Skip to main content

Romeine 11

God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.

Die tweede saak wat Paulus aanraak oor die redding vir die Israeliete en die heidene is om te beklemtoon dat God almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit het, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (11:1-32). Hy hanteer dit in sewe perspektiewe. Met die derde saak sluit Paulus die hoofstuk af deur te beklemtoon dat die enigste manier waarop ‘n mens op hierdie redding kan reageer, is, om die Here te prys (11:33-36).

Teks en konteks

God het nie die Israeliete verwerp nie en selfs vandag is daar ‘n oorblyfsel wat glo (11:1-6)

Paulus vra dan ‘n opvolg vraag oor die Israeliete wat op die boodskap van die evangelie met ongehoorsaamheid en opstandigheid gereageer het: “Het God dan sy volk verstoot?” Sy antwoord is: “Hoegenaamd nie!”

Paulus is immers self ’n Jood en glo. Soos in die tyd van Elia is daar ‘n oorblyfsel wat volhard in die regte verhouding met God deur sy genade (1 Kon 19:10, 14).

Die eerste perspektief is dus dat God nie die Israeliete verwerp het nie en steeds sorg dat daar ‘n oorblyfsel is wat volhard. Dit is die ongehoorsames wat hulleself uitskakel deur nie in die Here Jesus Christus te glo nie. Hulle het die weg van geloof verwerp.

Die Israeliete wat nie glo nie, is verhard (11:7-10)

Die tweede perspektief is dat daar dus ‘n onderskeid is tussen die uitverkorenes van Israel en die “res”, want die uitverkorenes glo, en die “res” van Israel verwerp die weg van die geloof.

Paulus beskryf die “res” met woorde van Moses en Jesaja dat die Here hulle verhard het met ‘n trae gees, met oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie (Deut 29:4; Jes 29:10).

Daarby voeg hy Dawid se vervloeking van sy vyande – mense uit sy volk wat teen hom en teen God gedraai het – en vra dat hulle lewens uitmekaar sal val (Ps 69:23-24; 35:8).

Dit onderstreep verder die erns van die boodskap van hierdie gedeelte.

Die Israeliete het nie so geval dat verlossing onmoontlik is vir hulle nie (11:11-12)

Die derde perspektief is dat die Israeliete nie so geval het dat verlossing onmoontlik vir hulle geword het nie. Hulle val het immers verlossing vir nie-Jode beteken. Die nie-Jode kan moontlik op hulle beurt sommige uit die Israeliete tot inkeer kan bring as die Jode agterkom wat dit vir nie-Jode beteken om in die regte verhouding met God te kom.

Paulus hoop dat die verlossing van nie-Jode sommige Jode sal prikkel om in Christus te glo (11:13-15)

Die vierde perspektief is dat Paulus hoop dat die verlossing van nie-Jode sommige Jode sal prikkel om in Christus te glo. Dit sal niks anders wees as lewe uit die dood!

Dat Jode verlore gaan weens ongeloof, moenie tot selfverheffing by gelowige nie-Jode lei nie (11:16-21)

Die vyfde perspektief is dat die feit dat nie-Jode gered word deur geloof, en Jode verlore gaan weens ongeloof nie tot selfverheffing aanleiding moet gee nie. Paulus gebruik die metafore van ‘n baksel deeg en ‘n mak olyfboom om dit te illustreer.

Die eerste gedeelte van die baksel deeg het volgens die wet aan die Here behoort en is aan Hom geoffer (Num 15:17-21; vgl ook die soortgelyke gebruik met die graanoffer: Num 2:14-15). Daardeur is die hele baksel van dié deeg geheilig.

Op soortgelyke wyse het die geloof van die eerste Jode ‘n heiligende invloed op die hele volk, soos dit ook deur die metafoor van die mak olyfboom geïllustreer word. Die wortel heilig die takke.

Dit is waarom die nie-Jode wat tot geloof kom, soos wilde olyftakke ingeënt kan word op die mak olyfboom. Die ongelowige Jode word weer van die mak olyfboom afgebreek weens hulle ongeloof. Die enigste manier om deel van die mak olyfboom te bly, is immers om in geloof te volhard.

Dit beteken egter nie dat gelowige nie-Jode hulle teenoor ongelowige Jode kan verhef nie. As nie-Jode soos wilde olyftakke ingeënt kon word op die mak olyfboom deur geloof, sal dit ook kan gebeur met die mak olyftakke wat deur hulle ongeloof afgebreek is.

Op almal rus die verantwoordelikheid om in geloof te bly, sodat hulle nie uitgebreek word nie. Ontsag teenoor God moet ons verhouding met Hom stempel, nie hooghartigheid teenoor ander nie.

God is goed vir alle gelowiges en streng met alle ongelowiges (11:22-24)

In aansluiting by die vorige perspektief brei Paulus in die sesde perspektief op God se goedheid sowel as sy strengheid (sy “kindness” en sy “harshness”) uit. God is streng met dié wat afvallig word deur ongeloof en goed vir dié wat in geloof in die verhouding met Hom volhard. Almal moet dus in God se “goedheid” bly deur in geloof te volhard.

God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (11:25-32)

Die sewende perspektief lig alle gelowiges in oor die misterie van die verharding wat oor Israel gekom het. Die verharding was sodat die volle getal van die heidene tot geloof kon kom. Daaruit moet nie afgelei word dat God al die Jode verwerp het nie.

Paulus haal beloftes uit Jesaja en Jeremia aan om sy punt te maak: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.” (Jes 59:20-21; 27:9; Jer 31:33-34)

Die beloftes van vergifnis en reiniging is natuurlik reeds vervul in die kruisdood van die Here Jesus Christus, maar dit bly steeds van krag vir almal uit Israel wat nog tot geloof sal kom, soos dit inderdaad ook vir gelowiges uit die heidene van krag bly: “Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word.”

Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Dit sal tot die voleinding so bly.

Paulus sluit hierdie uiters belangrike boodskap oor die toekoms van die Jode af met sy finale gevolgtrekking:

“God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.”

God moet geprys word vir sy wysheid in alles wat Hy beplan en doen (11:33-36)

Met die derde saak sluit Paulus die hoofstuk af. Die enigste manier waarop ‘n mens hierop kan reageer, is om die Here te prys. Sy oordele is ondeurgrondelik. Sy weë is onnaspeurbaar. Niemand het Hom ooit raad gegee of iets gegee waarvoor Hy hom sou moes vergoed. Sy wysheid en kennis is weergaloos.

“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen.”

Boodskap en betekenis

In Romeine 11 verduidelik Paulus dat God sy volk, die Israeliete, nie finaal verwerp het nie. Hy beklemtoon dat daar steeds ‘n oorblyfsel is wat glo, en dat die harde harte van sommige Jode toegelaat is om die heidene die geleentheid te gee om tot geloof te kom. Hierdie proses is deel van God se misterieuse en genadige plan waardeur Hy aan almal ontferming aanbied. Paulus gebruik die metafoor van ‘n olyfboom om te illustreer hoe gelowiges, beide Jode en heidene, ingeënt word deur geloof en slegs deur volharding in geloof in God se goedheid kan bly. Hy beklemtoon dat God regverdig, goed en genadig is, en dat sy plan vir redding alomvattend is. Die hoofstuk eindig met lof aan God vir sy onnaspeurbare wysheid en heerlikheid, wat alles omvattend en ewig is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…