Skip to main content

Ekskursie – geweld in die OT

Die boek Numeri begin al hoe meer verhale van geweld vertel.  Ons sien dit alreeds in beginsel in die sensus van Numeri 1-2 waar die eerste generasie in leërafdelings opgestel word.  Hulle word ook mettertyd ingespan in oorloë teen die Kanaäniete (Num. 21:1-3), die Amoriete (Num. 21:21-32), en koning Og van Basan, soos dit in die “Boek van die Oorloë” van die Here beskrywe is (Num. 21:14).

Dieselfde geld die sensus van mans uit die tweede generasie wat vir militêre diens geskik is in Numeri 26.  Hulle word ook redelik gou ingespan in ‘n wraakoorlog teen die Midianiete (Num. 31).  Al twaalf stamme word ook ingespan in die beplanning vir die gewapende stryd van die Intog wat in Josua vertel word, selfs al het sommige stamme reeds grondgebied oos van die Jordaan beset (Num. 32).

In Josua en Rigters sal dié verhale van geweld natuurlik nog ‘n groter rol speel in die wel en weë van die volk van God.

Dit is nie maklik, veral uit ‘n moderne hoek gesien, om dié rol van geweld in die voorsiening van die Here te verstaan nie.  Trouens, al die prentjies van God waarin Hy by geweld betrek word en selfs geweld beoefen, is vir baie gelowiges problematies, veral gesien vanuit die openbaring van die Here Jesus as die Dienskneg wat Homself tot in die kruisdood toe aan ons geoffer het.

Hoe kan ’n God van liefde opdrag gee dat ’n nasie soos die Midianiete op gewelddadige wyse uitgewis word?  Hoe kan ’n God van oorvloed toelaat dat Hy as ’n God van oorlog geteken word?

Regdeur die eeue het gelowiges en teoloë hiermee geworstel.  Daar was drie hoof maniere waarop sin van dié ontstellende idees oor God gemaak is; verwerping, versagting en versoening.

VERWERPING

Die versoeking was altyd groot om die verhale van geweld eenvoudig te verwerp as komende van ’n vroeëre en minderwaardige openbaring van God.  Nie almal het so ver gegaan as Marcion in die tweede eeu n.C. nie wat die hele OT verwerp het en net dele van Lukas en die Pauliniese briewe behou het.  Maar baie het soos hy die geweld van die Intogverhale en die hand van God in die oorloë in Israel as negeerbare onchristelike prentjies van God gesien en dit verwerp.

VERSAGTING

Nog ander het besef dat as ’n mens eers van die bladsye van die Bybel begin uitskeur jy later moontlik niks sal oorhou nie. Daarom het hulle bv. gewerk met die idee dat die Bybelse skrywers hulle gedagtes op God geprojekteer het en geweld aan Hom toegeskryf het, al was dit nooit sy bedoeling nie.  God het dié gedagtes van Israel geakkommodeer in sy verhouding met hulle, al het dit Hom verteken, ter wille van sy einddoel om met Jesus sy ware self aan hulle in die kruis van Golgota ten toon te stel.  Só argumenteer Gregory Boyd in sy onlangse boek The Crucifixion of the Warrior God met sy “Reinterpretation Solution“.

Boyd versag dus die beeld van God aansienlik deurdat hy voorstel dat God nie is soos Hy in die OT geteken word nie.  Dit is net die verwronge idees van die skrywers van die OT.

Die probleem met só ’n aanpak van die Bybel is egter dat jy telkens – waar die Here bv. ’n opdrag aan Moses gee met die wraakoorlog teen die Midianiete – dit as ’n projeksie óf van Moses óf van die skrywer van die boek Numeri moet neem.  Dit maak dat jy onseker raak oor die historisiteit en waarheid van die wyse waarop die teks aan ons oorgelewer is. Die versagting van die beeld van God bring jou uiteindelik baie naby aan ’n sumiere verwerping van dié beeld van God en daarmee saam van die getuienis oor Hom en sy betrokkenheid by mense in die Bybel.

Vir gelowiges wat die Bybel ernstig as die Woord van God neem, en wat graag met die hele getuienis van die Skrif wil werk, sonder om met ’n eie “bybel in die Bybel” te werk, is dit dus glad nie so maklik om met die projeksie idee te werk waarin God soort van saamspeel en toelaat dat die Bybelse skrywers hom verkeerd voorstel nie.

Dit beteken in wese dat God die mense in die OT mislei het – soos Boyd toegee dat hy doen onder andere gebaseer op sy aansluiting by Origines, die ketterse teoloog uit die tweede eeu n.C. – en nie sy ware aard aan hulle blootgestel het nie, tewens ’n heeltemal omgekeerde prentjie van Homself goedgekeur het deur dit in die Bybel te laat opneem.  Iets wat regtig nie goed op die oor val nie en in stryd is met die hele idee dat die Skrif deur die Gees geïnspireer is!

VERSOENING

’n Beter manier om met die ongemaklike dele van die Bybel te werk, is na my mening om rekening te hou met vier perspektiewe wat God se betrokkenheid by geweld in die Bybel kan verklaar en met sy openbaring in die NT versoen kan word.  In die gesamentlike krag van dié vier perspektiewe lê die waarheid rondom geweld opgesluit.

  1. Soewereiniteit

God se weë en gedagtes is nie ons s’n nie (Jes. 55:9).  Hy kan maak met sy skepping en skepsels soos Hy wil (Rom. 9:14-24).  Vandaar dat Hy ook geweld kan gebruik in sy heerskappy van alles wat bestaan. Sommige noem dié perspektief die “Mag-is-reg” interpretasie en dink dat ’n mens dit nie sonder meer as verklaring van God se rol in geweld kan gebruik nie.  En ’n mens kan die motivering daaragter verstaan.

’n Mens kan egter ook nie ontken dat dit op baie plekke in die OT en die NT as ’n verklaring vir God se betrokkenheid by geweld aangedui word nie.  Die hele idee van die uitverkiesing, ’n sleutel dogma in die Gereformeerde leer, berus bv. swaar op die idee van God se soewereiniteit.  Hierdie perspektief kan dus God se betrokkenheid by geweld gedeeltelik verklaar.  Daar is egter meer.

  1. Regverdige straf

God sal onregverdig wees as Hy die sonde nie straf nie, anders is Hy ’n medewerker van die sonde (Miroslav Volf, Exclusion and Embrace).  Só word God in die baie belangrike teks in Eksodus 34:6-67 geteken: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.

Ditto Numeri 14:18-19, soos Moses die Here se openbaring van sy identiteit en karakter aanhaal: “Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.

Dit is ’n uiters belangrike manier om oor God te dink, want dit is hoe God regdeur die Bybel geteken word. Dit is ook die basis waarop onreg wat gelowiges in dié lewe ervaar, verdra kan word.  As ’n gelowige kan aanvaar dat God regstelling kan en sal bring, al is dit in die lewe hierna, kan ’n mens wraak aan die Here oorlaat, soos Paulus in Romeine 12 argumenteer: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.  Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.” (Rom. 12:19).

Hierdie is ’n belangrike perspektief op God se betrokkenheid by geweld, selfs in dié gevalle waar Hy dit net toelaat, of waar Hy sy beskermende betrokkenheid terugtrek.

  1. Groter voordeel

God laat geweld baie keer toe omdat Hy dit wil gebruik vir ’n goeie doel.  Hy laat bv. ‘n neerlaag toe in die halfhartige poging van die eerste generasie om die land ná hulle ongehoorsaamheid wel te probeer inneem (Num. 14:44-45).  Dit lei tot die lang trek deur die woestyn wat die tweede generasie gereed gemaak het om uiteindelik wel die land in te neem.

Op ander plekke in die heilsgeskiedenis laat God bv. die ballingskap toe om die volk tot inkeer te bring sodat Hy hulle later weer gelouter kan terugbring in die land wat steeds die land van die belofte bly.  Dit is ’n belangrike perspektief, want dit beteken dat God se oordeel altyd ’n verlossende kant het, soos ’n mens ook in Openbaring agterkom.  God wil mense tot inkeer en nuwe lewe bring, baie keer deur loutering en straf.

God gebruik dus slegte goed, selfs gewelddadige goed, om alles ten goede te laat meewerk, soos Paulus ook in Romeine 8 argumenteer.  Die skepping is aan die verganklikheid onderwerp totdat die tyd van die bekendmaking van God se kinders aanbreek en Hy sal demonstreer hoe alles ten goede meewerk (Rom. 8:18:30).

Dit is ’n belangrike oorhoofse perspektief wat God se betrokkenheid by geweld as ’n verlossende transformasie van die kwaad teken, selfs waar aspekte daarvan uiteraard gewelddadig is.

  1. Progressiewe openbaring

God sluit aan by sy mense se kapasiteit en gereedheid om sy openbaring te kan ontvang.  Met die verloop van die heilsgeskiedenis kon God al hoe meer van sy wil en wese openbaar, totdat die tyd ryp was en Hy sy Seun in sy volheid aan die mensdom kon bekendstel.

Dit is uiteraard ook ’n belangrike perspektief wat waarskynlik die belangrikste rol sal speel in ’n mens se begrip van God se rol by geweld.  Wat Israel alles in die Naam van God gedoen het in hulle gewelddadige optredes kan in elk geval ook nie outomaties aan God se opdragte toegeskryf word nie.  ‘n Mens moet deeglik die werk van God en die werk van mense in die Bybelse weergawe van die verhale onderskei.

Trouens, baie geweld word gepleeg sonder dat God enigsins betrokke is.  Jefta offer sy dogter al kon hy haar losgekoop het op grond van die duidelike voorskrifte van die wet in Levitikus (Rigt. 12; vgl. Lev. 27)!  Hierdie geweld kon voorkom word en kan nie aan die Here toegeskryf word  nie.  Ons kan Hom dus ook nie direk verantwoordelik daarvoor hou nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar