Skip to main content

Markus 8

Jesus bring oorvloed en wys die pad na ware dissipelskap

In Markus 8 openbaar Jesus sy oorvloed en krag deur wonderwerke, maar die dissipels en die Fariseërs bly blind vir sy volle identiteit. Die dissipels begin Hom as die Christus erken, maar moet nog leer wat sy lydenspad en ware dissipelskap behels: selfverloëning, geloof, en gehoorsaamheid.

Teks en konteks

Jesus voed vierduisend mense (Markus 8:1-10)

8:1-3 In die Dekapolis, ‘n oorwegend heidense gebied, is Jesus besorgd oor die groot skare wat drie dae lank by Hom was sonder kos. Hy vrees dat hulle die terugtog nie sal oorleef nie.
8:4-5 Die dissipels, vasgevang in ‘n aardse perspektief, sien geen manier om die mense te versadig nie, ondanks vroeëre ervarings met Jesus se wonders.
8:6-9 Jesus gebruik die sewe beskikbare brode en ‘n paar vissies. Hy dank God, breek dit, en laat die dissipels dit uitdeel. Almal word versadig, en sewe mandjies oorblyfsels word opgetel. Jesus stuur die skare huis toe en vertrek na Dalmanuta.

Boodskap en betekenis
Hierdie tweede broodvermeerdering in ‘n heidense gebied beklemtoon dat Jesus se oorvloed vir alle mense bedoel is. Tog bly die dissipels blind vir sy groter doel en krag, soos hul latere onbegrip wys.

Jesus weier om ‘n teken te gee (Markus 8:11-13)

8:11-12 Fariseërs vra vir ‘n teken uit die hemel, maar Jesus sien deur hul ongeloof, wat agter argumente skuil. Hy sug diep oor hul hardkoppigheid en weier om aan hul versoek te voldoen.
8:13 Jesus verlaat die gebied sonder om verdere aandag aan hul ongelowige argumente te gee.

Boodskap en betekenis
Geloof kom deur bereidheid om te gehoorsaam, nie deur sigbare bewyse nie. Soos Jesus hier demonstreer, is argumente sonder ‘n opregte soeke na die waarheid nutteloos.

Jesus waarsku teen die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes (Markus 8:14-21)

8:14-16 Op pad na Betsaida besef die dissipels hulle het vergeet om genoeg brood saam te bring. Jesus waarsku hulle teen die “suurdeeg” van die Fariseërs en Herodes, maar hulle interpreteer dit as ‘n verwysing na hul gebrek aan voorsiening.
8:17-21 Jesus spreek hul onbegrip en kortsigtigheid aan, herinner hulle aan die oorvloed van die broodvermeerderings, en onderstreep dat Hy altyd vir hulle sal sorg.

Boodskap en betekenis
Die suurdeeg simboliseer die invloed van valse leerstellings wat geloof ondermyn. Jesus vra dat sy dissipels Hom sal vertrou vir sy voorsiening en dat hulle die betekenis van sy werke na waarde sal skat.

Jesus genees ‘n blinde in Betsaida (Markus 8:22-26)

8:22-24 Mense bring ‘n blinde man na Jesus. Jesus neem hom uit die dorp, smeer speeksel op sy oë, en vra of hy kan sien. Die man se sig is gedeeltelik herstel; mense lyk soos bome wat beweeg.
8:25-26 Jesus raak sy oë weer aan, en die man herstel volkome. Jesus beveel hom om nie terug te gaan dorp toe nie.

Boodskap en betekenis
Hierdie geleidelike genesing is simbolies van die dissipels se eie geestelike groei: aanvanklik is daar net ‘n gedeeltelike begrip van wat Hy doen, maar uiteindelik kom hulle tot volle insig in Jesus se werk. Soos die volgende gebeure sal onderstreep.

Petrus bely Jesus as die Christus (Markus 8:27-30)

8:27-28 Op pad na Sesarea-Filippi vra Jesus die dissipels wat mense oor Hom sê. Hulle antwoord dat Hy as Johannes die Doper, Elia, of ‘n profeet beskou word.
8:29 Petrus bely egter dat Jesus die Christus is.
8:30 Jesus verbied hulle om dit bekend te maak om voortydige teenstand te voorkom.

Boodskap en betekenis
Petrus se belydenis wys ‘n sleutel stap in die dissipels se groeiende begrip van Jesus se identiteit. Tog bly hulle perspektief onvolledig totdat sy lyding en opstanding dit volkome sou openbaar.

Jesus kondig sy dood en opstanding aan (Markus 8:31-33)

8:31-32 Jesus voorspel sy verwerping, dood, en opstanding. Petrus, nog vasgevang in aardse verwagtinge van die Messias, probeer Hom hieroor vermaan.
8:33 Jesus vermaan Petrus skerp, noem hom “Satan,” en wys uit dat hy menslike, nie goddelike, dinge bedink.

Boodskap en betekenis
Dissipelskap vra gehoorsaamheid, selfs in die aangesig van lyding. Jesus wys dat ware geloof nie om die lydenspad heen kan beweeg nie.

Jesus roep tot selfverloëning en kruis dra (Markus 8:34-9:1)

8:34-35 Jesus leer hulle dat dissipelskap selfverloëning, die dra van jou kruis, en navolging van Hom vereis. Wie sy lewe wil red, sal dit verloor; wie dit vir Jesus prysgee, sal dit vind.
8:36-38 Hy waarsku teen skaamte vir Hom en sy woorde, want die uiteindelike oordeel sal deur hierdie keuses bepaal word.
9:1 Jesus voorspel dat sommige sy koninkryk in sy krag sal beleef, verwysend na sy opstanding.

Boodskap en betekenis
Ware dissipelskap vra oorgawe aan Jesus se wil, ongeag die koste. Dit bied ewige lewe en ‘n deel hê aan sy koninkryk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar