Skip to main content

Josua 5:2-12

Bevestig deur die besnydenis en die paasfees

Teks en konteks

Let op hoe die Here die hele Israel se geestelike verbintenis aan Hom al hoe stewiger maak.

  1. In die eerste plek was daar die belofte van God se teenwoordigheid saam met die opdrag om nougeset volgens sy Woord op te tree (Jos 1).
  2. In die tweede plek het die verkenners die volk laat moed skep met die verhaal van Ragab dat daar alreeds mense in Kanaän was wat, soos hulle, die Here gedien het, en deur Hom beskerm is (Jos 2).
  3. In die derde plek het die Here die absolute gehoorsaamheid aan sy begeleiding onderstreep met die verbondsark wat die voortou in die volk se Intog moet neem. In gelid daarmee het die reiniging van die hele volk gevolg om hulle voor te berei vir die tog deur die Jordaan. Dit is gevolg deur die wonder van die opdamming van die rivier gebeur sodat hulle droogvoets kon deurtrek (Jos 3-4).

Dit word nou deur drie ander geestelike insette in hulle lewens gevolg, die bevestiging van die volk se inlywing in die verbond met God deur die besnydenis (Jos 5:2-9), die hou van die eerste Paasfees in Kanaän as teken van hulle voortgaande inblywing in die verbond (Jos 5:10-12) en laastens die openbaring van die bonatuurlike leëraanvoerder van die Here (Jos 5:13-15) wat ons as deel van die oorlog teen Jerigo gaan lees.

Dit is immers ‘n “Heilige Oorlog” waarin die geestelike verbintenis aan God die praktiese gehoorsaamheid aan en uitvoering van sy opdragte bepaal.

Die “Heuwel van besnydenis” by Gilgal – Josua 5:2-9

Die eerste opdrag wat Josua dus kry is om klipmesse (van vuurklip) te maak en al die Israeliete te besny as teken daarvan dat hulle aan die Godsvolk behoort. Die feit dat klipmesse gebruik is, bring onmiddellik die soortgelyke handeling van Sippora in herinnering. Sy het haar seun Gersom se voorhuid afgesny om die toorn van die Here oor Moses se nalatigheid om dit te doen, af te weer (Eks 4).

Die besnydenis was regtig ‘n fundamentele vereiste vir die volk van God. Die eerste geslag Israeliete in die woestyn het, nes Moses met sy seun, in gebreke gebly om die besnydenis van hulle kinders in stand te hou. Die tweede geslag het dus as onbesnedenes die land betree. Hulle word nou net ná die Intog in die beloofde land opgeroep om dit reg te stel. Want, dit is ‘n fundamentele vereiste van die verbond. Hulle sou net as deel van die verbondsvolk aan die “Heilige Oorlog” kon deelneem. Daar moes dus weer ‘n besnydenis wees.

Die teks sê ‘n “tweede keer”. Dit gryp waarskynlik terug na die “eerste keer” toe Abraham sy hele familie besny. Soos almal in sy tyd besny is, só word hierdie tweede geslag Israeliete nou besny. Daarmee het die Here die Israeliete bevry van: “die bespotting (smaad) van Egipte”. Letterlik staan daar dat die smaad van Egipte “weggerol” is van hulle, ‘n woord wat ook die stam (gll) vir die naam Gilgal (gilgāl) vorm. Gilgal – die “heuwel van voorhuide” of te wel Ghibeat Ha-araloot – word daarmee ook die Israeliete se basis.

As heilige plek vir Israel speel Gilgal ‘n rol in Samuel se bediening (1 Sam 7:16) en word Saul se koningskap daar bevestig (1 Sam  11:14).  Ná Jerusalem as die plek van God uitgekies is, het dit ‘n sinkretistiese plek geword waar onder andere tempelprostitusie hoogty gevier het (Hos 4:15; Amos 4:4).

Die eerste paasfees in die land Kanaän – Josua 5:10-12

Met die eerste paasfees se viering in die land Kanaän maak Israel die bevryding uit Egipte weer vars in hulle geheue en hou deur hierdie sigbare teken hulle geloof in God in stand. Dit was ‘n uiters belangrike opvolg van die besnydenis, want net dié wat aan die geloofsgemeenskap behoort het (deur die besnydenis), kon deelneem aan die paasfees en die boodskap van verlossing daarin vir hulleself toeëien.

Dit was ‘n sigbare teken van hulle voortgaande deel wees van die geloofsgemeenskap. Soos dit die geval ook in die Nuwe Testamentiese geloofsgemeenskap is met die doop (inlywing) en die nagmaal (inblywing).

Let op dat die manna hierna wegbly, want hierdie wondervoorsiening van die Here was nie meer nodig nie. Hulle was nou in die land van melk en heuning. Hulle kon die opbrengs van die land gebruik. Dit sou nou voortaan die voorsiening van die Here wees. Hulle was in die land van melk en heuning.

Boodskap en betekenis

Sommige geleerdes maak baie van die feit dat daar verskillende perspektiewe in die Bybel self oor die Intog en Vestiging is. Hulle vergelyk bv Josua 11:23 en 21:43–45, wat stellig verklaar dat die hele land ingeneem is, met Josua 13:1–7, 15:63, 16:10 en 17:12–13 wat van ‘n onvolledige inname praat. Dieselfde geld die verskillende perspektiewe oor die volledige verwoesting van Hebron (deur Kaleb) Josua 10:36–39 wat blyk in Rigters 1:10–15 onvolledig te wees.

Kaufmann, ‘n Joodse geleerde, wys egter daarop dat ‘n mens duidelik in Josua ‘n eerste “platvee” veldtog kan identifiseer, wat daarna deur ‘n “skoonmaak” veldtog opgevolg is, soos die boek Rigters dit vertel. Sy interpretasie van die interne gegewens van die Bybel maak goeie sin van die verhale, en maak selfs uit ‘n logiese hoek sin vanuit ons kennis van die komplekse aard van sulke oorloë reg deur die eeue.

Dink maar terug aan die oorlog in Irak ‘n paar dekades gelede. Daar was die aanvanklike besetting van die land, waarna dit jare geneem het om ‘n nuwe stelsel te vestig. Nie dat ek met dié oorlog saamgestem het nie! Maar, ek gebruik dit net as illustrasie.

Die gebied wat die Here aan die volk belowe word beskrywe as: “van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste” (1:4). Interessant is dat Israel nooit die volle gebied ingeneem of besit het nie. Die Arabiere en ‘n paar ander kleiner volke het die res besit. En tot vandag toe nog is dit veral die twee afstammelinge van Abraham, Isak (Israel) en Ismael (Arabiere), wat die gebied merendeels bewoon.

Die veldtog verloop as volg:

  1. Dit begin by Sittim – 12 km oos van die Jordaanrivier.
  2. Die Jordaanrivier word oorgesteek by Gilgal om in Kanaän in te gaan. Dit was in April (Jos 4:19) toe die rivier vol was.
  3. Hulle kamp by Gilgal sowat 2 km noordoos van Jerigo. Die Israeliete het hulle daar aan God toegewy en ‘n klipaltaar gebou. Ook die paasfees is daar gevier. Dit het ‘n heilige plek geword waar Saul ook later gekroon is (1 Sam 11). Verskeie van die veldslae is van hier af gevoer. En sommige geleerdes verbind die totstandkoming van die boek Josua tot ‘n groot mate aan die kultus van Gilgal (Butler).
  4. Jerigo was die eerste stad wat geval het, een van die oudste stede ter wêreld met hoë amper ondeurdringbare mure, hoewel dit teen hierdie tyd waarskynlik minder imposant was, weens vorige oorloë daarteen.
  5. Die volgende veldslag was teen Ai, waar hulle aanvanklik verloor het, omdat hulle nie die Here se opdrag gehoorsaam het nie, maar ook vanweë die ondersteuning van die mense van Bet-El. Met die tweede veldslag is Ai egter oorwin.
  6. Josua het ná die neerlaag by Ai ’n altaar op die Ebalberg gebou. Die volk het in twee verdeel—die een helfte het by die voet van Ebalberg en die ander helfte by die voet van Gerisimberg gestaan (soos dit aanvanklik deur Moses as “eerste orde besigheid” beveel is – Deut 27), ‘n plek wat veral vir die latere Samaritane ‘n heilige plek geword het. Die priesters het met die ark tussen die twee berge gestaan en Josua het die wet van God vir die volk gelees (Jos 8:35).
  7. Die inwoners van Gibeon, Hewiete uit vier dorpies sowat 12 km noord van Jerusalem en 10 km suid van Bet-El en Ai, het onder valse voorwendsels ’n vredesverdrag met Israel gesluit, terwyl hulle weer by Gilgal laer opgeslaan het, maar uiteindelik slawe van Israel geword.
  8. Daarmee het Josua ‘n sentrale strook van die land ingeneem, of onderhorig gemaak, wat die suidelike koalisie van konings van dié in die noorde geskei het. ‘n Klassieke “verdeel-en-heers” strategie.
  9. Van Gilgal af het Josua ‘n groot veldslag teen ‘n suidelike koalisie van vyf van die konings in die Suide gevoer op aandrang van die Gibeoniete. Die geveg het suidwaarts van Gibeon af na die Ajalonlaagte verskuif. Dit was hier waar Josua die Here gevra het om die son en die maan te laat stilstaan sodat hulle die vyand kon verslaan.
  10. Na ‘n klomp van die suidelike stede ingeneem is, het Josua ook Hasor, ’n belangrike stad tussen die Hulemeer en die See van Galilea, ingeneem. Koning Jabin van Hasor het die leërs van omliggende stede gevra om hom te help, maar die Here het die Israeliete bygestaan om hierdie noordelike koalisie te verslaan. Dit het aan hulle toegang verleen tot die ander gebiede in die noorde van Israel.
  11. Josua-hulle het daarna by Silo bymekaargekom, noord van Bet-el (onthou dat dit ook aan Jakob verbind is), om die tent van ontmoeting daar op te rig, die plek waar Eli en Samuel later diens gedoen het. En van daar af is die res van die land onder die stamme verdeel (Jos 18). Die land word verdeel deur Josua en Eleasar onder die 12 stamme, met spesiale reëlings vir die Leviete, soos die Here dit uitgewys en sommige dit versoek het.
  12. Aan die einde van Josua se lewe, bring hy die hele volk by Sigem bymekaar en herinner hulle daaraan dat God die land aan hulle gegee het. Hulle sou dit dus slegs met sy hulp kon behou. Die volk het belowe om na aan Hom te leef en vir die res van Josua se lewe was daar vrede en het die Israeliete nie weer by enige oorlog betrokke geraak nie (Jos 24).

Die groot vraag wat egter na die inname en verdeling van die land ontstaan, is: “Sal die volk getrou bly aan die Here? En die hele verhaal van Israel wat hierna ontvou deur die boeke wat volg – in die Vroeë Profete en later die 15 Skrifprofete – word aan hulle getrouheid aan God al dan nie beoordeel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar