Skip to main content

Kolossense 2:6-23

Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou

Hier kom ons nou by die hart van die boodskap van hierdie brief. Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Dit is dus nie soseer die mense self – bv. dwaalleraars – wat aangevat word nie. Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan om die gelowiges te oortuig om nie na hulle te luister of hulle na te volg nie.

Teks en konteks

Wandel in die Here – Kolossense 2:6-15

Let op hoe Paulus hier in vers 6 terugverwys na die loflied op Jesus as Here – van beide die Skepping en Herskepping (Kol. 1:15-20) – en dit dan gebruik as basis vir sy oproep aan hulle om hulle hele lewe te fokus op Christus Jesus. Aangesien hulle Hom as Here aangeneem het (nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan), is dit net logies dat hulle verbonde aan Hom sal lewe.

Die vertaling in verbondenheid met Hom lewe, beteken letterlik om te wandel in Hom. Die Griekse woord wandel (peripateo) beteken in wese dat ander mense in jou lewenswandel – die manier wat jy lewe, jou lewenstyl – sal sien dat jy die Here se heerskappy erken en verbonde aan Hom lewe. Dit moet dus sigbaar wees vir ander dat jou lewe om die Here draai. Jou geloof en jou gedrag moet verbind wees aan mekaar.

Paulus se verduideliking van hierdie lewensverbondenheid laat my dink aan die metafoor van ‘n boom: gewortel en opgebou in Hom, bevestig in die geloof, en vervul tot oorlopens toe met dankbaarheid.  Dit het te make met die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte). In alles, waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is, moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (Kol. 1:15-20).

Vermy leë filosofieë en ‘n selfgemaakte godsdiens – Kolossense 2:16-23

Dit beteken onder andere dat hulle nie aandag moet gee aan dinge wat Jesus se Heerskap in hulle lewens kan verdring of vervang nie. Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente in wat inhoudloos was (leë leringe) en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (1983-vertaling se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – vgl. die kommentaar van O’Brien – en nie op Christus nie – Kol. 2:8, 20).

Dieselfde geld die Joodse klem op die besnydenis. Die leringe daaroor moet vermy word deur te fokus op die doop wat ‘n vereniging met Jesus Christus is, en die geskenk van ‘n nuwe lewe inhou. Dieselfde geld ook sekere Joodse voorskrifte– dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie, feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die Sabbatdag (Kol. 2:16). Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele, en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – Kol. 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (Kol. 2:20). En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (Kol. 2:23). Selfs nie eers die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (vgl. Kol. 3:10). Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Boodskap en betekenis

Paulus roep die gelowiges in Kolosse op om hulle hele lewe op Jesus Christus as Here te bou en in verbondenheid met Hom te leef. Aangesien Hy die Heer van skepping en herskepping is, moet hulle geloof (die wortels) en gedrag (die vrugte) sigbaar getuig van sy heerskap in hulle lewens.

Dis waarom niemand jou kan voorskrywe oor allerlei nie, want jy het die hoogste verbintenis wat daar is en wandel deur hierdie lewe met die Here van die heelal aan jou sy.

Hy waarsku teen enige idees of praktyke – of dit nou uit heidense filosofieë, Joodse wette, engel-aanbidding of asketiese gebruike kom – wat Jesus se sentrale plek kan verdring. Sulke selfgemaakte godsdienste en tradisies, gebou op menslike denke of kosmiese magte, het geen werklike krag om te red of geestelik te verander nie.

Die enigste ware onderskeidingsteken van ’n Christen is om saam met Christus te leef, verenig met Hom in sy dood en opstanding, en vervul met dankbaarheid. Alles wat nie op Christus self gebou is nie, is leeg en misleidend.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar