Skip to main content

Psalm 24

Om in God se teenwoordigheid tot rus te kom

Hierdie Psalm word deur geleerdes ten nouste met die ark verbind. Dit is moontlik gekomponeer om aan die een kant die rusplek van die ark, die sigbare teenwoordigheid van die Here,  in Jerusalem te vier. Dit is dus ‘n Psalm vir die tuiskoms van die ark, sowel as die viering van God se voortdurende teenwoordigheid by sy volk. Aan die ander kant is dit saam met Psalm 15 ‘n uitdrukking van die vereiste wat God stel aan dié wat Hom daar nader. Soos Hebreërs 12:14 sê: “Streef… na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Teks en konteks

Die Psalm begin met die lofprysing dat aan die Here die hele aarde en die mense daarop behoort. Let op hoe daar ‘n bewussyn is van die waters onder die aarde in die beskrywing van die wêreld.

Dan  skuif die fokus van die Psalm na die berg van die Here, die Sionsberg met die vraag wat – moontlik deur die priesters van binne die tempel af – gevra word:

“Wie mag teen die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan?”

Die antwoord – moontlik van buite af deur die tempelgangers – is duidelik:

“Die mens met skoon hande en ‘n rein hart wat nie na nietigheid hunker en nie sweer by wat vals is nie.” ‘n Verwysing na die negende en tiende gebod.

Dan kom die belydenis dat sulke mense: “sal seën ontvang van die Here en geregtigheid van die God wat hom red.” Trouens: “dit is die geslag wat na Hom soek, hulle wat u teenwoordigheid  opsoek, dit is Jakob.” Met die sela daarna wat ‘n tyd van nadenke aandui.

God se teenwoordigheid is dus die erfenis van mense wat na God se wil vra en Hom dien. Dit is hulle wat die ware nageslag van Jakob is en in God se teenwoordigheid mag ingaan.

‘n Wonderlike motivering. God seën sy mense, Hy bring vir hulle vrede en Hy bring vir hulle rus. Soos Jesus hierna sou sê: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee.”

Dan word aandag gegee aan die feit dat God self – moontlik nou deur die simbool van die ark voorgestel – nou sy tempel betrek: “Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan ingaan.”

Hierdie roemryke Koning word dan besing in terme van die oorwinning wat Hy sy volk gegee het. Hy was en is magtig en heldhaftig  in die stryd. Hy is die Heerser oor alle magte.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die Psalm vir die normale geestelike lewe is daarom tweërlei. Aan die een kant bevestig dit aan die gemeenskap van Israel dat: alles behoort aan die Here. Aan die ander kant verseker dit die mense wat in Sy teenwoordigheid wil lewe: dié God seën sy mense.

Maar daar is ook ‘n derde boodskap wat eintlik die hoogtepunt van die Psalm is. Dit belig God se betrokkenheid ook in die buitengewone geestelike lewe waar sy mense onder druk en in konflik kom. God is immers die eintlike koning van Israel. Dit is Hý wat die oorwinning gegee het, en dit is Hý wat geloof moet word. En soos die ark dan ingedra is in die tent wat daarvoor opgerig is, en dit in die heiligdom neergesit is, kom Israel tot rus. God is hier, en ons is hier, veilig, vertroos, versorg.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar