Skip to main content

Ester 1-2:18

Ester beïndruk almal om haar en vestig haarself as nuwe koningin

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.). Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Sesbassar in 539 v.C.) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.). Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen. Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het. Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Ester se verhaal gee vir ons ’n prentjie van die wedervaringe van waarskynlik die meerderheid van die Jode wat ná die kleinerige klompie se terugkeer uit ballingskap, steeds in ander lande gebly het, in die sogenaamde diaspora. Die boek fokus op die geweldige uitdagings waaraan hulle blootgestel is in die vreemde, in dié geval ook aan die bedreiging van ’n etniese suiwering waarin hulle byna uitgewis is.

Die uitkoms wat deur die bemiddeling van Ester en Mordegai (wie se naam in Persiese bronne genoem word) kom, word tot vandag toe nog met die jaarlikse Purim fees gevier. Purim verwys na die lot (pur) wat gewerp is om die tyd van die Jode se uitroeiing te bepaal (Esra 3:7).

Ester maak ‘n goeie indruk op die koning

Die verhaal begin met koning Ahasveros (Xerxes) wat ’n onthaal gee vir al sy hoë amptenare en die ander in sy diens. Sy ryk was groot en het 127 provinsies beslaan, van Indië af tot by Egipte. Dit was nadat hy eers vir 6 maande lank sy rykdom ten toon gestel het.

Let op die prag en praal van die geleentheid en dat groot en klein die fees kon bywoon. Ook koningin Vasti het die vrouens onthaal in Ahasveros se paleis.

Die vrolikheid voer die koning mee en hy werk deur sy sewe paleisbeamptes om koningin Vasti te laat haal om met haar skoonheid te kan spog. Sy weier egter om soos ’n skouperd ten toon gestel te word voor ’n klomp mans onder die invloed van baie wyn. Haar beginselvastheid skitter helder deur teenoor die onvastheid van die koning se optrede.

Die koning voel egter verneder en kry dan die raad van sy sewe paleisbeamptes om haar die trekpas as koningin te gee en iemand anders te vind wat haar beter sal gedra as Vasti. Anders, sê hulle, sal vrouens nie meer ontsag vir hulle mans hê nie. Sy bevel het daarom bepaal “dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.”

Daarmee het die skrywer alreeds ’n baie belangrike ding gedoen. Die swakheid en vreesagtigheid van die mans wat “baasskap” in stand wil hou, word geïroniseer terwyl die onhaalbaarheid daarvan ook ten toon gestel word.

Baie gou is koning Ahasveros spyt oor sy optrede en moet die sewe paleisbeamptes ’n nuwe plan beraam om vir hom ’n koningin te kry. Ester kom só op die toneel. Agter die skerms is God aan die werk om sy groter doel, die beskerming van sy mense te bewerk. Ester se Hebreeuse naam was Hadassa. Die naam kom van die mirteboom af wat ’n vyfpunt stervormige blaar het. Haar Persiese naam Ester kom van die Persiese woord van ster af en kan moontlik verbind word met die godin Ishtar waarna die Perse haar vernoem het. Onthou dat Daniël en sy drie vriende ook vreemde name gekry het wat met die Babiloniese gode verband gehou het.

Mordegai uit die stam Benjamin was waarskynlik die vierde geslag in Susan, aangesien hy die seun van Jaïr, die seun van Símeï, en die seun van Kis was wat reeds vroeg in ballingskap saam met koning Jojagin weggevoer is deur koning Nebukadnesar. Hy het nou ‘n eeu later as voog opgetree vir Ester, ‘n weeskind, die dogter van Abigajil wat al oorlede was. Let op hoe Ester beskryf word: “Dié meisie was mooi, sy was baie mooi.” Presies hoe die proses gewerk het en hoe Ester in die paleis beland het, word ons nie vertel nie, behalwe dat sy vir Hegai, die een wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, baie mooi was en hy van haar gehou het.

Die getal sewe speel weer ’n rol, want Hegai gee vir haar sewe van die bestes van die paleis se kamerpersoneel wat haar uitlig bó die ander kandidate wat weereens God se onsigbare verborge hand aan die werk demonstreer.

’n Baie belangrike stukkie inligting word dan vir ons gegee dat Ester nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak het nie. Mordegai het haar belet om dit te doen waarskynlik om haar te beskerm. Hy het ook gesorg dat hy ’n ogie oor haar hou, al was dit van buite af.

Ester kry dit ná die voorbereidende tyd reg om nie net ‘n goeie indruk te maak op die paleis personeel nie, maar ook op die koning en hy maak haar sy koningin in die plek van Vasti.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda