Skip to main content

Handelinge 21:37-22:29

Paulus verkondig die evangelie aan die Jode in Jerusalem

Die kwade bedoelings van die Jode uit Asië en die offisier, Claudius Lisias (Hand. 23:26), se oorhaastige optrede om Paulus in hegtenis te neem, loop uit op ‘n geleentheid vir Paulus om die volk toe te spreek en sy getuienis aan hulle in Jerusalem te lewer. Op ’n kragtige wyse skilder hy hier vir hulle die werklikheid van God se ingrype in sy lewe. Let op hoe hy van ’n werklike teenwoordigheid van Jesus self praat wat op ’n verskeidenheid wyses in sy lewe ervaar word. Hulle wil egter nie daarna luister nie, en dit sit die volgende fase aan die gang, dat hy voor die Joodse Raad gebring word.

Teks en konteks

Let op hoe Paulus teenwoordigheid van gees behou en besef dat hierdie ‘n gulde geleentheid is om die volk toe te spreek. Sy gesprek met die chiliarg (owerste oor ‘n duisend soldate), Claudius Lisias (Hand. 23:26), stel die gebeure in konteks en lei tot sy getuienis aan die volk in Jerusalem.

Paulus sluit in sy toespraak aan by sy Joodse geskiedenis en grootword jare juis in Jerusalem waar hy opgevoed is aan die voete van Gamaliël, een van die bekendste rabbi’s van daardie tyd. Ons het hom vroeër ook aangetref waar hy die Joodse raad tot bedaring gebring het in die vroeëre saak teen Petrus en Johannes net ná die genesing van die verlamde man by die tempel (vgl. Hand. 5:34).

Paulus skets vir die Joodse volk sy getrouheid aan die wet wat gelei het tot sy vervolging van die volgelinge van “die Weg”, soos al die leiers van kan getuig. “Die Weg” is hoe Paulus letterlik in die Grieks daarna verwys, soos ook op ander plekke in Handelinge. Dit is ‘n baie belangrike verwysing na die nuwe pad wat die Here Jesus vir sy volgelinge aangewys het:

  • Paulus het juis aanvanklik die mense van “die Weg” vervolg (Hand. 9:2);
  • Die slawemeisie i Filippi het van “die Weg van verlossing” gepraat (Hand. 16:17);
  • Apollos is in Efese beter in “die Weg van die Here” en ”die Weg van God” onderrig (Hand. 18:25, 26);
  • Die Jode in Efese het kwaadgespreek van “die Weg” sodat daar uiteindelik ‘n opskudding oor “die Weg” ontstaan het (Hand. 19:9, 23);
  • Paulus sal later oor “die Weg” met Feliks praat (Hand. 24:14, 22)

Dan getuig Paulus van die verandering wat gekom het toe die Here Jesus Hom ontmoet het op die pa na Damaskus om die mense van “die Weg” te vervolg en sy lewe radikaal verander het om in sy diens juis die wêreld in te gaan met die boodskap van die evangelie van die Here Jesus Christus.

Hy fokus ook spesifiek op die boodskap wat Ananias vir hom in Damaskus gebring het. Let op hoe hy uitwei oor hom as ‘n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners van Damaskus goeie getuienis gelewer het. Ananias het dus onberispelik as ‘n Jood gelewe, maar uiteraard ook as ‘n volgeling van Jesus.

Dit is juis hierdie gelowiges Jood, Ananias, wat na Paulus gekom het sodat hy nie net weer fisies kon sien nie, maar ook geestelike oë sou kry, want: “Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, want jy sal voor alle mense vir Hom ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.”

Ananias het hom aangemoedig om die doop tot afwassing van sondes te ontvang met sy belydenis van die Here Jesus as sy Here.

Paulus fokus vervolgens op sy terugkeer na Jerusalem (drie jaar later – Hand. 9:26 vv.; Gal. 1:17-18) waar hy in geestesvervoering die Here Jesus self gesien het. Die Here Jesus self het hom aangesê om Jerusalem te verlaat om twee redes. Die eerste was dat die Jode nie sy getuienis oor Hom sou aanvaar nie (vgl. die teenstand van die Griekssprekende Jode daardie tyd – Hand. 9:29). Die ander rede was dat die Here hom na die heidene toe wou stuur.

Paulus het ingestem daarmee, uiteraard omdat die Here se opdrag was, maar ook omdat hy geweet het dat daar ook vrae in Christelike geledere oor hom was weens sy rol in Stefanus se dood en sy verbete vervolging van gelowiges.

Voordat Paulus egter oor sy bediening die afgelope min of meer twintig jaar kon uitwy, het die Jode in opstand gekom en moes die chiliarg, Claudius Lisias, hom verwyder na hulle kwartiere en wou hom daar deur geseling verder ondervra om die opstand te kon verstaan.

Gelukkig behou Paulus weereens teenwoordigheid van gees en vra die centurio (offisier oor honderd soldate) wat hom uitgestrek het vir die drag slae, of dit geoorloof is om ‘n Romeinse burger sonder verhoor te gesel. Paulus se pa was ‘n Romeinse burger – hoewel ons nie weet hoe hy die burgerskap verkry het nie – en dus self op beter behandeling geregtig.

Die status het Paulus dus die vernedering en pyn van die geseling gespaar en tot beter behandeling gelei.

Boodskap en betekenis

Paulus se getuienis in Jerusalem fokus op hoe die Here Jesus sy lewe radikaal verander het — van vervolger tot verkondiger van “die Weg”. Al word hy deur die Jode vals beskuldig en hardhandig deur die Romeine behandel, behou Paulus sy kalmte en sien hy die situasie as ’n geleentheid om die evangelie te verkondig.

Hy gebruik in die proses drie dinge om ‘n brug te bou na die Jode toe.

  1. Hy lê klem op die twee persoonlike verskynings van Jesus aan homself.
  2. Hy lê klem op die rol wat Ananias as ’n getroue Jood én volgeling van Christus in sy lewe gespeel het.
  3. Hy wys op die roeping wat die Here hom gegee het om die evangelie vernaamlik aan heidene te bring (dit is immers wat die Here al aan Abraham belowe het, dat hy tot ‘n seën van die nasies sal wees).

Maar, Paulus word met vyandigheid en vervolging begroet. Die Here gryp egter in en beskerm hom, hierdie keer deur sy Romeinse burgerskap, en open so die pad vir sy getuienis verder, uiteindelik tot in Rome.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar