Skip to main content

Romeine 7

Ek leef nie meer onder beheer van die wet of die sonde nie

Die vyfde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 7:1-25 en handel oor die wet en sy funksies. Paulus beskryf eers die vryheid wat gelowiges geniet van die slawerny van die wet omdat hulle aan Christus onderworpe is (7:1-6) en volg dit op met ‘n verdediging van die wet deur uit te wys dat dit die sonde is wat die oorsaak is van die stryd wat woed in ons (7:7-25).

Dit help baie om die volgende in gedagte te hou om sin te maak uit Paulus se gedagtegang in hoofstuk 7-8:

  • Let op dat Paulus in die eerste perikoop Romeine 7:1-6 van die gemeenskap van gelowiges praat in die meervoud. Hy kontrasteer hier die mense onder die wet met die mense onder beheer van die Gees wat ’n inleiding is op wat gaan volg in hoofstuk 8.
  • In die tweede perikoop Romeine 7:7-25 praat hy van homself (outobiografies) in die enkelvoud as voorbeeld van ‘n mens in wie die sonde stryd voer.
  • In Romeine 8:1-3 gebruik hy ook die enkelvoud om te korrespondeer met Romeine 7:7-25 en te wys dat die wet van die Gees elke gelowige vrygemaak het van die wet van sonde en die dood.
  • Daarna praat hy in Romeine 8:4-17 verder in die meervoud, waar hy van die effek van die heerskappy van die Gees op die gemeenskap van gelowiges praat.

Teks en konteks

Die dood vir die sonde bring vryheid van die wet (7:1-6)

In die vorige hoofstuk het Paulus afgereken met die gedagte van sommige wat dink dat ons maar sonde kan doen, want ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. “Hoegenaamd nie!”

Maar, hy wil steeds die boodskap van die vryheid van die wet verkondig, en gebruik ‘n voorbeeld van ‘n huwelik waar die huweliksmaats net aan mekaar gebonde is solank hulle albei leef. Wanneer een sterwe, is die ander een onthef van hul maat. Hulle is vry om met iemand anders te trou.

Die huwelik tussen ons en die sonde – by wyse van spreke – is nou opgehef deur ons dood vir die sonde. Dieselfde geld ons verhouding met die wet. Ons is nou vry om in ‘n nuwe verhouding aan Christus te behoort en diensbaar aan Hom te wees: “in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie.”

Hierdie kontras tussen die lewe onder die beheer van die Gees en die lewe onder die beheer van die wet sal in hoofstuk 8 verder geneem word.

Die wet is goed en openbaar wat sonde is (7:7)

Paulus weet dat sommige dan kan dink dat daar fout is met die wet, en dit wil hy voorkom. Die wet is nie sonde nie. Weereens: “Hoegenaamd nie!”

Die wet is immers goed en openbaar die sonde vir wat dit is.

Ek kies hier vir die outobiografiese standpunt – Paulus wat van sy lewenstryd as gelowige teen die sonde praat – teenoor die standpunt wat dit sien as ’n beskrywing van die onverloste mens en sy verslawing aan die sonde. Die eerste persoon enkelvoud oortuig my daarvan.

Die sonde kry egter ironies genoeg ‘n vastrapplek in ons deur die wet (7:8-13)

Die probleem met die wet is dat die sonde – ironies genoeg – deur die wet ‘n vastrapplek in ons kry. Trouens, weens ons uitermatige sondigheid, wek die wet allerlei begeertes in ons op, iets wat nie sou gebeur het, as ons sonder die wet sou gewees het nie.

Die sonde mislei ons verder op gruwelike wyse deur die ware aard van die sonde vir ons te verberg, dws dat dit die dood vir ons beteken.

Paulus hanteer dan die vraag of dit wat goed is, die wet, dan vir hom die dood gebring het. Want, dit is hoe mense daaroor kon dink. Weereens antwoord hy: “Hoegenaamd nie!”

Want, die wet was nodig om hom van sonde te oortuig, en is daarom dus goed, regverdig en heilig.

Die wet is goed, maar dit kan nie van die sonde red nie (7:14-25)

Maar, die wet het ‘n eksterne probleem, deurdat die wet op sigself niemand van die sonde kan red nie. Dit wet self is dus goed, maar die mens se sondigheid beperk die wet se effektiwiteit tot openbaarmaking van die sonde, maar nie ‘n instrument van verlossing nie.

Hoekom? Want, sê Paulus baie persoonlik: “ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde.” Hy verstaan sy eie optrede nie. Wat hy wil, doen hy nie; maar juis wat hy haat, dit doen hy.

As die wet hom dus van sy sonde oortuig, erken hy dat dit goed is. Dit is presies wat die wet moet doen, en hy het nodig om dit te hoor, soos elkeen van ons.

Maar, dit is nie die punt van verlossing vir hom nie. Dit wys hom net wat fout is in hom, soos ‘n streng onderwyser (‘n “tugmeester” soos Calvyn gesê het), sodat hy sy toevlug kan neem tot die verlossing wat net Christus kan gee.

Die rede vir dié toedrag van sake is dat daar niks goeds in hom as mens woon nie. Hy kan hom verbly oor die wet van God, maar daar is ‘n ander wet, die wet van die sonde, wat in sy ledemate oorlog voer met die wet van God, en hom dwing om sy ellende voor die Here uit te roep:

“Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan?”

En Paulus antwoord dadelik:

“Aan God die dank – deur Jesus Christus, ons Here!”

Dit is waar sy redding lê, in Christus!

Hy sluit af met ‘n slotsom wat ook die volgende hoofstuk se tema inlei:

“So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.”

Hy het die Gees van Christus nodig om vir hom oorwinning te gee oor sy sondige natuur. Saam met die oortuiging van sonde wat deur die Gees kom (vgl Joh 16:8), gee die Gees immers ook die vermoë om die sonde af te lê.

Die Gees word dus die agent van verandering. Die wet kon nooit daarin slaag om verandering te bring nie, weens ons sondige aard. Maar die Gees sal slaag omdat Hy die sonde binne in ons kom oorwin. Hy verander ons dus van binne, teenoor die wet wat net van buite af kan werk.

Boodskap en betekenis

Romeine 7 verken die funksies van die wet, maar beklemtoon steeds dat gelowiges deur Christus vrygemaak is van die wet se heerskappy. Paulus verduidelik dat die wet nie sonde is nie, maar slegs openbaar wat sonde is en trouens wys hoe uitermate sondig die mens se sondige natuur is. Die wet, hoewel goed, kan dus nie van sonde red nie, aangesien die sondige aard van die mens dit dwarsboom. Paulus beskryf die innerlike stryd tussen die begeerte om God se wet te gehoorsaam en die mag van sonde wat in sy sondige natuur werk. Hierdie stryd lei hom tot die erkenning dat verlossing slegs deur Jesus Christus moontlik is. Die wet kan mense bewus maak van hulle nood vir verlossing, maar uiteindelik is dit slegs die genade van Christus deur die geloof wat ware vryheid en oorwinning oor sonde bring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda