Skip to main content

1 Konings 15:25-16:28

Nadab, Baesa, Ela, Simri, Omri: onbetroubare eiesinnige leiers

Die verhaal van Josafat, koning van Juda, word nou eers onderbreek om aandag te gee aan ses konings van Israel wat tydens sy pa Asa se regeringstyd in die Suidryk mekaar in die Noordryk afgewissel het. Josafat se regeringstyd van 25 jaar strek immers van 873-848 vC. Hy raak dus eers koning in die 2de jaar van die sesde koning van Israel, Agab, se regering.

Die ses konings in Asa se tyd in die Noordryk is soos volg:

  1. Nadab (2 jaar – 909-908 vC)
  2. Baesa (24 jaar – 908-886 vC)
  3. Ela (2 jaar – 886-885 vC)
  4. Simri (7 dae – 885 vC)
  5. Omri (12 jaar – 885-874 vC)
  6. Agab (22 jaar – 874-853 vC)

Ons hanteer die eerste vyf vandag voordat ons die verhaal van Agab gaan lees waarin die profeet Elia op die toneel verskyn.

Teks en konteks

1. Nadab, seun van Jerobeam, was, soos ’n mens nou al verwag, ’n ongehoorsame koning. Sy kortstondige regering (909-908 vC) word beëindig deur Baesa wat in ’n veldtog teen die Filistynse stad Gibbeton vir Nadab om die lewe bring. Dit lei tot ’n familiemoord, waar al die nasate van Jerobeam uitgeroei word, presies soos Agija van Silo voorspel het (dit is ’n ander Agija as Baesa se pa wat ook die naam Agija dra).

Dit bly steeds ’n tyd van storm en drang in die noordelike ryk, wat nie net afgeskeur het van die suide nie, maar ook dreig om onderling uit mekaar te spat. Drie konings volg mekaar hierna op voordat die dinastie van Omri ’n aanvang neem waarin slegs Baesa se koningskap ‘n paar dekades duur. Elkeen van die konings is egter onbetroubare eiesinnige leiers.

2. Baesa word koning in die plek van Nadab (908-886 vC – dit is die derde jaar van Asa se regering), maar vertoorn ook die Here, deur nie die kans wat die Here hom gee met erkenning aan God aan te gryp nie en dieselfde dwase afgodery as Jerobeam te bevorder. Weereens word die oordeel van die Here oor hom en sy hele huis uitgespreek, dié keer deur Jehu, seun van Ganani, waarvan ons nie veel af weet nie, behalwe dat hy blykbaar ook ’n skrywer was (2 Kron 20:34). Die enigste positiewe kommentaar oor Baesa was dat hy dapper was.

Baesa se verhaal belig ’n interessante feit, dat ’n mens die Here se wil kan uitvoer – in sy geval, om die huis van Jerobeam uit te wis – maar dit kan doen ter wille van jouself of om jou eie redes, en dan juis daarvoor gestraf te word. Baesa word dus geteken as ’n eiesinnige rebel en nie ’n gehoorsame dienaar nie.

3. Ela, sy seun, word na hom koning, maar regeer net 2 jaar (886-885 vC) voordat een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwa-mag, teen hom saamsweer. Ela klink na ’n dronklap koning en word op sy beurt in sy paleis vermoor.

4. Simri volg Ela op maar regeer net 7 dae lank voor hy deur Omri, die hoof van die leër, om die lewe gebring word (885 vC).

5. Omri volg Ela op, maar dit is opmerklik dat, anders as met die ander konings tot dusver in Israel, dit die volk is wat Omri tot koning uitroep (885-874 vC). Dit is baie betekenisvol in die lig van die latere vereniging van die noordelike volk, hoewel die Konings skrywers nie baie van hom as koning dink nie, weens sy afgodediens.

Hoewel daar hierna egter nog steeds verdeeldheid heers, word die aanhang van Omri al hoe sterker en het hy uiteindelik na die dood van sy hoofteenstander, Tibni, koning oor die hele Israel geword.

Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom hierna opvolg as koning van Israel. Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne saam met Agab vermeld word. Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is. Die Assiriërs verwys bv ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar Omri loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart. Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Boodskap en betekenis

Dit is interessant om in hierdie geskiedenis van die konings die al hoe groter rol van profete wat die konings aanspreek op te merk. Agija en die onbekende profeet in Jerobeam se tyd in Israel; Asarja, Ganani, en sy seun, Jehu, in Asa se tyd van Juda, speel ‘n belangrike rol om die konings tot orde te roep en die wil van die Here aan hulle te verkondig wat dan ook deur die Here bewaarheid is soos hulle dit gebring het.

Dit dek die tafel vir die meer uitgebreide verhaal van Elia wat in die volgende hoofstukke vir ons voorgehou sal word in sy interaksie nie net met die konings nie, maar ook met God self. Dit gee ons ‘n blik agter die skerms om dié Een raak te sien wat alles in sy hand hou en na sy wil en wens bestuur, die Here self.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar