Skip to main content

1 Johannes 5

Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe

Dit is eintlik só logies wat Johannes se aanpak in hierdie laaste hoofstuk van sy “preek” is.  Hy het tot dusvêr uitvoerig uitgebrei oor God se liefde en die wyse waarop dit gestalte kry in ons liefde vir mekaar binne die geloofsgemeenskap.  In ’n laaste nadenke daaroor bind hy die liefde vir God en mekaar aan ons geloof in Jesus Christus.

Oor hierdie geloof skryf hy dan uit drie perspektiewe.

Teks en konteks

Ons is uit God gebore – vers 1-6

Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ’n mens kan weet dat jy uit God gebore is. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe.  Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem.  Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ’n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie.  En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.

Die Heilige Gees getuig in ons lewe oor die betekenis van Jesus Christus se bediening en kruisdood vir ons – vers 7-12

Hierdie geloof word bewerk deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het – Mark. 1:9-11; Joh. 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Joh. 19:33-37).  Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes.  Dit is God wat geloof in ons hart werk deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus.  Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself.  En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk.  “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

Hierdie perspektief op geloof en die werk van die Heilige Gees is iets wat ons deeglik ter harte moet neem.  Dit beteken dat dié getuienis van die Heilige Gees iets dinamies en lewend is, gebaseer op die historiese feite van Jesus se bediening en kruisdood.  Die Gees se werk in ons is die persoonlike kant van God se werk, soos Jesus se bediening en kruisdood die publieke kant daarvan was.  Dit beteken ook dat die herkenning van die gesag van die Woord ’n dinamiese persoonlike werk van die Heilige Gees is.  Dit is iets waarvan Hy ons oortuig.

Om die Bybel as die Woord van God te aanvaar, is nie soseer iets wat deur die kerk van die eeue in besluite vasgelê is nie, maar eerder iets wat ons herken as die werk van God.  Kerkvergaderings het die konsensus op grond van die getuienis van die Heilige Gees in die geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen verwoord in die wyse waarop hulle die kanon erken het.  Die gesag van die Woord is dus afgeleide gesag, gebaseer op die getuienis van die Gees in die harte van God se mense oor Jesus se bediening en betekenis vir ons.

Ons sekerheid oor God gee ons groot vrymoedigheid voor Hom –vers 13-21

Hierdie geloof gee daarby ’n helder sekerheid in ons verhouding met God.  Ons kan weet dat ons die ewige lewe het, omdat ons in die Seun van God glo.  Dit gee ons ook ’n  ongelooflike stuk vrymoedigheid teenoor God wanneer ons in gebed voor Hom kom.  Ons het die versekering: “Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.”  Dit gee ons ook vrymoedigheid om vir medegelowiges te bid dat God hulle vergewe as hulle sonde doen of onreg pleeg (vgl. Jak 5:19-20 waar spesifiek gebid moet word vir mense wat van die waarheid afgedwaal het).

Die enigste uitsondering is die “sonde tot die dood”.  Johannes dink hier waarskynlik aan gevalle soos dié waarvan Paulus skryf in 1 Kor. 5:1-5 (growwe onsedelikheid) en 11:30 (swakkes,  sieklikes en dié wat sterf) waarin dié gelowiges steeds gered word, al lei hulle sonde of lewenstyl tot hul dood.  Let op dat daar nie hier gesê word dat só ’n sonde nie vergewe kan word nie of dat ’n mens nie daarvoor kan bid nie.  Johannes sê net dat daar nie ’n verpligting is op ons om sodanige gebed te bid nie.

Johannes praat hier dus nie oor van die ander nog erger sondes nie, wat bv. opsetlik gedoen word om God te tart (vgl. Hebr. 6:4 vv – waar die skrywer praat oor die feit dat iemand wat die gawe van die Heilige Gees en die goeie woord van God leer ken het en nogtans afvallig geword het, nie weer tot bekering sal kom nie), óf om die Heilige Gees te laster (Matt. 12:31 – waar die werk van die Heilige Gees weerstaan word deur daarteen op te staan).

Hy sluit af met die vertroue dat mense wat uit God gebore is in elke geval nie sal aanhou met sonde doen nie.  Daarvoor sorg die Seun van God, die ander Een wat uit God gebore is, sodat die duiwel nie ’n houvas op gelowiges kan kry nie.  Omdat ons die waarheid ken, die ware God (in die oorspronklike word die woord “Waaragtige” gebruik), kan ons verseker leef van die ewige lewe en onsself beskerm teen die afgode.

Boodskap en betekenis

Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe: dit wys dat ons uit God gebore is, verbind ons liefde en gehoorsaamheid aan Hom, en gee ons oorwinning oor die wêreld. Hierdie geloof word bevestig deur die Heilige Gees wat in ons getuig van Jesus se bediening en kruisdood, waardeur ons die ewige lewe ontvang. Daarom kan ons met sekerheid en vrymoedigheid leef – in ons verhouding met God, in ons gebed, en in ons liefdevolle sorg vir mekaar – terwyl Christus ons beskerm en ons van die afgode afhou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!