Skip to main content

1 Korintiërs 3

Leiers behoort aan die gemeente en hulle aan God

Let op hoe Paulus ná die fokus op hulle gesamentlike identiteit in Christus terugkeer na die kwessie van verdeeldheid rondom apostels en ander leiers. Hy praat daaroor vanuit drie perspektiewe, in hoofstuk 3 en 4, wat hulle roeping in hulle diens aan die Drie-enige God vestig:

  • 1 Korintiërs 3:1-9 – apostels en leiers is medewerkers in die gemeente in diens van God as “boere” wat plant en natmaak in die saailand van die gemeente wat deur Hom beoordeel sal word;
  • 1 Korintiërs 3:10-23 – apostels en leiers is bouers in die gemeente as die gebou van God, die tempel van die Gees. Dit sou daarom dwaas wees om op mense/leiers te roem of hulle te verheerlik, want almal behoort aan Christus, en Christus aan God;
  • 1 Korintiërs 4:1-21 – apostels en leiers is diensknegte van Christus (belangrik, nie van die gemeente nie!) en bedienaars van die verborgenhede van God. Hulle word deur Hom beoordeel, en moet hulleself binne die perke hou van wat Hy bepaal.

Teks en konteks

Groepvorming rondom leiers is wêrelds – 1 Korintiërs 3:1-4

Dit is interessant dat Paulus hom in sy kommunikasie laat lei deur die vlak van hulle geestelike volwassenheid, dié mate waarin hulle bereid is om hulle deur die Gees te laat lei. Omdat hulle soos wêreldse mense optree, soos kindertjies in die geloof, moes hy eenvoudig met hulle praat, omdat hulle dieper dinge nie sou kon verteer nie.

Hulle onvolwassenheid blyk uit die afguns en onenigheid wat daar onder hulle is, veral waar hulle groepvorming aanhang, want dit is wêrelds.

Begeleiding deur die Gees van God is nie net ’n teken van geestelike volwassenheid nie, maar die essensie van ’n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe. Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling – omdat eie begeertes die botoon vier. Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Leiers is medewerkers van God in sy saailand, die gemeente – 1 Korintiërs 3:5-9

Paulus brei uit oor die ondergeskikte rol wat hy en Apollos inneem. Hulle is slegs dienaars in die saailand van God deur wie die Korintiërs tot geloof gekom en versorg is. Die groei het van God self af gekom, want Hy is die eintlike krag en voorsiener van die gemeente, hoewel leiers darem die voorreg het om as medewerkers van God beskou te word. Hulle sal ook hulle loon van God self ontvang volgens die aandeel wat hulle in die saailand gehad het.

Leiers is soos bedrewe bouers op die fondament Jesus Christus – 1 Korintiërs 3:10-15

Daarom moet leiers mooi kyk hoe hulle werk. Hulle moet soos bedrewe bouers te werk gaan. Daar is nie ‘n ander fondament moontlik as Jesus Christus nie, en, by wyse van spreke, moet hulle daarop bou volgens die bouplanne wat God gee.

Let op dat die gehalte van die werk in twee groepe verduidelik word: duursame (goud, silwer, edelstene) en verganklike (hout, gras, strooi) materiale. Die vuur van die wederkoms sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel.

Die gemeente is die tempel van God waarin die Gees woon – 1 Korintiërs 3:15-17

Wat my veral tref, is die baie belangrike boodskap van Paulus dat die Gees nie net vir my as gelowige gegee is nie, maar vir die gemeente – dat die gemeente ’n tempel van God is waarin Hy woon. Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want dit skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Waar mense die gemeente skade doen deur verdeeldheid te saai, sal God hom skade aandoen, ter wille van die heiligheid van die gemeente.

Dit is dwaas om jou op leiers te beroem, want ons behoort almal saam aan Christus – 1 Korintiërs 3:18-23

Paulus waarsku dat niemand homself moet bedrieg nie, veral nie deur wêrelds te dink oor leierskap nie, want dit is dwaas in die oë van God. Paulus haal een van Job se vriende, Elifas, aan wat dié waarheid geëggo het dat God die wyses vang deur middel van hulle eie slinksheid (Job 5:13 – min vermoedend natuurlik op daardie stadium dat hy self nie reg met God se wysheid omgegaan het nie!).

Paulus haal ook ‘n Psalm aan waarin God se alleen-reg, as die Regter van die hele aarde, om mense te beoordeel, geprys word. Daaruit weet ons dat wêreldse wysheid niks tel by God nie: “Die Here ken die redenasies van die wyses, dat dit niksseggend is.” (Ps 94:11).

Daarom kan en mag niemand hulle ooit op mense beroem of verlaat nie. Net op God alleen, want alles en almal behoort aan Hom.

  • Dit sluit al die mense in, ook die einste leiers, sonder uitsondering. Die leiers behoort eintlik aan die gemeente, nie andersom nie!
  • Dit sluit die hele bewoonde wêreld Hulle is immers God se erfgename (soos hy in die brief aan die Romeine verder gaan uitbrei – Rom. 8:17).
  • Dit sluit die hele bestaan van lewe sowel as dood in, want onthou, die dood kan ons nie skei van die liefde van Christus nie (Rom. 8:38).
  • Dit sluit die hede en die toekoms in soos Paulus ook later in dieselfde vers in Romeine sal skryf (Rom. 8:38).

Alles behoort dus aan die gelowiges, die leiers ingesluit… maar hulle behoort weer aan Christus, en Christus aan God.

Boodskap en betekenis

Watter visie het Paulus nie van die bediening en die gemeente nie! Hy keer die wêreldse orde om van leiers wat heers oor hulle volgelinge, soos Jesus sy dissipels tevore geleer het en self in sy eie bediening gedemonstreer het (Matt 20:25-28). Die leiers bedien nie net die gemeente nie, maar behoort inderdaad aan die gemeente.

Net om dit dan weer verder uit te lê as ‘n werklikheid wat in God sy vervulling kry, want die gemeente(s) behoort weer aan Christus en Christus aan God.

Dit is vanuit hierdie perspektief wat ‘n mens jou plek in die gemeente van die Here moet vind en die werk moet doen waartoe Hy jou roep.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…