Skip to main content

Rut 4

God gee ‘n wonderlike uitkoms

Teks en konteks

Die verhaal bereik sy hoogtepunt met die ontknoping wat plaasvind in die stadspoort, die plek waar alles van belang, van handel- tot regsake voltrek is.

Dit is ‘n les vir ons dat Boas binne die regstelsel van daardie tyd bly en die mense betrek wat die besluitnemers is. Hy trek tien van die oudste leiers van die stad bymekaar sodat die transaksie nie net hulle wysheid kan betrek nie, maar ook geldig kan wees in die oë van die publiek.

Dit sluit die prosedures uit die wet in wat die kooptransaksie moontlik gemaak het. En daar was drie tipes reg ter sprake.

  • Die lossingreg – die hulp vir familie as hulle in nood kom.
  • Die erfreg – vroue soos Naomi en Rut kon grond erf.
  • Die swaers- of leviraatsreg – die huwelik met ‘n weduwee wat nog nie kinders het nie.

Boas is ook baie goed voorbereid vir die onderhandelinge en vir die moontlike uitkomste daarvan. Hy gebruik ‘n fyn strategie wat hierdie lossingreg verbind aan die erfreg van vroue, sowel as aan die swaershuwelik en só ‘n unieke uitkoms moontlik maak.

  • Die lossingreg het bepaal dat ‘n familielid iemand wat in die moeilikheid raak, moet help deur die grond te koop (Lev 25; Jer 32). Die een wat kon, moet ‘n losser, ‘n go’el(Hebreeus) word, vir dié wat uitboer of in ‘n probleem kom. Naomi en Rut moes dus hier gehelp word uit hulle verknorsing.
  • Die erfreg van vroue kom uit die reëling wat vir Selofgad se dogters geskep is toe Selofgad nie manlike nasate gehad het nie (Num 26; 36; Jos 17).Die vyf dogters, Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, het die onreg van ‘n reëling dat net mans kan erf, aangevat, en erfreg vir vroue ingevoer in Israel, met die goedkeuring van die Here in Moses se tyd.
  • Die swaershuwelik het weer bepaal dat as iemand sonder kinders sterf, een van sy broers verplig was om met sy weduwee te trou (Deut 25:5–10)Die eerste seun uit hierdie “swaershuwelik” geld dan as die seun en erfgenaam van die oorledene, nie van die broer wat met haar getrou het nie.

Die erfreg van vroue (uit die wette rondom die dogters van Selofgad) kan verklaar waarom ‘n huwelik met Rut by die lossing ingesluit is, asook ​​hoekom Naomi die begunstigde van die huwelik tussen Boas en Rut geword het. Rut 4 vertoon dus waarskynlik ‘n unieke kombinasie van die twee regte.

Dit is ook ‘n les vir ons dat Boas alle aspekte van die transaksie en die moontlike gevolge vir almal betrokke deurgesels. Boas is duidelik deeglik vertroud met die wetgewing, maar ook met die noodsaaklike gesprek om by ‘n oplossing uit te kom.

  • Let op dat Boas dus tereg uitwys dat dit hier nie net om die grond gaan nie, die lossingreg, maar ook oor die erfreg, Rut en Naomi as wettige erfgename van die grond. Die erfreg is immers iets wat nie verontagsaam kan word nie wanneer jy die lossingsprosedure toepas nie.
  • Daarby wys Boas op die feit dat daar ook ‘n swaershuwelik ter sprake kom, want Rut het nog nie ‘n erfgenaam nie. Gewoonlik was dit ‘n reëling tussen broers, maar Boas maak dit ook in hierdie situasie van toepassing, aangesien albei Naomi se seuns, Maglon en Giljon, reeds oorlede is.
  • Deur met Rut te trou, sou dit gevolglik beteken dat hierdie man nooit regtig die grond sou besit nie, want Rut se kinders sou die grond erf, sodat dit binne die familie van Naomi en Elimelek, Rut se oorlede skoonpa, kon bly.
  • Dit is laastens opmerklik hoe Boas klem lê op Rut se Moabitiese afkoms, waarmee hy natuurlik hoop dat die familielid nie verder sou belang stel nie. Interessant is ook dat die man se naam doelbewus verswyg word in die verhaal. Hy is net “John Doe” soos die NET Bible dit vertaal, ‘n familielid wat uiteindelik net ‘n “vriend” bly, soos Boas hom aanspreek. Hierdie “John Doe” wou nie sy verpligting nakom om ‘n nageslag vir Naomi by Rut te verwek nie en mis só uit op die voorreg om deel van die geslagsregister van Dawid en uiteindelik die Messias van die wêreld te word. Hy kies teen lojaliteit en waagmoed. Watter dwase keuse! Daarmee slaag Boas natuurlik in sy doel om met Rut in die huwelik te tree!

Let ook op aan die einde hoe dit die Here is wat haar die voorreg van swangerskap gee, waarmee duidelik bely word dat die gelukkige uitkoms van dié verhaal aan Hom toegeskryf kan word. Obed se naam beteken dienaar.

Boodskap en betekenis

Boas vertoon dieselfde lojaliteit en waagmoed soos ons dit van Naomi en Rut in die verhaal geïllustreer sien. Dit is altyd waar alles in die geloofsgemeenskap begin, by God en sy mense, by lojaliteit aan Hom en ‘n meelewing met sy mense. Dit gee jou die moed om te waag in die geloof.

Dink veral na oor die twee lesse wat ‘n mens uit Boas se optrede in hierdie transaksie leer. Hy bly binne die regstelsel van sy tyd, want die uitkoms moet legitiem wees. Hy fokus ook op die noodsaaklike gesprek wat enduit gevoer moet word totdat daar ‘n ooreenkoms bereik is. Twee lesse wat ons ter harte kan neem.

Die verhaal van Rut is uiteindelik ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid en voorsiening, maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. En wat veral van betekenis is, is dat hierdie klein verhaal van Rut se lojaliteit en Naomi en Boas se waagmoed deur God ingesluit word in sy groter verhaal met hierdie wêreld.

Hulle kind, Obed, is van baie groter betekenis as wat hulle in hulle wildste drome sou kon droom. Obed se naam beteken “dienskneg”. En uit sy nageslag sou die Groot Dienskneg gebore word. Jesus wat gebore is in ‘n stal in Bethlehem, soos Matteus 1 ons vertel in aansluiting by die geslagsregister aan die einde van die boek Rut.

Jesus is egter ook die nageslag van Elimelek, Naomi se oorlede man, wie se naam die ander kant van die betekenis van die verhaal voorspel: “my God is koning”. Jesus sou as Messias nie net die Dienskneg wees wat getrou sou bly tot aan sy kruisdood nie, maar ook as Koning van die wêreld die troon van sy Vader sou bestyg en die koninkryk van God sou vestig.

God weef dus ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou vir ons eie plekkie in die son, ook hier in SA.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in sy groter verhaal met die mensdom.

Dat Naomi en Rut ‘n losser (go’el) in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. Ook in terme van land, gemeenskap en ‘n nageslag.

Maar daar is ‘n dieper boodskap. Dit is, dat hierdie verhaal vir ons van die groter losser in Dawid, en die grootste Losser van almal, Jesus Christus, vertel, die Losser waarvan ook Job gedroom het (Job 19:25). Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld. Wat met ons gebeur, het daarom ook ‘n impak op die wêreld.

En dit is groter as maar net dat die Here vir ons sorg. Deur vir my en jou te sorg, sorg Hy vir die wêreld. Dit is waarskynlik die boodskap wat ons in hierdie tydsgewrig in ons land die meeste oor moet nadink.

Ons moet God as die groot Go’el leer raaksien, soos Hy Homself in Rut bewys

Dit is immers hoe Hy beskryf word in al die groot uitkomste wat Hy vir die volk voorsien het. Dit was hierdie belofte – dat Hy die Losser is – wat die volk gemotiveer het om Moses te vertrou toe hy die boodskap van verlossing aan hulle gebring het: “Ek sal julle van julle verknegting verlos.” (Eks 6:6). Dit is vir hierdie eienskap van Hom waarvoor Hy geloof is toe Hy die belofte aan hulle vervul het met die verlossing deur die Rietsee: “Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is.” (Eks 15:13).

Hierdie eienskap van God word daarom in die Psalms besing. Hy is geloof reg deur die eeue as die Losser – die groot Go’el– wat die volk vir Homself gekoop het (Ps 74:2). Hierdie gedagte van die Groot Verlosser  het die boodskap van die profete gestruktureer (Jes 41:14; 43:14; 44:6; 47:4; 60:16; Miga 4:10; Jer 50:34). Israel word daarom die Verlostes genoem (Jes 35:9; 62:16), ‘n titel wat ons ook vir onsself kan toeëien in Christus Jesus, die Groot Verlosser.

Maar terug dan by ons eie kleiner situasies

Hierdie God, wat die groter bewegings van die geskiedenis beheer, is ook die Verlosser in die persoonlike ruimte van die gelowige in nood. Daarom kan Hy aangeroep word in nood: “Kom red my lewe, bevry/verlos my van my vyande.” (Ps 69:18). Dit is immers Hy: “wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon.” (Ps 103:4; vgl Ps 107:2). Dit is van Hom wat ‘n mens verlossing kan verwag: “Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte.” (Ps 119:154). In elke praktiese situasie waarin ons ons mag bevind.

Soos Job sê: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25). Dit bly in elke en alle situasies waar.

Vir dieper delwers.

Datering maak saak

Ek dink min van julle het al ooit gedink oor die datering van die boek Rut. Dit is só ‘n pragtige verhaal, op soveel vlakke, dat die datering waarskynlik vir jou van minder belang is. Waarom sou die tyd wat ‘n boek geskryf is, van enige belang wees? Maak dit enigsins saak? Verander jou keuse van ‘n datum dan aan die boodskap van die boek?

Wel, ja. Datering maak saak. Want dit bepaal vir wie die boek geskryf is. Dit bepaal vir wie die boodskap van die Bybel in die eerste plek bedoel is. En as jy dít weet, wat Rut vir daardie gehoor beteken het, kan jy baie beter bepaal watter boodskap die boek dan ook vir jou het, al is die boek in ‘n ander tyd en vir ander mense geskryf.

Die geheim in die lees van die Bybel is om eerstens goed te verstaan wat dit vir die eerste gehoor ingehou het, sodat jy met integriteit die kloof tussen toeka en vandag kan oorbrug en die boodskap van die Bybel vir vandag vars en nuut kan hoor.

Wanneer is die boek Rut dus geskryf?

Op linguistiese gronde is daar ‘n saak uit te maak daarvoor dat Rut vóór die ballingskap geskryf is. Daar is effens meer ooreenkomste met Standaard Bybelse Hebreeus, dws die Hebreeus wat vóór die ballingskap gebruik is. Dit maak dit waarskynlik dat die boek Rut vóór die ballingskap geskryf is.

Dat daar ook ‘n paar ooreenkomste met Laat Bybelse Hebreeus is in die boek, beteken moontlik dat die verhaal later opgedateer is, eerder as dat dit later geskryf is.

Wat my egter laat kies vir ‘n vóór ballingskap datering is nie die tipe taal wat gebruik is nie. Dit is eerder inhoudelike kriteria.

1. Die eerste inhoudelike feit is dat die skrywer self die verhaal in die tyd van die Rigters plaas (Rut 1:1). Daaroor is daar geen dispuut nie. Die tydperk wat die karakters geleef het, was êrens in die laat 11de eeu vC. Vóór Dawid.

2. Die tweede inhoudelike feit is dat die wyse waarop die vererwing en die leviraatshuwelik hier werk, op punte verskil van die wetgewing van Levitikus 25, Numeri 5 en Deuteronomium 25 (vgl ook Jer 32). Dit veronderstel ‘n situasie waar dinge nog vloeibaar was en die tempel in Jerusalem nog nie sy bepalende rol aan die hand van die Skrif in die wel en wee van die volk gespeel het nie. Dink ook terug aan Jefta in Rigters 9 wat nie kennis gedra het van die wet waarvolgens hy sy dogter kon loskoop van die gelofte wat hy gemaak het nie.

3. Die belangrikste argument vir ‘n vroeë datering is egter die derde feit, dat daar iets heeltemal unieks is in die wyse waarop die verhaal van Rut vertel word. Die hele verhaal van Rut loop uit op ‘n geslagsregister. Geen ander boek in die Bybel eindig só nie.

Normaalweg begin geslagsregisters ‘n boek om die verdere verloop van ‘n verhaal te bevestig, soos ons dit in Numeri kry as deel van die Pentateug en in Kronieke as deel van die verhaal van die koningskap.

Só is dit terloops ook in Matteus 1 met Jesus se geslagsregister. Dit is vóór sy geboorteverhaal geplaas. Want, die geslagsregister begrond en bepaal wat verder aan gaan gebeur. Jesus word in die Messiaanse linie gebore. So sê die geslagsregister.

En in Lukas 3 word die geslagsregister weer vóór sy openbare bediening geplaas, want Hy gaan optree as die Messias, soos sy geslagsregister dit begrond. Só sê die geslagsregister.

4. Dit hang saam met die vierde feit, die plek wat die boek Rut in ons Bybel beklee. Dit is net vóór die boek Samuel in die Bybel geplaas  (op grond van die orde van die LXX). Hoekom? Want, die boek bevestig die verhaal van Dawid wat in die boek 1&2 Samuel vertel gaan word. Die boek pas dus in die tydsgewrig wat dit beskryf. Dit pas in die orde wat dit in ons kanon gekry het. Net vóór Dawid en net vóór die Messiaanse verwagting wat hierna sou ontwikkel waarin Dawid so ‘n groot rol speel.

En dié feite is van fundamentele belang. Hierdie geslagsregister het Dawid se koningskap gesag gegee, ‘n Skriftelike, Goddelike gesag, ‘n gesag ingebed in die storie van God en sy mense.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem