar