Skip to main content

Eksodus 16

God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid

Teks en konteks

Dit is maar die begin van die sewende week ná die Uittog. Die interne verset van die volk begin al hoe erger raak. Hierdie keer is hulle ontevrede oor ‘n gebrek aan vleis en kos.

Die verset lei tot die volgende bewys van God se teenwoordigheid by hulle. God voorsien in hulle fisiese behoefte van brood en vleis – manna en kwartels – Eks. 16:1-21. Daarby stel Hy ook die eerste keer die Sabbatdag as ‘n rusdag in waarop hulle sou kon herstel van hulle arbeid en aktiwiteite die vorige week – Eks. 16:22-30. Hy bevredig ook hulle behoefte aan geestelike voedsel (Eks. 16:22-30). Dít is waarvoor die sewende dag as die rusdag by uitstek geskik sou wees. Die hoofstuk sluit af met ‘n beskrywing van die maatreëls wat Moses tref dat dié voorsiening van die Here vir die nageslag bewaar sou kon bly – Eks. 16:31-36.

Hoofstuk 17 sal verder oor eksterne uitdagings praat waar dit nie meer die farao vanuit Egipte was wat hulle teengestaan het nie, maar die Amalekiete wat teen Israel by Refidim kom veg het. Dit sluit die bekende verhaal van Aäron en Hur in wat Moses se arms in die geveg regop gehou het. Dit berei ‘n mens ook voor vir die res van die strydverhale van die woestyn sowel as die Intog in Kanaän.

Hoofstuk 18 sal egter weer terugkeer na die interne konflik in die volk wat besleg is met die raad van Jetro aan Moses oor gedeelde leierskap. Dit berei ‘n mens ook voor vir die wyse waarop onderlinge verhoudinge gereël sal word in die verbondsboek van Eks. 20-24, sowel as die latere nog meer uitgebreide vorm daarvan in Levitikus wat Eksodus opvolg in die Tora.

Die Here voorsien brood en vleis vir die trek – 16:1-21

Dit is skaars ses weke ná die Israeliete uit Egipte getrek het. Hulle het die wonderlike teenwoordigheid van God in die wolk- en vuurkolom steeds elke dag ervaar. Hulle het die wonderlike deurtog deur die Rietsee ‘n paar weke terug ervaar terwyl die water weerskante hulle soos ‘n muur gestaan het. Hulle het die wonderteken van die Here net daarna by Mara ervaar toe die bitter water soet geword het. Hulle het die oorvloed ervaar by hulle onlangse verblyf by die groot oase by Elim met sy twaalf fonteine, een vir elke stam!

Maar, hierdie wonders was net nie genoeg om hulle te oortuig om die Here te vertrou vir elke behoefte wat hulle het nie. Die “volksvergadering” – die gesinshoofde – het met hulle aankoms in die Sinwoestyn hulle teen Moses en Aäron begin verset en gekla dat hulle die volk uit Egipte gelei het op hierdie woestynpad. In Egipte het hulle immers genoeg vleis en kos gehad. Hier sou hulle egter van honger omkom.

Dit lei tot die volgende bewys van God se teenwoordigheid by hulle. God voorsien in hulle fisiese behoefte van brood en vleis – manna en kwartels. Daar is baie pogings om die manna en kwartels op ‘n natuurlike manier te verklaar, bv. die manna as die uitskeiding van sommige insekte en die kwartels as swerms migrerende voëls wat weens uitputting maklik was om te vang. Maar die beskrywings hier en in Numeri 11 en Psalm 78 is van wonderwerke wat aan die Here se gawes toegeskryf word. Dit is nie natuurlike voorsienings soos wat die geval uiteindelik in die beloofde land sou wees via die normale prosesse van landbou en veeteelt nie.

Die idee dat elke huis vir elke dag manna moes gaan optel, lê natuurlik agter die gebed wat die Here Jesus ons geleer het in die NT: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” (Matt. 6:11). Die verhaal van die Israeliete leer ons op ‘n baie praktiese wyse hoe daardie gebed werk waar ‘n mens van die Here afhanklik lewe. Mense wat te veel oorvloed het, kan natuurlik ook die waarde van dié gebed besef deur deel van die voorsiening te word vir dié wat ‘n stryd het om hulle daaglikse brood.

Wat ons ook moet raaksien, is dat van die begin af die voorsiening van die Here aan ‘n daaglikse gehoorsaamheid gekoppel word. Dit sal ‘n tema word regdeur die Pentateug en die res van die profetiese literatuur dat God gehoorsaamheid vereis. Sy seën is daaraan verbind. Dié wat aan Hom ongehoorsaam is, ontbeer ook sy voorsiening, trouens, ontgeld baie keer sy toorn.

Die Here voorsien die Sabbat as rusdag – 16:22-30

Die Here gee ook ‘n verdere bewys van sy teenwoordigheid by hulle. Dit bewerk Hy deur die eerste instelling van die Sabbatdag as ‘n rusdag waarop hulle kon herstel van hulle arbeid en aktiwiteite die vorige week. Dit sou ‘n fundamentele deel van hulle identiteit word soos verwoord in die vierde van die Tien Gebooie.

Ek gee ‘n kort uittreksel:

“Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen. 1). Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Eks. 16; Deut. 5). Dit was daarom die teken van die verbond (Eks. 31:16). Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev. 23).

Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie. Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep. In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark. 2:27; Joh. 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]). Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan – soos dit in die Woord geskryf is – as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand. 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word. Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak nie (Kol. 2:16-17), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei.

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark. 16:2; Matt. 28:1; Luk. 24:1; Joh. 20:1) te vier.”

Moses bewaar die manna as tekens vir die nageslag – 16:31-36

Die hoofstuk sluit af met ‘n beskrywing van die maatreëls wat Moses tref dat dié voorsiening van die Here vir die nageslag bewaar sou kon bly. Aäron sit dit later voor die “getuienis” neer, die ark met die kliptafels van die Tien Gebooie daarin wat in die Tabernakel was.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.