Skip to main content

1 Johannes 5

Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe

Dit is eintlik só logies wat Johannes se aanpak in hierdie laaste hoofstuk van sy “preek” is.  Hy het tot dusvêr uitvoerig uitgebrei oor God se liefde en die wyse waarop dit gestalte kry in ons liefde vir mekaar binne die geloofsgemeenskap.  In ’n laaste nadenke daaroor bind hy die liefde vir God en mekaar aan ons geloof in Jesus Christus.

Oor hierdie geloof skryf hy dan uit drie perspektiewe.

Teks en konteks

Ons is uit God gebore – vers 1-6

Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ’n mens kan weet dat jy uit God gebore is. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe.  Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem.  Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ’n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie.  En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.

Die Heilige Gees getuig in ons lewe oor die betekenis van Jesus Christus se bediening en kruisdood vir ons – vers 7-12

Hierdie geloof word bewerk deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het – Mark. 1:9-11; Joh. 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Joh. 19:33-37).  Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes.  Dit is God wat geloof in ons hart werk deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus.  Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself.  En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk.  “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

Hierdie perspektief op geloof en die werk van die Heilige Gees is iets wat ons deeglik ter harte moet neem.  Dit beteken dat dié getuienis van die Heilige Gees iets dinamies en lewend is, gebaseer op die historiese feite van Jesus se bediening en kruisdood.  Die Gees se werk in ons is die persoonlike kant van God se werk, soos Jesus se bediening en kruisdood die publieke kant daarvan was.  Dit beteken ook dat die herkenning van die gesag van die Woord ’n dinamiese persoonlike werk van die Heilige Gees is.  Dit is iets waarvan Hy ons oortuig.

Om die Bybel as die Woord van God te aanvaar, is nie soseer iets wat deur die kerk van die eeue in besluite vasgelê is nie, maar eerder iets wat ons herken as die werk van God.  Kerkvergaderings het die konsensus op grond van die getuienis van die Heilige Gees in die geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen verwoord in die wyse waarop hulle die kanon erken het.  Die gesag van die Woord is dus afgeleide gesag, gebaseer op die getuienis van die Gees in die harte van God se mense oor Jesus se bediening en betekenis vir ons.

Ons sekerheid oor God gee ons groot vrymoedigheid voor Hom –vers 13-21

Hierdie geloof gee daarby ’n helder sekerheid in ons verhouding met God.  Ons kan weet dat ons die ewige lewe het, omdat ons in die Seun van God glo.  Dit gee ons ook ’n  ongelooflike stuk vrymoedigheid teenoor God wanneer ons in gebed voor Hom kom.  Ons het die versekering: “Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.”  Dit gee ons ook vrymoedigheid om vir medegelowiges te bid dat God hulle vergewe as hulle sonde doen of onreg pleeg (vgl. Jak 5:19-20 waar spesifiek gebid moet word vir mense wat van die waarheid afgedwaal het).

Die enigste uitsondering is die “sonde tot die dood”.  Johannes dink hier waarskynlik aan gevalle soos dié waarvan Paulus skryf in 1 Kor. 5:1-5 (growwe onsedelikheid) en 11:30 (swakkes,  sieklikes en dié wat sterf) waarin dié gelowiges steeds gered word, al lei hulle sonde of lewenstyl tot hul dood.  Let op dat daar nie hier gesê word dat só ’n sonde nie vergewe kan word nie of dat ’n mens nie daarvoor kan bid nie.  Johannes sê net dat daar nie ’n verpligting is op ons om sodanige gebed te bid nie.

Johannes praat hier dus nie oor van die ander nog erger sondes nie, wat bv. opsetlik gedoen word om God te tart (vgl. Hebr. 6:4 vv – waar die skrywer praat oor die feit dat iemand wat die gawe van die Heilige Gees en die goeie woord van God leer ken het en nogtans afvallig geword het, nie weer tot bekering sal kom nie), óf om die Heilige Gees te laster (Matt. 12:31 – waar die werk van die Heilige Gees weerstaan word deur daarteen op te staan).

Hy sluit af met die vertroue dat mense wat uit God gebore is in elke geval nie sal aanhou met sonde doen nie.  Daarvoor sorg die Seun van God, die ander Een wat uit God gebore is, sodat die duiwel nie ’n houvas op gelowiges kan kry nie.  Omdat ons die waarheid ken, die ware God (in die oorspronklike word die woord “Waaragtige” gebruik), kan ons verseker leef van die ewige lewe en onsself beskerm teen die afgode.

Boodskap en betekenis

Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe: dit wys dat ons uit God gebore is, verbind ons liefde en gehoorsaamheid aan Hom, en gee ons oorwinning oor die wêreld. Hierdie geloof word bevestig deur die Heilige Gees wat in ons getuig van Jesus se bediening en kruisdood, waardeur ons die ewige lewe ontvang. Daarom kan ons met sekerheid en vrymoedigheid leef – in ons verhouding met God, in ons gebed, en in ons liefdevolle sorg vir mekaar – terwyl Christus ons beskerm en ons van die afgode afhou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda