Skip to main content

1 Samuel 21

Daar is meer beskerming by vriende as by vyande

Dawid se uitdaging van hieraf aan is nie net dat hy ‘n uitgeworpene in die koningshuis is nie, en sonder enige hulp oor die weg moes kom nie. Hy was ook uitgelewer aan versoekings in dié woestyntyd van sy lewe waarin sy heilige toewyding aan die Here onder skoot gekom het. Sy vyande, die lojale Saul-manne, het ook al sy bewegings in Israel aan Saul gerapporteer. Soos Doëg, een van Saul se manne, wat Dawid nie net dophou as hy in Nob aankom nie, maar verantwoordelik is vir die uitwissing van die priesterskorps in dié dorp toe hy dit aan Saul gaan oordra het (1 Sam 22). Dawid was dus nie meer veilig in Israelitiese grondgebied nie, Met Dawid se vlug na Filistynse gebied probeer hy dié gevaar ontvlug, maar kom selfs in groter gevaar van koning Agis af, ‘n netelige situasie wat hy net met groot persoonlike vernedering kan ontkom, deur homself kranksinnig te hou.

Teks en konteks

Dawid se vlug na Nob bring hom in aanraking met Agimeleg, die priester. Nob was waarskynlik nou die sentrum vir priesterlike aktiwiteite ná Silo se verwoesting (1 Sam 4:12).

Weereens sien ‘n mens dat Dawid val vir die versoeking om ‘n leuen te vertel om homself te beskerm. Hy maak ‘n storie op dat hy op ‘n sending namens Saul is, en nie kos het vir die mense wat hy moet ontmoet om die saak van die koning met hulle op te neem nie.

Maar, dit is ‘n leuen. Dit wil selfs lyk asof Dawid alleen is, want sy ondersteuners, selfs uit van sy broers, sou eers later by hom aansluit (1 Sam 22; vgl egter Jesus wat praat van die mense wat saam met hom daar was – Matt 12:3-5).

Op Dawid se versoek vir vyf brode gee die priester vir hom van die “heilige brood” wat reeds “diens” gedoen het in die heiligdom en deur die priesters vir hulle families gebruik is (Lev 24:5-9). Dawid verseker Agimelek dat sy manskappe nie ritueel onheilig geraak het deur seksuele gemeenskap nie wat natuurlik homself insluit (vgl Lev 15 waar die onreinheid ná seksuele gemeenskap tot die aand geduur het, voor jy weer toegelaat is in die heiligdom).

Ironies genoeg is Doëg, die voorman van Saul se veewagters, ook daar om geheilig te word by die heiligdom – hetsy weens ‘n gelofte wat hy gemaak het, of om vir een of ander sonde ‘n offer te bring. Hy was boonop ‘n Edomiet, ‘n afstammeling van Esua, wat baie keer vyandig was teenoor die Israeliete (vgl die profeet Obadja se oordeel oor hulle). Die mededeling voorspel dus dat Doëg onbetroubaar sou wees, soos dit inderdaad later die geval is, toe hy Dawid verkla het by Saul.

Dawid kry benewens die brood ook hier die swaard van Goliat, die Filistyn wat hy oorwin het, ‘n simbool van sy verbintenis beide aan die Here in wie se Naam hy Goliat doodgemaak het, en aan Israel vir wie hy die oorwinning oor hulle geswore vyande, die Filistyne, verwerf het.

Dawid vlug egter verder en doen die dwase ding om die gebied van Israel te verlaat wat hom in konflik bring met Agis, die koning van een van die Filistynse stede, Gat. Hoewel hy later wel met Agis sou saamwerk toe hy ‘n groot aantal manskappe rondom hom versamel het, was hy hier baie weerloos. Toe hy boonop hoor dat Agis se amptenare hom identifiseer as dié Dawid wat hulle baie leed aangedoen het, het hy in vrees hom voor hulle kranksinnig gehou.

Hy het voorgegee dat hy waansinnig is deur te krap op die poortdeure en die kwyl in sy baard te laat afloop. Dit het die gewenste uitwerking gehad dat Agis hom laat gaan het. Hy het genoeg mal mense van sy eie gehad!

Boodskap en betekenis

Dawid se vlug eers na Najot, en toe na Nob, om veiligheid by die profete en priesters te soek – hulle was immers sy vriende – slaag nie, want dit wis nie die werklike bedreiging uit nie, dit is, dat Saul sy lewe soek en dat almal wat Saul ondersteun ook sy vyande geword het, soos Doëg. Die priesters van Nob word boonop uitgewis weens hulle vriendskap met Dawid. Iets wat hom geweldig ontstel het (1 Sam 22:23-24).

Tóg is daar meer beskerming by vriende as by vyande soos Dawid tot sy skande uitvind by die Filistyne. Dit is ook die raad wat die profeet Gad – wat onder andere hierdie verhale neergepen het (1 Kron 29:29) – hom later gee toe hy ook by die Moabiete gaan hulp soek het. Gad raai hom aan om eerder in sy stamgebied, Juda, te gaan skuiling soek (1 Sam 22:5).

Dit raak dus ‘n deurslaggewende tema van Dawid se lewe wat in sy Psalms ‘n neerslag gevind het; dat die Here en sy mense die veilige hawe is wat in die storms van hierdie lewe vir ons help om standvastig te bly en weerstand te bied teen al die aanslae, selfs al beteken dit dat dié pad ontberinge bring vir juis dié wat hulle lewens opoffer ter wille van die gesalfdes van die Here en sy saak in hierdie wêreld.

Jesus gebruik hierdie verhaal in die NT om sy genesings op die Sabbat te verdedig. Die verhaal leer ons, sê Jesus, dat mense se nood die tegniese nakoming van die Sabbatswette troef (Matt 12:1-8). Genesing is daarom nie ‘n verbreking van die Sabbatswet nie, maar juis ‘n manier waarop jy die gebod om jou naaste lief te hê soos jouself kan nakom.

God het immers bepaal dat die priesters tegnies die wet mag verbreek deur hulle werk op ‘n Sabbat te doen, sodat ander die wet kan nakom deur nie op die Sabbat te werk nie. Dieselfde geld vandag alle noodsaaklike werk of inderdaad ook ons diens van barmhartigheid aan mekaar op die rusdag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar